Breaking News

Mazda stel CX-30 in Suid-Afrika bekend

Mazda Suid-Afrika het pas sy jongste sportnuts-voertuig, die CX-30, wat by die Geneefse Motorskou in 2019 onthul is en sedert April 2019 internasionaal beskikbaar is, in Suid-Afrika bekendgestel.

Hierdie nuweling vul die gaping tussen die CX-3 en die CX-5 en is die tweede model van Mazda se nuwe geslag voertuie wat hier bekendgestel word.  Die CX-30 kombineer die stilerings-kenmerke van ‘n sportnuts-voertuig met dié van ‘n koepee en sy stilering is ‘n uitvloeisel  van Mazda se KODO-ontwerpfilosofie. Daarby voldoen sy ruim en veelsydige kajuit aan die vereistes van voornemende kopers in hierdie marksgement.

Die reeks bestaan uit drie modelle, wat elk aangedryf word deur dieselfde tweeliter-enjin met SKYACTIV-G-tegnoolgie wat brandstof-doeltreffendheid verhoog. Hierdie enjin, wat aan ‘n outomatiese sesgangratkas gekoppel word, lewer 121 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 213 Nm teen 4 000 opm. 

Die intreemodel is die Active, wat toegerus word met kenmerke soos ‘n uitleespaneel tussen die voorruit en die instrumente-paneel, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ligdiode-kopligte, ‘n MZD Connect-inligting-en-vermaakstelsel met ses luidsprekers, Bluetooth-verbinding, Android Auto en Apple Car Play-verbinding  en ‘n USB-kragpunt, outomatiese kopligte en ruitveërs, buitespieëls wat  elektries ingevou kan word, spoedbeheer, ‘n stuurwiel en ratkieserknop wat met leer oorgetrek is, ‘n elektroniese parkeerrem, handbeheerde lugversorging en voorste-, kant-, knie- en gordynlugsakke. Die inligting-en-vermaakstelsel word beheer deur ‘n beheerknop op die middelkonsole; volgens die vervaardigers is dit veiliger as ‘n raakskerm.

Die Dynamic is die middelste model en word toegerus met dubbelsone-klimaatbeheer met luguitlate vir agterste insittendes, agterste parkeer-sensors en ratspane.

Die vlagskip van die reeks is die Individual, met bykomende kenmerke soos ‘n trukamera, ‘n BOSE-klankstelsel met 12 luidsprekers, 18-duim allooiwiele, ‘n raamlose binnetruspieël wat self domp, leerbekleedsel  en elektriese sitplekke met tien verstellings, lendesteun en ‘n geheuefunksie. Geïntegreerde satellietnavigasie is teen ekstra koste vir alle modelle beskikbaar.

Sedert sy bekendstelling het die CX-30 verskeie toekennings gewen, onder meer die Motor-van-die-Jaar-toekenning in Thailand, die 2020 Red Dot-ontwerptoekenning en die Ontwerptrofee in die kategorie vir sportnuts-voertuie in Duitsland. Daarby het hy volpunte in die Euro-NCAP-toetsprogram verdien.

Die pryse van die CX-30-reeks sluit die Mazda Care-program, wat bestaan uit ‘n waarborg en diensplan van drie jaar ongeag die motor se kilometer-afstand, padbystand van drie jaar en ‘n waarborg teen korrosie.

Mazda CX -30 2,0 Active: R 469 000
Mazda CX-30 2,0 Dynamic: R 499 900
Mazda CX-30 2,0 Individual: R 540 000

%d bloggers like this: