Renault se nuwe blitsbuks is hier

Sedert die bekendstelling van die vierde geslag van Renault se Mégane-reeks in 2017 het geesdriftiges uitgesien na die toevoeging van die hoë verrigtingsmodel van die reeks, die RS (Renault Sport). Die goeie nuus is dat dié model, wat in twee weergawes beskikbaar sal wees, in September 2018 op die Suid-Afrikaanse mark gaan kom.

Die nuwe RS se internasionale bekendstelling het in September 2017 tydens die Frankfurt-motorskou plaasgevind en het saamgeval met die veertigste herdenking van Renault se toetrede tot Formule 1, toe hy die eerste vervaardiger geword het wat ‘n turbo-aangejaagde enjin aangewend het.

Die eerste Mégane is in 1995 oorsee bekendgestel, en in 1997 in Suid-Afrika, die tweede een in 2003 in Suid-Afrika en die derde een in 2010. Die tweede een was Motor van die Jaar nadat hy bekendgestel is. Die eerste geslag Mégane het nie ‘n RS-weergawe aangebied nie, maar met die bekendstelling van die tweede geslag het geesdriftiges van blitsbukse vir die eerste keer met die Mégane RS kennis gemaak. Die tweede Mégane RS, wat in 2009 bekendgestel is, het ‘n ware legende geword en is nou in sy derde weergawe beskikbaar.

Die belangrikste nuwe kenmerk op die nuwe Mégane RS is vierwielstuur, bekend as 4 CONTROL, wat die motor se hantering op die renbaan en op die pad aansienlik verbeter. Volgens Patrice Ratti, die besturende direkteur van Renault Sport Cars, is dit die verwesenliking van ‘n droom vir elkeen wat op soek is na ratsheid en stabiliteit en volgens hom is dit ‘n groot tekortkoming dat vierwielstuur in Formule 1 verbode is. Die Mégane RS is die enigste motor in sy marksegment wat met vierwielstuur toegerus is.

Die nuwe Mégane RS is meer sportief as sy stalmaats in die Mégane-reeks gestileer; met modderskerms wat onderskeidelik 60 en 45mm breër voor en agter as dié van die Mégane GT is, asook ‘n keuse van allooiwiele in agttien en negentien duim. Dit gee die RS ‘n uiters aggressiewe voorkoms. Daar is ‘n breë luguitlaat wat geïnspireer is deur die maatskappy se betrokkenheid by Formule 1. Die donkergrys afwerking kontrasteer met die kleur van die motor se bakwerk. Bokant die luguitlaat is ‘n heuningkoek-sierrooster met die Renault-kenteken. Die luguitlate wat in die voorste modderskerms gemonteer is, sorg vir optimale lugvoei deur die wielboë. Die agterste stamper bevat ‘n groot lugverdeler en ‘n uitlaatpyp wat in die middel gemonteer is.  Daar is twee nuwe bakkleure wat uitsluitlik vir die Mégane RS beskikbaar is, naamlik oranje en geel.

Aan die binnekant is daar sportsitplekke wat in Alcantara afgewerk is en met rooi stikwerk spog. Die sportstuurwiel het ook ‘n rooi strepie aan die bokant wat aandui wanneer die motor se wiele heeltemal reguit is en die instrumentepaneel kan volgens behoefte aangepas word. Daarby is ‘n sleutellose toegang met die unieke kenmerk wat die motor outomaties sluit wanneer die bestuurder wegloop, outomatiese kopligte en ruitveërs, ‘n raakskerm met Bluetooth-verbinding, satellietnavigasie en stembeheer en outomatiese kopligte en ruitveërs standaardtoerusting

Die Mégane RS is beskikbaar met ‘n nuwe turbo-aangejaagde enjin van 1,8 liter en ‘n keuse van twee ratkaste. Dié enjin lewer 205 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 390 Nm teen tussen 2 400 en 4 800 opm. Dit beteken dat die Mégane RS een van die motors met die beste wringkragsyfer in sy klas is. Die Twin Scroll turbo-aanjaer wat reeds op die vorige Mégane RS gebruik is, is verder ontwikkel vir die nuwe model om wringkrag teen lae toere te verbeter. Die toevoer van vars lug na die enjin is verbeter met die toevoeging van ‘n tweede luguitlaat en ‘n groter filterelement. Daar is twee modelle beskikbaar, naamlik die RS Cup, met ‘n sesgang-handratkas en die RS Lux, wat ‘n ratkas met ‘n elektroniese dubbele koppelaar (EDC) met ratspane agter die stuurwiel as standaardtoerusting het. Die ratwisseling van laasgenoemde model is glad en daar is geen sprake van rukkerigheid nie. Wanneer daar in handratmodus gerem word, kan die bestuurder ‘n aantal ratte oorslaan deur die linkerkantste ratspaan in te hou, terwyl daar deur ‘n raai gery word. Daar is ook wegtrekbeheer, wat maak dat die motor soos ‘n renmotor vanuit ‘n stilstaande posisie kan wegtrek.

Benewens 4 CONTROL is die nuwe Mégane RS ook toegerus met RS Vision, wat oorspronklik in die nuwe Clio RS bekendgestel is. Geenvan Mégane RS se kompeteerders is sy klas is met iets soortgelyks soos RS Vision toegerus nie. Dit is ‘n LED-ligstelsel wat van veelvuldige weerkaatsers gebruik maak; dit lyk soos geruite vlae en word aan die onderkant van die voorste stamper, binne-in die luguitlaat, aangebring. Dit komplementeer die C-vormige LED-kopligte, wat ook die voorste flikkerligte bevat.

Die Multi Sense-stelsel stel die bestuurder in staat om sy of haar bestuurservaring na gelang van behoefte aan te pas. Daar is vyf verstellings, naamlik Normal vir alledaagse gebruik, Comfort, vir verhoogde brandstofdoeltreffendheid, Sport, wat enjingeraas verhoog, die stuurstelsel stywer maak en die elektroniese stabiliteitsbeheer se werking vertraag, Race, wat die stabiliteitsbeheer deaktiveer en Perso, wat die bestuurder in staat stel om elke verstelling presies na sy keuse in te stel. Die verskillende modusse kan met behulp van die raakskerm ingestel word, en daar is ‘n RS Drive-knoppie vir die Race en Sport-modusse.

Die bekendstelling van die RS val ook saam met die hersiening van die Mégane-reeks as ‘n geheel. Renault het ‘n behoefte vir ‘n intreemodel raakgesien en die 1,6 Expression, met ‘n enjin sonder ‘n turbo-aanjaer, bekendgestel. Hierdie enjin lewer 84 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 156 Nm teen 4 000 opm.

Die ander model in die Mégane-reeks is die Dynamique, met die keuse van ‘n hand- of EDC-ratkas en ‘n turboaangejaagde enjin van 1,2 liter. Volgens die Renault SA lewer hierdie enjin dieselfde werkverrigting as ‘n tweeliter-enjin sonder ‘n turbo, maar met laer brandstofverbruik. Hierdie enjin lewer 97 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 205 Nm teen 2 000 opm. Die handratmodel se brandstofverbruik is 5,3 liter per 100 km en dié van die EDC-model is 5,4.

Daar is verskeie opsies vir die Mégane-reeks beskikbaar, onder meer leerbekleedsel teen R 10 088, metaalverf teen R 2 522 en, vir die RS, spesiale metaalverf teen R 10 088 en negentienduim-allooiwiele vir die RS Lux teen R 8 070. Hierdie wiele is standaardtoerusting vir die RS Cup-model.

Soos met die res van Renault se reeks word die Mégane gerugsteun deur ‘n waarborg van vyf jaar of 150 000km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km. Dienstussenposes vir die Expression en die Dynamique is elke 15 000km en elke 10 000 km vir die RS-modelle.

Die hele reeks, behalwe die RS Lux, word teen die middel van September bekendgestel; die RS Lux sal in November beskikbaar wees.

Die pryse van die nuwe Mégane-reeks lyk soos volg:

1,6 Expression: R 274 900
97 kW Turbo Dynamique-handrat: R 314 900
97 kW Turbo Dynamique EDC: R 344 900
RS Lux EDC Lux; R 549 900
RS Cup: R 549 900

 

 

%d bloggers like this: