Nadat die nuutste weergawe van Mercedes-Benz se legendariese veldryer, die Geländewagen, onlangs bekendgestel is, is die vlagskip van die reeks, die Mercedes-AMG G 63 ook nou by die reeks gevoeg.

Anders as wat die naam aandui, is hierdie nuweling toegerus met ‘n 4 liter V8-enjin met dubbele turbo-aanjaers. Hierdie enjin het ‘n kraglewering van 430 kW teen 5 500 opm en ‘n wringkrag van 850 Nm teen tussen 2 500 en 3 500 opm. Om die voertuig meer brandstofdoeltreffend te maak, het Mercedes- AMG ‘n silinder-deaktiveringstelsel ontwikkel wat die eienaar in staat stel om die tweede, derde, vyfde en agtste silinder te deaktiveer. Dit verbeter brandstofverbruik aansienlik en maak dat ‘n gekombineerde syfer van 13 liter per 100 km moontlik is. Dié enjin word gebruik saam met die AMG Speedshift TCT 9G-ratkas met nege gange. Die verskeidenheid ratverhoudings asook die keuse van ‘n Sport- of Sport +-opsie, maak dat ‘n meer genotvolle bestuurservaring moontlik is. In alle opsies trek die G 63 in eerste rat weg om dinamiese versnelling van die begin af te verseker. Die hoofratkieser is ook nou ‘n hefboom aan die stuurkolom terwyl die handrat-modus deur middel van ‘n aparte skakelaar gekies kan word. Daar is spane agter die stuurwiel waarmee daar ratte gewissel kan word en die ratkas bly in die gekose rat wanneer die enjinsnelheid sy maksimum bereik sonder om na ‘n volgende rat oor te skakel. Vir die eerste keer kan die bestuurder een van vyf verskillende bestuursopsies kies, naamlik Slippery, Comfort, Sport, Sport + en Individual, terwyl nóg drie, naamlik Sand, Trail en Rock vir veldrytoestande gekies kan word. Toegang word verkry deur ‘n skakelaar in die middelkonsole waarmee die ewenaar gesluit kan word, waarna een van hierdie drie opsies deur middel van die Dynamic Select-skakelaar gekies kan word.

Die G-klas het ‘n unieke voorkoms, met onder meer ‘n hoekige silhoeët, voorste rigtingwysers op die enjinkap, eksterne deurskaniere, ronde kopligte, robuuste deurhandvatsels en breë skermstroke, met die AMG-embleem. Die G 63 se sierrooster is spesifiek vir AMG ontwerp, terwyl die kopligte, rigtingwysers en agterligte oor LED-tegnologie beskik. Aangesien die G 63 ‘n Mercedes-AMG is, kan ‘n mens die hoogste standaarde in aktiewe- en passiewe veiligheid verwag. Die bestuurder word gewaarsku wanneer hy of sy per abuis op die oop pad van baan verwissel en inligting soos snelheidsbeperkings en padtekens word deur middel van die navigasiestelsel gegee. Daar is ook twee bykomende lugsakke in die A-pilaar en ‘n knielugsak.

Die AMG kan van sy G-Klasstalmaats onderskei word deur middel van allooiwiele van tot 22 duim wat vir die eerste keeer beskikbaar is, V8 Biturbo-kentekens op die voorste modderskerms, kanttrappies, unieke metaalkleure en rooi remknypers. Die binnekant is splinternuut, en ‘n nuwe instrumentepaneel en inligting-en-vermaakstelsel oorheers die voorpaneel. Die instrumentepaneel het drie verstellings om by die bestuurder se behoeftes aan te pas, naamlik Classic, Sporty en Progressive. Dieselfde tipe beligting as dié waarmee die S-klas toegerus word, is standaardtoerusting. Die COMAND Online-inligting-en-vermaakstelsel beskik oor Bluetooth- verbinding, Apple Car Play en Android Auto, satellietnavigasie, en die vermoë om musiek op een van verskeie maniere, soos ‘n USB-stokkie of ‘n SD-kaart terug te speel. Dit is ook vir alle insittendes moontlik om met die internet te verbind deur middel van skoot-of tabletrekenaars te gebruik.

Die Mercedes-AMG G 63 kos R 2 591 000.

%d bloggers like this: