Mercedes-AMG se 35-reeks is hier

0 Comments

Mercedes-AMG het pas drie nuwe intreemodelle, die A 35 4MATIC luikrug en sedan, en die CLA 35 4 MATIC, in Suid-Afrika bekendgestel.

Aangesien die 35-modelle se ontwikkeling met die van die A-klas saamgeval het, was dit moontlik om die AMG – DNS van die begin af in die 35-modelle in te bou. Die 35-reeks is daarop gemik om ‘n breër spektrum kopers aan die AMG-naam bloot te stel , en die produkreeks nog verder uit te brei.

Die drie 35-modelle word toegerus met dieselfde turbo-aangejaagde twee-liter enjin met vier silinders; hierdie enjin lewer 225 kW teen tussen 5 800 en 6 100 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 3 000 en 4 000 opm en word gekoppel aan ‘n AMG SPEEDSHIFT-dubbel-koppelaar-ratkas met sewe gange. Mercedes-Benz se 4 MATIC-vierwiel-aandrywing stelsel is standaard toerusting op al drie modelle. Die luikrug, sedan en GLA kan onderskeidelik binne 4,7, 4,8 en 4,9 sekondes van 0 tot 100 k/h versnel en al drie modelle se topsnelhede is tot 250 km/h beperk. Daar is vyf bestuurs-modusse om van te kies, naamlik Slippery, Comfort, Sport, Sport+ en Individual; dit stel die bestuurder in staat om die reaksie van die enjin en die ratkas vir verskillende omstandighede aan te pas. Die enjin klank wissel ook na gelang van die modus wat gekies word.  Die vierwiel-aandrywing maak ook dat daar altyd genoeg vastrapvermoë is, selfs wanneer pad-toestande moeilik of gevaarlik raak en sorg vir heelwat bestuursgenot. Die remstelsel is vir hoë werkverrigting ontwerp ; die remskywe is intern geventileer en geperforeer  om hitte te versprei en remverswakking heeltemal uit te skakel, selfs onder uiters moeilike omstandighede. 

Vir diegene wat renjaer wil speel, is AMG TRACK PACE teen ekstra koste beskikbaar. Dit is deel van die MBUX-inligting-en-vermaakstelsel en hou permanent rekord van meer as tagtig voertuig-spesifieke datapunte. Nadat die bestuurder ‘n aantal rondtes om ‘n baan gejaag het, kan die data ontleed word en enige nodige verbetering in besstuurs-vernuf kan aangebring word. Die MBUX-stelsel werk, soos op die res van die Mercedes-Benz-reeks met stembeheer en reageer op die woorde “Hey Mercedes.” Die volle digitale instrumente-paneel kan op een van drie maniere verstel word na gelang van behoefte en die nuwe AMG-stuurwiel bevat kontroles waarmee hierdie verstellings gemaak kan word. Die inligting-en-vermaakstelsel kan ook hiermee beheer word. 

Die pryse, wat Mercedes-Benz se Premium Drive-onderhoudsplan en waarborg van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk soos volg:

 

Mercedes-AMG A 35 4-MATIC luikrug: R 841 000

Mercedes-AMG A 35 4-MATIC sedan: R 850 000

Mercedes-AMG GLA 35 4-MATIC: R 948 000

Categories:
%d bloggers like this: