Mercedes-AMG se 53-modelle is hier

0 Comments

Mercedes-Benz se AMG-afdeling, wat amptelik as Mercedes-AMG-bekendstaan, het pas drie nuwe modelle tot sy reeks toegevoeg.

Die CLS, E-klas-koepee en E-klas-afslaankap is ook nou in AMG 53-modelle beskikbaar.  Die uitstaande kenmerk van die turbo aangejaagde ses-silinder enjin van drie liter waarmee hierdie modelle toegerus is, is die ligte hibriede-stelsel wat deel daarvan is.  Die enjin se krag word gelewer deur ‘n kombinasie van ‘n uitlaat-aangedrewe turbo-aanjaer en ‘n elektriese aanvullende kompressor. Die EQ Boost-aanvangs generator lewer tydelik bykomende krag en wringkrag en dryf die aanboord- elektriese stelsel van 48 volt aan.

Die enjin lewer 320 kW en wringkrag van 520 Nm terwyl die EQ Boost-aanvangs generator ‘n bykomende 16 kW en 250 Nm tydelik beskikbaar stel.  Dit kombineer ‘n alternator en ‘n aansitter in een kragtige elektriese motor wat tussen die enjin en die ratkas geleë is. Met behulp van EQ Boost kan die aanvullende kompressor hoë druk sonder enige vertraging opbou. Dit beteken dat die wrinkgrag wat vir versnelling beskikbaar is, vinniger toeneem, totdat die turbo-aanjaer inskop.  Die enjin reageer vining en sorg vir uiters dinamiese reaksie sonder traagheid. Nog ‘n voordeel is die gladde werking van die enjin.

Die EQ Boost-stelsel en intelligente turbo-aanjaer het dieselfde oogmerk; om die werkverrigting waarvoor AMG bekend is, ‘n groot hupstoot te gee maar terselfdetyd brandstof-doeltreffendheid te verbeter en besoedeling so ver moontlik te beperk. Die AMG CLS 53 4 Matic+ versnel in 4,5 sekondes van 0 tot 100 km/h; die syfers vir die E-klas koepee en afslaankap is onderskeidelik 4,4 en 4,5 sekondes.  Al drie modelle kan ‘n topsnelheid van 270 km/h behaal.

Al die modelle word toegerus met Mercedes-Benz se 4 Matic-aandrywing-stelsel, met ten volle afwisselbare verspreiding van wringkrag tussen die voor- en agterwiele om die beste moontlike vastrap-vermoë en stabiliteit te verseker, ongeag die padtoestande. Die oorskakeling heen en weer tussen agter- en vierwiel-aandrywing vind gedurig plaas na gelang van omstandighede .

Nog ‘n standaard kenmerk vir al die modelle is die nuwe AMG Speedshift TCT 9G-outomatiese ratkas met nege gange.  Dit reageer baie vining op opdragte van die ratspane wat agter die stuurwiel gemonteer is, en sorg vir kort ratwisseltye. Ongeag die keuse van die handrat- of outomatiese funksie vind skakeling na ‘n hoër of laer rat onmiddellik plaas.

Die hele reeks kan opsioneel toegerus word met die Energizing-geriefs beheer-stelsel wat verskeie gerief-stelsels in  die motor aan mekaar koppel en spesifieke funksies van die klimaat-beheer, sitplekke, stuurwiel-verhitting, asook beligting en musiek gebruik om die gemaklikste moontlike atmosfeer vir die bestuurder te skep na gelang van sy of haar gemoeds-toestand of behoefte.  Hierdie kenmerk is veral nuttig vir langer afstande.

Die binneruim bevat ‘n aantal kenmerke wat net op AMG-modelle voorkom; asook ‘n omvattende lys opsionele ekstras waaruit voornemende kopers kan kies. Een daarvan is die breëskerm-stuurkajuit met virtuele meters wat as instrumente paneel dien, tesame met ‘n sentrale vertoon paneel bokant die middel-konsole.  Die digitale stuur-kajuit kan volgens die bestuurder se behoeftes aangepas word; daar is drie verstellings om van te kies.

Daar is vyf  Dynamic Select-bestuurs-modusse wat die bestuurder in staat stel om die motor se karakter-eienskappe volgens behoefte of omstandighede aan te pas. Dit verander belangrike kenmerke soos die reaksie van die versneller, die veerstelsel en die stuur-stelsel.  Die bestuurder kan toegang tot die ratkas se handrat funksie kry deur die M-knoppie te druk; wanneer dit gebeur, kan net die ratspane gebruik word.

Die pryse van die AMG 53-reeks, wat ‘n Premium Drive-onderhouds plan van ses jaar of 100 000 km insluit, lyk soos volg:

Mercedes-AMG E 53 4 Matic+- koepee: R 1 311 700

Mercedes-AMG E 53 4 Matic+-afslaankap: R 1 430 600

Mercedes-AMG CLS 53 4 Matic+- R 1 491 600

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: