Mercedes-AMG stel kragtigste viersilinders nóg bekend

0 Comments

Mercedes-AMG het pas die kragtigste vier-silinder motors tot nog toe in Suid-Afrika bekendgestel.

Die A 45 S  4-MATIC en CLA 45 S 4-MATIC is ontwerp met die doel om nuwe standaarde in hul marksegment te stel, en om ‘n ongeëwenaarde bestuurs-ervaring te bied. Die turbo-aangejaagde twee-liter enjin in albei modelle lewer 310 kW teen 6 750 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 5 000 en 5 250 opm. Hiedie enjin word gekoppel aan ‘n AMG SPEEDSHIFT DCT 8G-dubbel-koppelaar-ratkas. Die topsnelheid van albei modelle word tot 270 km/h beperk; die A 45 en CLA 45 kan in onderskeidelik 3,9 en 4,0 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. 

Volgens Selwyn Govender, die bemarkings-direkteur van Mercedes-Benz Cars Suid-Afrika, is Suid-Afrika die derde grootste mark vir AMG ter wêreld; hy beskou hierdie twee modelle as nog ‘n stap in die rigting om  nog verder in Suid-Afrika te groei. 

Aan die buitekant is die 45-modelle onmiskenbaar AMG; hulle spog met ‘n AMG-spesifieke sierrooster, asook uitgeboude modderskerms om plek te maak vir die breër vooras. Daar is breër AMG-syskorte en die agteraansig word oorheers deur twee pare ronde uitlaat-pype met ‘n deursnee van 90 mm elk. Die allooiwiele van 19 duim beskik oor ‘n 5-dubbelspeekontwerp; die A 45 en CLA 45 se bandgroottes is onderskeidelik 245/35 R 19 en 255/35 R 19.

Die nuwe hoogs doeltreffende enjin word op ‘n vindingryke produksielyn in Affalterbach volgens die ëen mens een enjin”-beginsel vervaardig.  Die enjin beskik oor ‘n 2,1 bar tweeledige turboaanjaer, asook veelvuldige waterpompe wat die silinderkop en krukas  afsonderlik verkoel. Die standaard-ratkas is ‘n DCT met agt gange met ‘n RACE START-funksie wat maksimum versnelling vanuit ‘n stilstaande posisie verseker. Die ratkas beskik oor ‘n handrat-funksie in elke bestuursmodus vir bestuurders wat self ratte wil wissel. Vierwiel-aandrywing is standaard toerusting , met AMG TORQUE CONTROL in die agteras-ewenaar. Dit bevat twee elektronies beheerde  veelskyf-koppelaars wat elkeen aan ‘n agteras-dryfas gekoppel word. Op hierdie manier kan  die dryfkrag nie net op ‘n wisselende manier tussen die voor- en agterwiele versprei word  nie, maar ook tussen die linker- en regter-agterwiel. Die gevolg is optimale vastrap-vermoë onder alle omstandighede moontlik is.  Daar is ook ‘n Drift-modus saam met die opsionele AMG DYNAMIC PLUS-pakket, wat bestuurders in staat stel om die agterkant te laat wegbreek. Daar is ses bestuursmodusse om van te kies, naamlik Slippery, Comfort, Sport, Sport+, Individual en RACE. Dit maak dat die motor se karaktereienskappe van gemaklik tot dinamies kan wissel.

Een van die uitstaande kenmerke van einge Mercedes-AMG-model is die enjinklank, en die 45-modelle se uitlaatstelsel kan die klank van gebalanseerd en bedees in Slippery, Comfort en Sport tot emosioneel en sportief in Sport+ en RACE verander word. Met die AMC Real Performance Sound, wat opsioneel beskikbaar is, is die klank nog meer emosioneel en’n mens kan bepaal hoe die enjin aan die binnekant klink.  Met die druk van ‘n knoppie kan dit verstel word tussen ‘n meer subtiele en sportiewe klank tot ‘n meer emosionele motorsport-klank.

Soos die res van die A-klas-reeks word die 45-modelle met die MBUX-inligting-en-vermaakstelsel toegerus; dit sorg vir ‘n nouer verbintenis tussen motor, bestuurder en ander insittendes.  Daar is drie vertoonopsies vir die instrumentepaneel, Classic, Sport en Supersport. Die Supersport-modus bevat ‘n groot toereteller in die middel met stawe aan weerskante met bykomende inligting. Die stelsel werk met stembeheer wat op die woorde “Hey Mercedes”reageer. 

Die AMG TRACK PACE-stelsel is ‘n virtuele renbaaningenieur wat standaardtoerusting vir die 45-modelle is. Wanneer daar op ‘n renbaan bestuur word, word meer as 80 voertuigspesifieke datapunte gemonitor, onder meer rondte- en sektortye. Nadat die bestuurder ‘n paar rondtes om die renbaan afgelê het, kan die data gebruik word om sy of haar bestuursvermoë te ontleed en, indien nodig, te verbeter. 

Die pryse van die  45 S-modelle, wat ‘n Premium Drive-onderhoudsplan en waarborg insluit, lyk soos volg:

Mercedes-AMG A 45 S 4-MATIC: R 1 101 000

Mercedes-AMG CLA 45 S 4-MATIC: R 1 211 000

Categories:
%d bloggers like this: