Motorplus was by die bekendstelling van die nuwe A-klas in ‘n nat Wes-Kaap einde Augustus.

In 1997 het Mercedes-Benz ‘n radikaal nuwe rigting ingeslaan toe dié vervaardiger se eerste kompakte voorwielaangedrewe model, die A-klas bekendgestel is.

Die vierde geslag van die A-klas is pas bekendgestel en beloof om ‘n unieke kombinasie van weelde en tegnologie in sy marksegment te bied. Volgens die vervaardigers is die uitbreiding en vernuwing van die kompakte reeks een van die redes vir die volgehoue sukses wat hy tans geniet en volgens mnr Johannes Fritz, die mede-uitvoerende hoof van Mercedes-Benz Suid-Afrika en uitvoerende direkteur van Mercedes-Benz Motors is die A-klas veral op jonger mense gemik.

Die nuwe A-klas is 120cm langer, 16 mm hoër en 6 mm breër as sy voorganger en tog is hy 20 kg ligter. Die nuweling het ‘n langer asafstand en sy wyer modderskerms verseker dat wiele vanaf 16 duim tot 19 duim gebruik kan word

Een van die nuwe A-klas se unieke kenmerke in sy marksegment is ‘n opsionele AIRPANEL, ‘n hortjiestelsel agter die sierrooster met hortjies wat verstel kan word na gelang van die motor se verkoelingsvereistes met ‘n bykomende hortjie in die luguitlaat onder die nommerplaat wat die werking van die stelsel nog verder verbeter.

Die nuwe A-klas se binneruim is heeltemal verander en het ‘n futuristiese voorkoms. Mercedes-Benz het ‘n nuwe benadering gevolg en die binneruim is radikaal anders as dié van enige ander mededinger in sy marksegment. Die gevoel van ruimte word beklemtoon deur bykomende skouer-elmboog- en kopruimte. Dit is ook makliker om agter in die motor te klim terwyl die bagasieruim ook vergroot is. Die bagasieruim hou 370 liter met die agtersitplekke regop; 29 liter meer as voorheen, en die agterligte wat in twee verdeel is, maak dat die laairuimte 20cm breër as voorheen is, terwyl die bagasieruim se vloer 11,5 cm langer is. Uitsig reg rondom die motor is heelwat beter danksy pilare wat 10% dunner as voorheen is; nie net beteken dit dat die nuwe model veiliger is nie maar dit skep ook ‘n indruk van ruimte.

Die nuwe multimedia-stelsel, bekend as MBUX, is nog ‘n radikaal nuwe kenmerk, Dit maak dat die motor die bestuurder se gewoontes deur middel van kunsmatige intelligensie leer ken en daarby aanpas. Daarby bied MBUX intelligente stembeheer met natuurlike taalbegrip. Deur die woorde “Hey Mercedes” te gebruik, kan ‘n mens byvoorbeeld die klimaatbeheerstelsel verstel, ‘n teksboodskap stuur of die vinngste roete uit Kaapstad se middestad op ‘n Vrydagmiddag probeer kry.

“Die nuwe A-klas bied modern weelde op ‘n vlak wat tot dusver ondenkbaar in die kompakte marksegment was”, sê mnr Selvin Govender, die bemarkingsbestuurder van Mercedes-Benz Motors in Suid-Afrika. Volgens hom gebruik die nuwe model tegnologie om ‘n emosionele verbintenis tussen die bestuurder en die motor te skep. “Op baie maniere is dit wat ons gebruik, ‘n verlenging van ons persoonlikhede en ons wil hierdie benadering ook na ons motors uitbrei,” sê hy. Jou motor moet by jou aanpas, eerder as andersom, en met die A-klas is dit so eenvoudig soos om ‘n gesprek aan te knoop.

Nuwe en verbeterde Merdeces-Me-verbinding word met MBUX bekendgestel, onder meer navigasiefunksies soos noodremhulp en werklike inligting wat dit onder meer makliker en minder stresvol maak om na parkering te soek. Een kenmerk wat nog net op baie duurder en luukser motors beskikbaar was, is semi-outonome bestuurshulp onder sekere omstandighede; dit hou die verkeer dop, aangesien die verbeterde kamera- en radarstelsels dit motor in staat stel om tot 500m vorentoe te kan sien. Die nuwe aktiewe remhulpstelsel is standaardtoerusting; na gelang van omstandighede kan dit die erns van ‘n botsing van agter met stadige of stilstaande voertuie verminder. Dit kan selfs reageer op voetgangers en fietsryers wat met die motor in aanraking kom en botsings heeltemal vermy.

Die A-klas is in twee modelle beskikbaar, terwyl ‘n model met ‘n dieselenjin vroeg aanstaande jaar verwag word. Die A 200 word toegerus met ‘n turboaangejaagde viersilinderenjin van 1 332cc wat 120 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 250 Nm teen 1 620 opm lewer. Hierdie model se gemiddelde brandstofverbruik is 5,6 liter per 100 km en ‘n topsnelheid van 225 km/h is moontlik. Die ander model in die aanvanklike reeks is die A 250 Sport, met ‘n turboaangejaagde viersilinderenjin van 1991 cc wat 165 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 350 Nm teen 1 800 opm lewer. Die gemiddelde brandstofverbruik en topsnelheid is onderskeidelik 6,2 liter per 100 km en 250 km/h.

Die pryse van die A 200 en die A 250 Sport is onderskeidelik R 499 000 en  R 593 300

%d bloggers like this: