Mercedes-Benz GLB vir selfs 7

0 Comments

Mercedes-Benz het sy reeks sportnutsvoertuie uitgebrei met die bekendstelling van die ruim kompakte GLB wat op die A-Klas onderstel gebou is.

Hierdie nuweling is die jongste model in Mercedes-Benz se kompakte reeks, wat ook die A-klas sedan en luikrug, die GLA, die CLA en die B-klas insluit.

Volgens mnr. Johannes Fritz, die mede-uitvoerende hoof van Mercedes-Benz Suid-Afrika en uitvoerende direkteur van Mercedes-Benz Cars South Africa is daar ‘n toenemende wêreldwye vraag na sportnutsvoertuie en kompakte motors. Die GLB bied verskeie kenmerke, wat nie voorheen in Mercedes-Benz-modelle in hierdie marksegment aangebied was nie, onder meer die keuse van sewe sitplekke.

Die  ontwerp met kort oorhange wat hom na ‘n veldryer laat lyk, met ligdiodekopligte as standaardtoerusting en die 4 Matic-vierwielaandrywingstelsel van die GLB 220d maak van die GLB ‘n uiters praktiese en veelsydige gesinsvoertuig. Selvin Govender, die bemarkingsbestuurder van Mercedes-Benz Cars South Africa, glo die GLB sal by ‘n nuwe teikenmark aanklank vind as gevolg van sy byderwetse binnekant en ikoniese buiteontwerp.

Die Suid-Afrikaanse GLB-reeks sal uit twee modelle bestaan, naamlik die petrol-aangedrewe GLB 250 en die diesel GLB 220d 4 Matic, wat met vierwielaandrywing toegerus is.

Die GLB 250 word toegerus met ‘n 2 liter petrolenjin wat ‘n kraglewering van 165 kW teen 5 500 omwentelinge opwek en wringkrag van 350 Nm tussen 1 800 en 4 000 opm lewer.

Die GLB 220d 4 Matic se 2 liter turbo-dieselenjin lewer 140 kW teen 3 800 omwentelinge en ‘n wringkrag van 400 Nm tussen 1 600 en 2 600 omwentelinge.

Albei modelle se kragbronne word aan ‘n 8 DCT-outomatiese ratkas gekoppel.  Die GLB 220d se aandrywingstelsel bied ook  ‘n keuse-funksie wat die kraglewering van die enjin aanpas by verskillende terreine.

Met ‘n as-afstand van 2 829 mm is die GLB 10 cm langer as die B-klas. Die GLB-modlle se totale lengte is 4 634 mm. Wydte is 1 834 mm en hoogte is 1 658mm. Gevolglik is daar kopruimte van 1 069mm vir die voorste insittendes en 967 mm vir dié in die tweede ry sitplekke, wat in drie dele verdeel kan word en vorentoe en agtertoe kan skuif.  Die derde ry, wat twee bykomende sitplekke bied en maak dat sewe passasiers vervoer kan word, is teen ekstra koste beskikbaar. Hierdie 3 de ry sitplekke kan passasiers wat nie langer as 1,68 meter is nie, met redelike gemak sitspasie bied. Hierdie ry het twee afsonderlike skottelsitplekke en kan in die bakwerk terugvou wanneer dit nie gebruik word nie.  Die bagasieruim bied 570 liter pakruimte met die tweede ry sitplekke regop en 1 805 liter pakruimte as dit platgevou is. Wanneer die derde ry sitplekke bestel word vir tot die voertuig toegevoeg word, is daar twee bekerhouers tussen die sitplekke en twee bêreplekke vir los goedere met rubbervoering en ‘n USB-kragpunt elk.

Soos met die ander modelle wat op die platform van die A-klas vervaardig word, spog die GLB met die jongste MBUX-inligting-en-vermaakstelsel. Dit bevat ‘n raakskerm met uitstekende grafika, ‘n instrumentepaneel wat volgens die bestuurder se behoeftes aangepas kan word, ‘n volkleurpaneel tussen die instrumentepaneel en die voorruit en stembeheer wat op die opdrag “Hey Mercedes” reageer.

Die pryse van die GLB 250 en GLB 220d 4 Matic, wat ‘n onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is onderskeidelik R 831 000 en R 841 000, terwyl die derde ry sitplekke opsioneel teen R 20 200 beskikbaar is.

 

Categories:
%d bloggers like this: