Mercedes-Benz GLE vernuwe

0 Comments

Die tweede geslag Mercedes-Benz GLE is nou in Suid-Afrika beskikbaar. Sekerlik die grootste verskil tussen die nuwe GLE en sy voorganger is dat die nuwe reeks GLE-modelle langer en dus ruimer as te vore is.

Daar sal vereers net 3 modelle beskikbaar gestel word: Die GLE 300d 4 MATIC teen R 1 210 500, die GLE 400d 4 MATIC teen R 1351 200 en die GLE 450 4 MATIC teenR 1 329 400.

Die Mercedes-Benz GLE 450 4MATIC. Brandstofverbruik 9,4–8,3 l/100 km; Koolstof-uitlaat: 214–190 g/km.

Die Mercedes-Benz GLE is die heel eerste sportnuts-voertuig ter wêreld wat aan die nuwe Euro 6d-vereistes voldoen om koolstof-uitlaat verder te verminder. Dit beteken laer ‘n prys omdat daar belasting op die prys van ‘n voertuig se koolstof-uitsette in Suid-Afrika gehef word. Die GLE 400d 4 MATIC se turbo-diesel enjin beskik oor uitgebreide na-behandeling van die uitlaatstelsel met ‘n bykomende SCR-katalitiese omsetter onder die vloer. Dit is Mercedes-Benz se eerste model wat aan die nuwe vereistes voldoen.  Die ander twee modelle wat van die begin af beskikbaar sal wees, is die GLE 300d 4MATIC en die petrolaangedrewe GLE 450 4 MATIC.

Die GLE 400d 4 MATIC word toegerus met ‘n turbo-diesel enjin met ses silinders en ‘n verplasings-inhoud van drie liter. Hierdie enjin lewer 243 kW  tussen 3 600 en 4 000 opm en het ‘n wringkrag van 700 Nm tussen 1 200 en 3 000 opm. Die ander dieselenjin, wat vir die GLE 300d 4 MATIC gebruik word, het vier silinders en ‘n verplasings-inhoud van twee liter; dit lewer 180 kW teen 4 000 opm en het ‘n wringkrag van 500 Nm  tussen 1 600 en 2 400 opm. Die GLE 450 4 MATIC se 3 liter ses-silinder enjin  beskik oor EQ Boost-tegnologie wat kraglewering en wringkrag vir kort tydperke verhoog wanneer nodig. Hierdie enjin lewer 270 kW tussen 5 500 en 6 100 opm en ‘n wringkrag van 500 Nm tussen 1 600 en 4 500 opm. Die EQ Boost-tegnologie stel ‘n bykomende 16 kW en 250 Nm beskikbaar. Die hele reeks word toegerus met ‘n 9 G-TRONIC-ratkas wat oombliklik reageer en bestuursgenot verhoog.

Die ratkas beskik oor ‘n handrat- en sportmodus en ratwisselings geskied so vinnig dat ‘n mens dit byna nie agterkom nie. Daar is ook ‘n Eco-modus vir die beste moontlike brandstof-verbruik; die motor loop teen luier-snelhede wanneer die bestuurder sy of haar voet van die versneller-pedaal af verwyder en wanneer die voet weer op die versneller is, word kontak tussen die enjin en die dryfstelsel herstel. 

Die asafstand van die nuwe GLE is aansienlik langer as dié van sy voorganger, die bykomende 80mm maak dat daar baie meer ruimte vir agterste insittendes is. Beenruimte agter is 69mm meer as voorheen terwyl kopruimte met die standaard-sitplekke wat in drie dele verdeel word, 35 mm meer as in die verlede is. Die A-pilaar is meer regop en daarom is die voorste deel van die kajuit ook heelwat ruimer. Daar is ‘n tweede ry sitplekke met ses elektriese verstellings opsioneel beskikbaar; die linker-en regter-sitplekke kan afsonderlik verstel word, en die rugleunings is in drie verdeel. Die rugleunings kan elektries platgevou word met behulp van ‘n knoppie in die bagasieruim. Drie kinderstoeltjies kan langs mekaar gemonteer word en daar is ISOFIX-ankerpunte vir die buitenste twee sitplekke. Die bagasieruim hou 825 liter met die agter-sitplekke regop en 2055 liter as dfit platgevou word. Daar is ook ‘n derde ry sitplekke opsioneel beskikbaar en danksy die elektries verstelbare tweede ry sitplekke se Easy Entry-stelsel, is die derde ry sitplekke binne maklike bereik. 

Die Mercedes-Benz GLE 350 4MATIC.

Die nuwe GLE word toegerus met die jongste weergawe van Mercedes-Benz se multi-media stelsel wat as MBUX (Mercedes-Benz User Experience) bekendstaan. Dit sluit ‘n grootskerm-stuurkajuit in met 31,2 cm-skerms wat langs mekaar sit en ‘n breëskerm-voorkoms skep. Die inligting op die instrumente-paneel en die multimedia-skerms is maklik om te lees en helder grafika  maak dit selfs makliker om te gebruik. Die nuwe MBUX Interior Assist, wat opsioneel beskikbaar is, stel die gebruiker in staat om toegang tot sekere funksies te kry deur die herkenning van bewegings. Wanneer ‘n hand naby die raakskerm kom, verander die media-vertoonpaneel en word individuele elemente uitgelig. Die MBUX-stelsel beskik oor nog ‘n unieke kenmerk, naamlik  die vermoë om op kunsmatige intelligensie te reageer. Met die voorspellings-funksies kan die stelsel die bestuurder se wense verwag, soos ‘n navigasie-bestemming wat gereeld gebruik word.

Die GLE straal die ikoniese Mercedes-Benz-ontwerprigting uit en tog bly hy getrou aan sy karakter as veldryvoertuig; hy simboliseer die vervaardiger se ontwerpfilosofie van sensuele suiwerheid en vertenwoordig moderne weelde.  Die binneruim bevat ‘n kontras tussen luukse en elegante ontwerp saam met gevorderde tegnologie. Die boodskap wat die ontwerp uitdra, is een van moderne weelde op die pad en in die veld. Die lang asafstand en kort oorhange maak dat hy oral tuis is. Die vooraansig straal krag en doelgerigtheid uit; dit word oorheers deur die regop , agthoekige sierrooster, die enjinkap met twee luguitlate, die verchroomde skermplaat aan die onderkant en die  kenmerkende kopligte. Die breë C-pilaar lyk baie dieselfde as dié van sy voorganger en verskeie wielontwerpe, van 18 tot 22 duim, is beskikbaar. Die aletiese voorkoms word agter voortgesit en weer eens is daar ‘n verchroomde skermplaat. 

Mercedes-Benz se jongste bestuurs-hulpmiddels maak hul buiging in die nuwe GLE; en die vlak van aktiewe veiligheid stel nuwe standaarde. Wanneer die DISTRONIC-stelsel in werking is, kan die voertuig op werklike verkeersinligting reageer; onder ideale omstandighede gebeur dit voordat die radar of die kamerasensors die oponthoud op gevaar bespeur. Wanneer ‘n verkeers-knoop bespeur word, word die voertuig se snelheid as ‘n voorsorgmaatrel tot omtrent 100 km/h beperk tensy die bestuurder anders besluit. As die verkeersknoop tot ‘n einde kom, versnel die voertuig tot by die vasgestelde snelheid, maar wanneer die verkeerstekens ‘n ander snelheid aandui, kies die aktiewe spoedbeheerhulp die heersende snelheidsperk. Daarby word ‘n groot stap in die rigting van outonome voertuig-beheer geneem met die aktiewe astand- en stuurhulp wat die bestuurder in staat stel om te alle tye ‘n veilige volgafstand te handhaaf. Die aktiewe remhulp-funksie wat deel van die bestuurshulp-program uitmaak beskik oor ‘n nuwe funksie; wanneer die bestuurder oorkant die aankomende baan wil afdraai, kan die GLE vanself rem; daarby is die GLE toegerus met aktiewe blindekol-hulp wat die risiko van ‘n botsing met verkeer, onder meer ‘n verbygaande fietsryer, uitskakel. 

Al die modelle in die reeks beskik oor die 4 MATIC-vierwiel-aandrywing stelsel en ‘n 9 G-TRONIC-ratkas.  Met die vier-silinder enjins word vierwiel-aandrywing deur middel van ‘n oordraratkas bewekstellig en die wringkrag word eweredig tussen die voor- en agterwiele versprei. In die GLE 400d en GLE 450 word ‘n oordraratkas met ‘n elektronies beheerde multiskyf-koppelaar gebruik. Dit maak dat die wrinkrag volgens behoefte tussen die twee aste versprei word. Daar is ook ‘n nuwe oodraratkas wat spesifiek vir veldry-toestande gebruik kan word, opsioneel beskikbaar.   Die oordraratkaste met wringkrag volgens behoefte sorg vir verdere veiligheid en verbeterde padhouvermoë. Die ratkas bevat ‘n breë spektrum rat-verhoudings in alle gange om enjinsnelhede laag te hou en energie doel-treffendheid en rygemak verbeter. Die hoë vlak van doeltreffendiheid word in die voertuig se brandstof-verbruik weerspieël en die vinnige reaksietye, veral in handrat- en sportmodusse, verhoog bestuursgenot. Die Eco-modus stel die bestuurder in staat om die voertuig teen luiersnelhede te bestuurder wanneer sy of haar voet van die versneller-pedaal gehaal word; daar word geen brandstof gebruik wanneer dit gebeur nie. Die bestuurder kan ook kies tussen individuele modusse vir gewone pad-omstandighede, naamlik Comfort, Sport en Sport+.

Een van die belangrikste nuwe kenmerke van die nuwe GLE is ‘n nuwe vertoonpaneel teen die voorruit met ‘n resolusie van 720×240 pixels; ‘n stelsel wat uit lense en spieëls bestaan, vertoon ‘n volkleur-paneel van 45×15 cm op die voorruit. Dit lyk vir die bestuurder asof die die paneel teen ‘n afstand van omtrent drie meter  bokant die enjinkap sweef; dit is meer as dubbeld so groot soos voorheen en 20% helderder om leesbaarheid te verbeter. Daar is ook plek vir bykomende inligting.

Nog ‘n uitstaande kenmerk van die nuwe GLE is die beste moontlike ruitveër-en-wasserstelsel, wat bekendstaan as MAGIC VISION CONTROL.  Dit bespaar tot 50% op ruitwasvloeistof en verseker terselfdetyd die beste moontlike uitsig vorentoe. Die stelsel is so intelligent dat dit die nodige vloeistof volgens heersende toestande afmeet; dit neem byvoorbeeld die voertuig se snelheid en temperatuur in aanmerking. Die vloestof word deur gesofistikeerde kanale en pype oor die volle lengte van die ruitveërs versprei en altyd na die kant wat die ruitveërs op daardie stadium beweeg.  Die skoonmaak-prosedure kan ook ten volle outomaties verstel word om aan te pas by heersende toestande en ooreen-stemmende skoonmaak-programme kan in die beheerstelsel gebêre word.

Die pryse van die nuwe GLE-reeks, wat Mercedes-Benz se Premium Drive-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, lyk soos volg:

GLE 300d 4 MATIC: R 1 210 500

GLE 400d 4 MATIC: R 1351 200

GLE 450 4 MATIC: R 1 329 400

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: