Mercedes-Benz se GLA groter en beter

0 Comments

Sedert die bekendstelling van die oorspronklike Mercedes-Benz GLA is ongeveer ‘n miljoen eenhede verkoop van dié kompakte sportnutsvoertuig verkoop.

Die tyd het egter nou aangebreek om die tweede geslag GLA bekend te stel. Hierdie nuweling voltooi Mercedes-Benz se hersiening van sy kompakte modelreeks, wat uit modelle met drie asafstande, voor- of vierwiel-aandrywing en petrol- of dieselenjins bestaan. Die GLA is een van twee kompakte sportnutsvoertuie in die reeks; dit is sportief en  leefstyl-georiënteerd  terwyl die splinternuwe GLB meer prakties en veelsydig is. Daarom vul die twee modelreekse mekaar aan en voldoen hulle aan die vereistes van kopers in ‘n groeiende marksegment.

Hoewel die nuwe GLA aan die buitekant 1,5 cm korter as sy voorganger is, bied hy ‘n ruimer binnekant , verbeterde beenruimte en ‘n  groter bagasiebak. Die nuwe model is ook heelwat veiliger danksy verskeie nuwe bestuurs-hulpmiddels wat vir die eerste keer beskikbaar is. Die koepee-agtige lyne van die agtervensters gee die motor ‘n elegante en dinamiese voorkoms.  Soos met Mercedes-Benz se ander sportnutsvoertuie beskik die sierrooster oor een breë staaf met Mercedes-Benz se driepuntster in die middel. Die deure is ontwerp om toegang te vergemaklik, te keer dat die rame, asook die insittendes se klere, vuil word en beter beskerminjg in ‘n botsing van die kant af te bied.  Daar is ook skermstroke heel onder aan die deure en skermplate voor en agter wat verdere beskerming bied en sy veldry-karakter beklemtoon. Die agterlig-samestelling bestaan uit twee dele, wat die agterklap breër maak, en die in- en uitlaai van veral groot goedere vergemaklik. 

Die instrumentepaneel bestaan uit een vrystaande eenheid wat beskikbaar is met twee vertoonpanele van sewe duim, of een paneel van sewe duim en een van 10,25 duim. Wanneer die breëskerm-opsie gekies word, bestaan die vertoonpanele uit twee panele van 10,25 duim elk.  Die vyf ronde luguitlate van die ventilasiestelsel beskik oor ‘n turbine-voorkoms van hoogstaande gehalte. Soos wat ‘n mens van Mercedes-Benz se huidige geslag motors kan verwag, is die MBUX (Mercedes-Benz User Experience)-inligting-en-vermaakstelsel standaardtooerusting. Die stelsel kan volgens die gebruiker se behoeftes aangepas word en sluit ‘n rekenaar met uitsonderlike grafika in, asook stembeheer wat op die opdrag “Hey Mercedes” reageer. Daar is ‘n navigasiestelsel en ‘n vertoonpaneel tussen die voorruit en die instrumentepaneel teen ekstra koste beskikbaar.  Die posisie van die voorste sitplekke is hoër en meer regop as voorheen en daarom meer soos dié van ‘n sportnutsvoertuig. Die bestuurder en voorste passasier sit 140 mm en 50 mm hoër as in die A- en B-klas onderskeidelik. Die agtersitplekke is opsioneel beskikbaar met verstelling vorentoe en agtertoe en met rugleunings wat verstel kan word. Die agtersitplekke word in ‘n 60:40-verhouding verdeel, maar ‘n 40:20: 40-verdeling is ook beskikbaar. Die bagasiebak beskik oor  ‘n verstelbare vloer; as die vloer op sy hoogste is en die sitplekke is platgevou, word ‘n plat oppervlak geskep wat die vervoer van groot goedere vergemaklik. 

Mercedes-Benz GLA, Edition1, AMG Line, mountaingrau magno
Mercedes-Benz GLA, Edition1, AMG Line, mountain grey MAGNO

Die GLA is beskikbaar in twee modelle. Die GLA 200 word toegerus met dieselfde 1,3 liter turbo-petrol enjin as die A 200, wat 120 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 250 Nm teen tussen 1 620 en 4 500 opm lewer. Hierdie enjin word aan ‘n 7G-DCT-outomatiese ratkas met sewe gange gekoppel. Die ander model is die GLA 200d, wat met ‘n tweeliter-turbodiesel met ‘n 8G-DCT-outomatiese ratkas toegerus word. Hierdie enjin lewer 110 kW teen tussen 3 400 en 4 400 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 400 en 3 200 opm. 

Daar is ‘n aantal bestuurs-hulpmiddels vir die nuwe  CLA beskikbaar, en diegene wat die opsionele Driver Assistance Package kies, kry kenmerke soos ‘n waarskuwing as dit gevaarlik is om by ‘n uitgang uit te ry, voetganger-waarskuwing, aktiewe spoedbeheer wat die bestuurder in staat stel om by die heersende snelheidsperk te hou en ‘n veilige volgafstand te handhaaf, baanhouhulp, ‘n blindekol-monitor en ‘n stelsel wat ‘n moontlike botsing van agter bespeur.  Die blindekolhulp waarsku die bestuurder wanneer daar fietsryers of ander voertuie naby is, selfs wanneer die motor stilstaan, terwyl padtekenhulp die heersende snelheidsgrens  wys, asook plekke waar ‘n mens nie mag verbysteek nie. Dit waarsku ‘n men sook wanneer die snelheidsgrens oorskry word. 

Die nuwe GLA is die eerste motor in sy klas wat met ‘n motorwas-funksie toegerus word. Wanneer die motor deur ‘n masjien gaan, hoef ‘n mens net een opdrag te gee en die vensters en sondak word toegemaak terwyl die buitespieëls outomaties ingevou word. Wanneer die  motor met die opsionele 360 grade-kamera toegerus word, help die kamera die bestuurder om by die wassery in te ry en die stelsel word gedeaktiveer wanneer daar uitgery word. 

Die pryse van die GLA 200 en GLA 220d, wat ‘n Premium Drive-onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km insluit, is R 674 000 en R 710 000 onderskeidelik.

Categories:
%d bloggers like this: