Mercedes-Benz se nuwe CLA

0 Comments

Toe die oorspronklike Mercedes-Benz CLA in 2013 bekendgestel is, het dit ‘n splinternuwe marksegment vir kompakte vier-deur-koepees geskep. 

Omtrent 750 000 eenhede van die CLA is sedertien wêreldwyd verkoop en 75% van Europese eienaars het daarna weer ‘n Mercedes-Benz voertuig gekies.  Die tweede geslag van hierdie suksesvolle reeks is sopas in Suid-Afrika vrygestel.

Die Mercedes-Benz CLA 220 d Coupé.

Die nuwe model het ‘n lang neus, ‘n kompakte kajuit, ‘n breë spoorwydte met uitgeboude modder-skerms, en Mercedes-Benz se tipiese GT-agterkant met ‘n skouerlyn wat nogal aan ‘n Coke-bottel herinner. Hy glo dat die nuwe model ‘n moontlike ontwerp-ikoon kan wees. 

Die raamlose deure gee die CLA ‘n sportiewe karakter; die vooraansig herinner aan ‘n haai se neus en die lang, uitgerekte enjinkap bevat “spierbulte”.  Die kopligte is plat en daar is ‘n groot driepuntster-kenteken in die middel van die sierrooster. Die gesplete agterlig-samestelling en nommerplaat wat in die stamper gemonteer is, gee die agterkant ‘n breë voorkoms.  Die sleurkoëffisiënt van die nuwe CLA is ‘n besonder lae 0,24.

Die binneruim beskik oor ‘n futuristiese voorkoms en daar is heeltemal weggedoen met ‘n instrumenthuisie. Die paneelbord strek oor die hele breedte van die binnekant en daar is ‘n breë media-vertoon paneel aan die bokant.  Die sportiewe luguitlate skei die bo-en onderkant van die paneel-bord. Die MBUX (Mercedes-Benz User Experience)-stelsel is só ontwikkel dat dit voortdurend verbeter kan word en dit reageer op die woorde “Hey Mercedes.” Hierdie stem-beheerstelsel kan al hoe meer opdragte verstaan en uitvoer. Die media-vertoon paneel kan volgens behoefte aangepas word en daar is ‘n uitlees-paneel tussen die voorruit en die instrumente-paneel wat die belangrikste inligting op die voorruit vertoon. MBUX Interior Assist is ‘n nuwe kenmerk wat die insittendes ondersteun deur sekere geriefs- en MBUX-funksies so maklik toeganklik as moontlik te maak.  Interior Assist kan in sonlig en absolute donkerte werk. Dit maak die verandering van die inhoud van die skerm moontlik sodra ‘n hand naby die raakskerm of die beheerknop op die middel-konsole kom. Die stelsel kan ook tussen die vorkeure van die bestuurder en die voorste passasier onderskei en byvoorbeeld weet vir wie se sitplek die masseer-funksie aangeskakel moet word. Daar is ook ander funksies wat instinktief beheer kan word, sonder dat dit nodig is om handgebare te oefen. Só kan ‘n leesliggie in die donker aangeskakel word deur net ‘n hand na die trusipeël uit te steek. As die bestuurder ‘n hand na die leë voorste passasier-sitplek uitsteek wanneer dit donker is, word dié deel van die kajuit outomaties verlig.  Dit maak dat iets wat dalk op die sitplek lê, maklik gevind kan word. Die lig word afgeskakel sodra die hand die gebied verlaat.

Die mees gevorderde bestuurs-hulpmiddels tot nog toe maak die nuwe CLA die veiligste voertuig in sy klas danksy kenmerke wat ook vir die huidige S-klas gebruik word. Dit is vir die eerste keer moontlik om semi-outonoom in sekere omstandighede te bestuur.  Sodoende word die verkeer-situasie baie fyn dopgehou. Danksy verbeterde kanera- en radartegnologie kan die motor sien wat 500 meter vorentoe gebeur. Die Active Distance Assist DISTRONIC-stelsel wat opsiomneel beskikbaar is, bied roetegebaseerde ondersteuning in verskeie sutiasies en verstel die motor se snelheid outomaties na gelang van omstandighede, soos wanneer draaie, verkeersirkels of kruisings genader word. Die nuwe CLA het gevorderde remhulp as strandaard toerusting. Afhangende van die situasie kan die stelsel help om die erns van agterkantbotsings met stadige of stilstaande voertuie, voetgangers of fietsryers te versag of, indien moontlik, heeltemal te voorkom. Aktiewe baanhou-hulp waarsku die bestuurder wanneer die voertuig  per abuis teen snelhede van tussen 60 km/h en 200 km/h uit sy baan beweeg en Pre Safe Plus waarsku die bestuurder as daar ‘n agterkant-botsing gaan plaasvind. As die gevaar voortgaan, kan die stelsel die remme van die stilstaande voertuig aktiveer en die risiko van beserings verminder.

Nog ‘n voorbeeld van ‘n kenmerk wat van luukse- na kompakte motors oorgedra is, is die opsionele Multibeam ligdiode-kopligte.  Dit maak die vinnige en presiese elektronies beheerde verstelling van die kolpigte om by elke moontlike situasie aan te pas, moontlik.  Elke koplig van die CLA beskik oor agttien ligdiodes wat afsonderlik beheer kan word. Die daglig-agtige kleur van die ligdiodes is sag op die oog en help die bestuurder om te konsentreer. Die pad vorentoe word helder en presies verlig. Hoëverrigting-kopligte met ligdiode-tegnologie is ook opsioneel beskikbaar.  Halogeenkopligte met ligdiode-dagryligte is standaardtoerusting. Die agterligte is ook met volle ligdiode-tegnologie beskikbaar.

Die Mercedes-Benz CLA 200 Coupé.

Twee enjins is op die oomblik vir die CLA beskikbaar. Die CLA 200 word toegerus met ‘n turbopetrolenjin van 1,3 liter wat 120 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 250 Nm teen 1 620 opm lewer. Die CLA 220d se turbo-diesel enjin van twee liter lewer  140 kW teen 3 800 opm en wringkrag van 400 Nm teen 1 400 opm. Albei enjins word aan ‘n 7G-DCT-ratkas gekoppel. 

Daar is ‘n keuse van veerstelsels; dit hang van die enjinvariant en die bestuurder se voorkeure af.  Verskillende bestuurs-opsies, naamlik Eco, Comfort en Sport, kan deur middel van ‘n kontrole op die middel-konsole gekies word. Die opsionele AMG-veerstelsel is ontwikkel vir hoër snelhede deur draaie en verhoog bestuursgenot. 

Die  pryse van die CLA 200 en CLA 220d is onderskeidelik R 570 500 en R 612 800; dit sluit ‘n volle onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km in.

Die Mercedes-Benz CLA 220 d Coupé van agter.

Categories:
%d bloggers like this: