Breaking News

Mercedes-Benz V 300d nou beskikbaar

Toe die Mercedes-Benz V-klas in 2015 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel is, het hy nuwe standaarde vir luuksheid, veiligheid en status in sy klas gestel.

In 2019 het die reeks ‘n aantal detail-veranderinge ondergaan, en ‘n nuwe neus, asook ‘n meer sportiewe binneruim gekry. Nou het Mercedes-Benz die nuwe V 300d by hierdie suksesvolle modelreeks gevoeg.

Die V 300d word toegerus met Mercedes-Benz se OM 654-turbo-diesel enjin met ‘n verplasings-inhoud van twee liter en kraglewering van 176 kW teen 4 200 opm en wringkrag van 500 Nm teen 1 600 opm. Tydens die versnellingsfase is ‘n bykomende 30 Nm beskikbaar. Die 9 G-TRONIC- ratkas is vir die eerste keer vir die V-klas beskikbaar en is standaard toerusting vir die V 300d. Die Dynamic Select-skakelaar stel die bestuurder in staat om tussen die Comfort- en Sport-modus te kies en ratte kan met die ratspane agter die stuurwiel met die hand gewissel word.

Daar is drie V 300d-modelle beskikbaar. Die Avantgarde se spesifikasief-vlak stem ooreen met dié van die V 250d Avantgarde, en ‘n AMG Line-weergawe voeg ‘n aantal stilerings-kenmerke , onder meer meer swart allooiwiele en ‘n drukvlerk, asook sportvering, by. Die Exclusive spog egter met ‘n aantal gesogte weeldeitmens as standaard toerusting, onder meer ‘n panoramiese sondak, ‘n 360 grade kamera, ‘n yskas vir agterste insittendes, en agtersitplekke wat verhit of verkoel kan word.

Soos die res van die V-klas, beskik die 300d oor sewe sitplekke, maar dit kan na ses of agt sitplekke toe verander word, na gelang van die eienaar se behoeftes. Daarby kan die swart leerbekleedsel teen geen ekstra koste met bruin of beige bekleedsel vervang word. Die ligdiode-kopligte domp outomaties wanneer daar aankomende verkeer bespeur word en die hoëstraal-hulpstelsel pas aan by heersende padtoestande. Die hele reeks spog verder met veiligheidskenmerke soos Distronic, baanhouhulp, aktiewe noodremhulp en ‘n blindekolmonitor. Benewens die voorste- en kantlugsakke kan bykomende vensterlugsakke wat van die A- tot die D-pilaar strek, teen ekstra koste bestel word. Die elektries beheerde kantdeure word met kinderslotte beskerm.

Die Comand-inligting-en-vermaakstelsel word in die hele V-klas-reeks vervang deur die MBUX-stelsel. Dit bevat ‘n raakskerm van 10,25 duim, Bluetooth-, Android Auto- en Apple Car Play-verbinding, asook ‘n hardeskryf-navigasie stelsel. Die Burmester-klankstelsel met 16 luidsprekers is standaard toerusting vir die hele V 300d-reeks, en die veelkanaal-rondomklank-tegnologie maak dat elke passasier dieselfde klankgehalte ervaar. Daarby is daar ‘n stelsel wat kommunikasie tussen die voorste en agterste passasiers vergemaklik.

Die pryse van die V 300d-modelle, wat ‘n Premium Drive-waarborg en onderhoudsplan van vyf jaar of 100 000 km, wat teen ekstra koste verleng kan word, insluit, lyk soos volg:

V 300d Avantgarde: R 1 440 203
V 300d Avantgarde AMG Line: R 1 515 183
V 300d Exclusive: R 1 645 880

%d bloggers like this: