Die X-klas is die eerste bakkie wat deur Mercedes-Benz vervaardig word, en is gemik op kopers wat ‘n leefstylvoertuig eerder as ‘n werkesel verkies. Die ontwerp van die konsepmodsel wat vroeër vanjaar vertoon is, is hoofsaaklik onveranderd gelaat.  Die X-klas verskuif die grense van die dubbelkajuitbakkie; dit kombineer die geharde eienskappe van ‘n bakkie met die bestuursgenot wat ‘n mens van ‘n Mercedes-Benz kan verwag. Daarby is die X-klas net so veilig soos enige van Mercedes-Benz se passasiersmotors en daar is baie maniere waarop die bakkie aangepas kan word om by die kopers se behoeftes te pas.

Daar sal drie enjins met vier of ses silinders, en  twee ratkaste wees om van te kies asook agterwielaandrywing of vierwielaandrywing met of sonder laestrek. Aan die binnekant is daar ses tipes bekleedsel, onder meer twee tipes leerbekleedsel.

Die X-klas is ontwerp met die veranderende vereistes van kopers in hierdie marksegment in gedagte.  Die vraag na bakkies wat ook die karaktereienskappe van passasiersmotors het, neem al hoe meer toe en bakkies word nie net meer as werkesels beskou nie. Mercedes-Benz het jare se ondervinding in die vervaardiging van voertuie wat vir harde werk bedoel is, soos die Unimog en die G-klas, dié wat ewe geskik is vir werks- of ontspanningsdoeleindes, soos die Vito en die V-klas en natuurlik die wye reeks passasiersmotors.  Die X-klas is op ‘n greoot verskeidenheid markte gemik, soos grondeienaars en boere in Argentinië, sakelui en boukontrakteurs in Australië en modebewuste individualiste in Suid-Afrika om net ‘n paar te noem.

Die X-klas kombineer ‘n moderne ontwerp met kompromislose gehardheid, uitstaande veldryvermoë en bestuursgenot wat ‘n mens van ‘n passasiersvoertuig sou verwag.  Daar is ‘n leerraamonderstel, tesame met ‘n soliede agteras, onafkanklike vering voor en kronkelvere voor en agter.

Daar sal drie afwerkingsvlakke wees, naamlik die Pure, wat die intreevlak is, die Progressive, wat gemik is op die koper wat meer geriefsfunksies en bykomende stileringskenmerke wil hê en die Power, vir diegene wat hul voertuie hoofsaaklik vir ontspanning gebruik en ‘n meer individualistiese beeld wil uitstraal.  Die X-klas is taai en stylvol; hy kan ‘n vrag van tot 1,1 ton dra en het ‘n sleepkapasiteit van 3,5 ton.

Die drie afwerkingsvlakke kan deur middel van uitstaande stileringskenmerke van mekaar onderskei word. Die Pure-modelle se sierrooster en voorste stamper is nie geverf nie terwyl dié van die ander twee in dieselfde kleur as die bakwerk geverf is. Die onderste deel van die Power-modelle is in chroom afgewerk. Daar is nege kleure om van te kies asook ‘n verskeidenheid wiele in 17, 18 of 19 duim. Die agterste stampers van die verskillende modelle is onderskeidelik in swart, dieselfde kleur as die bak of chroom afgewerk. Die X-klas kan ook sonder ‘n agterste stamper bestel word; dit maak dat die agterklap tot 180 grade oopgemaak kan word. Dit sal ook die enigste bakkiie wees wat beligting in die laairuim as standaardtoerusting het; dit kan deur middel van ‘n skakelaar aan die binnekant beheer word. Daarby is daar ook ‘n 12 volt-kragpunt in die laairuim.

Die binnekant stel nuwe standaarde in hierdie marksegment. Die instrumentepaneel het dieselfde ontwerp as dié van Mercedes-Benz se passasiersmotors en weer eens is die verskille in die drie afwerkingsvlakke duidelik sigbaar. Die losstaande skerm vir die inligting-en-vermaakstelsel is dieselfde as dié van die V-klas terwyl die ronde wyserplate van die instrumentepaneel ook uit die C- en V-klas-modelle kom. Tussen die wyserplate is ‘n uitleespaneel in kleur en die inligting wat daarop vertoon word kan met behulp van kontroles op die veelfunksiestuurwiel gekies word. Die stuurkolom is hoogteverstelbaar en in die geval van die Progessive en Power-afwerkingsvlakke is die stuurwiel, die rathefboomknop en die handrem met leer oorgetrek. Die kontrole vir die inligting-en-vermaakstelsel is op die middelste konsole; weer eens ‘n unieke kenmerk in hierdie klas. Hierdie kontrole werk omtrent soos ‘n slimfoon en kan beheer word deur karakters en letters in te voer of deur middel van handgebare.

Die sitplekke is só ontwerp dat selfs lang ritte gemaklik is en in die geval van die Power is elektriese verstelling standaardtoerusting. Daar is ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, wat gemaklik vir drie mense is en waarby ‘n mens maklik in of uit kan klim. Die X-klas bied die grootste verskeidenheid kleure en mkateriale in sy marksegment; materiaalbekleedsel is standaardtoerusting vir die Pure en die Progessive, hoewel laasgenoemde se bekleedsel van ‘n hoër gehalte is. Die Progressive is opsioneel beskikbaar met leerbekleedsel, maar dit is standaardtoerusting vir die Power.

Hoewel die drie afwerkingsvlakke die koper in staat stel om sy of haar voertuig volgens behoefte te verpersoonlik, is daar ook heelwat ander bykomstighede soos  sagte seiltjies, kappies, bosbrekers en rolstawe beskikbaar om by te las op jou eie X-klas.

Daar is drie dieselenjins beskikbaar, maar een daarvan word eers aanstaande jaar bekendgestel.  Die X 220d is die intreevlak-enjin met ‘n verplasingsinhoud van 2 298 cc; hierdie enjin lewer 120kw teen 3 750 opm en 403 Nm teen tussen 1 500 en 2 500 opm. Daar is net een ratkas vir hierdie enjin beskikbaar, naamlik ‘n handratkas met ses gange. Die X 250d se enjinkapasiteit is dieselfde, maar hy het twee turboaanjaers pleks van een. Hierdie enjin, wat beskikbaar is met ‘n handratkas of ‘n outomatiese ratkas met sewe gange, lewer 140 kw teen 3 750 opm of 450 teen tussen 1 500 en 2 500 opm. Hierdie twee enjins sal met agter- of vierwielaandrywing beskikbaar wees.  Teen die middel van 2018 sal die vlagskip, die X 350d, met ‘n V6-enjin en vierwielaandrywing, beskendgestel word.

Die X-klas stel ook nuwe veiligheidstandaarde in sy klas in die sin dat dit die enigste dubbelkajuitbakkie is wat skyfremme op al vier wiele het. Daar is ook ‘n elektroniese stabiliteitsprogram wat keer dat die voertuig in kritieke situasies gly en ‘n remhulpstelsel wat saam met die ABS-remstelsel werk en die bestuurder in staat stel om in die kortstre moontlike tyd te rem in ‘n noodsituasie. Daarby is daar ‘n stelsel wat keer dat die voertuig beheer verloor op swak padoppervlakke, of waar daar ys, sneeu of los gruis voorkom. Daar is nie minder nie as sewe lugsakke en die voorste een word gedeaktiveer as daar ‘n kinderstoeltjie is of as niemand op die passasiersitplek sit nie. Verdere veiligheidskenmerke is ‘n stelsel wat jou waarsku as jy per abuis van baan verwissel, ‘n banddrukmonitor, LED-kopligte en ‘n stelsel wat help om ‘n woonwa of sleepwa wat gesleep word, stabiel te hou. Daarby is ‘n 360 grade-kamera opsioneel beskikbaar, tesame met ‘n trukamera. Die aktiewe remhulpstelsel word in werking gestel as daar ‘n moontlikheid is dat daar ‘n botting aan die agterkant mag plaasvind. Dié stelsel maak op ‘n hoorbare manier alarm en gee rem-ondersteuning wanneer nodig.

Die 4 Matic-stelsel is opsioneel beskikbaar vir die X 220d en X 250d-modelle en vierwielaandrywing kan deur middel van laestrek gekies word. Daarby is ‘n sluitbare ewenaar opsioneel beskikbaar.  Van die middel 2018 sal permanente vierwielaandrywing ook beskikbaar wees.  Laasgenoemde sal standaardtoerusting op die X 350d wees.

Die X-klas word vroeg aanstaande jaar in Suid-Afrika verwag; pryse en presiese spesifikasies vir die Suid-Afrikaanse mark sal eers later bekendgemaak word.