Mitsubishi ASX opgeknap vir 2020

0 Comments

 

Die Mitsubishi ASX is in September 2011 vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel en dié model het ‘n gunsteling geword onder veral jong gesinne wat toegang tot die sportnutsvoertuig-leefstyl wou kry.

Nou is die ASX opgeknap vir die 2020-modeljaar en spog met nuwe buitestilering asook ‘n opgeknapte binnekant en verbeterde meganika.

Volgens Nic Campbell, die hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika, was 2019 ‘n baanbrekersjaar vir Mitsubishi in Suid-Afrika met die bekendstelling van verskillende nuwe modelle, en die nuwe ASX behou hierdie momentum as die eerste nuwe Mitsubishi wat vanjaar op die mark kom.

Die herontwerpte vooraansig beskik oor ligdiode-kop- en dagryligte asook ligdiode-misligte met ingeboude rigtingwywers en ‘n nuwe sierrooster en voorstamper. Aan die agterkant is daar nuwe ligdiode-agterligte, met remligte en rigtingwysers in een hulsel. Die ontwerp van die agterstamper is aangepas om by die nuwe voorstamper te pas. Aan die kant is daar nuwe 18-duim allooiwiele. Die nuwe ASX is beskikbaar in wit, silwer, grys, rooi en blou.

Die belangrikste nuwe kenmerk aan die binnekant is die nuwe Smartphone-Link Display Audio-stelsel (SDA) met ‘n agtduim-raakskerm asook ‘n USB-kragpunt. Die stelsel bevat Android Auto en Apple Car Play.  Daar is ook ‘n nuwe grein vir die leerbekleedsel wat dwarsdeur die kajuit gebruik word. Verder is ‘n panoramiese sondak, spoedbeheer, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie en outomatiese lugversorging standaardtoerusting. Daar is net een spesifikasievlak beskikbaar.

Onder die enjinkap is ‘n opgeknapte weergawe van die bekende MIVEC-twee liter enjin wat 110 kW teen 6 000 opm opwek en ‘n wringkrag van 197 Nm teen 4 200 opm lewer. Voornemende kopers het die keuse tussen ‘n vyfgang-handratkas en ‘n palwissel (CVT)-ratkas met ses gange. Die palwisselratkas beskik ook nou oor ‘n sportmodus, met ‘n Ds-posisie op die ratkieser.  Die ASX beskik oor veiligheidskenmerke soos vastrap- en stabiliteitsbeheer, opdraande-wegtrekhulp, sewe lugsakke, spraakherkenning en ‘n nuwe slimsleutel wat binne ‘n radius van 70 cm werk om die motor oop en toe te sluit.

Die pryse vir die nuwe ASX-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en padbystand van vyf jaar ongeag die motor se kilometerlesing insluit, is R 379 995 en R 399 995 vir die handrat- en CVT-modelle onderskeidelik.

Categories:
%d bloggers like this: