Mitsubishi se Xpander Cross kom in 2020

0 Comments

Mitsubishi Motors het aangekondig dat sy Suid-Afrikaanse reeks binnekort met die Mitsubishi Xpander Cross uitgebrei gaan word.

Die Xpander Cross sal eers in Indonesië op die mark kom en daarna in ander dele van die wêreld bekendgestel word.  Dit is ‘n klein veeldoel-voertuig met sportnuts-voertuigstilering. Die standaard weergawe van die Xpander is reeds in 2017 in Indoniesië bekendgestel en het in 2018 Mitsubishi se vierde gewildste model in daardie mark geword. Met sy bekendstelling is hy ook as “Motor van die Jaar”, “Beste veeldoel-voertuig” en “Beste klein veeldoel-voertuig” aangewys. Volgens Nic Campbell, die algemene bestuurder van Mitsubishi Motors in Suid-Afrika, is die proses om gereed te maak vir sy plaaslike bekendstelling, reeds aan die gang.

Die vooraansig van die Xpander Cross spog met die jongste weergawe van Mitsubishi se Dynamic Shield-ontwerprigting. Aan die onderkant van die stamper is ‘n skermplaat wat nie net beskerming bied nie, maar sy beeld as sportnuts-voertuig beklemtoon. Die stamper bevat ook geïntegreerde ligdiode-misligte. Die Xpander Cross is 50 mm breër as die gewone model; die swart wielboë, groter bande en skermstroke aan die onderkant van die deure  versterk sy sportnuts-beeld nog verder. Die silwer dakspore is geskik vir ‘n dakrak.

Volgens die vervaardigers is sy grondvryhoogte van 225 mm die beste in sy klas; dit is 20 mm hoër as die gewone model. Dit maak hom meer geskik vir slegte paaie, en bied ‘n hoër sitposisie en beter uitsig vir die insittendes. Daar is sewe sitplekke en dis maklik om in en uit die voertuig te klim.  Die tweede en derde rye sitplekke is onderskeidelik in ‘n 60: 40- en 50:50-verhouding verdeel en vou in die bakwerk in wanneer bykomende bagasieruimte nodig is. Een kenmerk wat uniek in sy klas is, is ‘n armleuning in die tweede ry sitplekke wat platgevou kan word om terselfdetyd ‘n vrag en passasiers te dra. Selfs met sewe insittendes is daar plek vir ‘n baba-stootwaentjie. 

Die jongste weergawe van Mitsubishi se 1,5 liter-vier-silinder enjin sal vir die Xpander Cross gebruik word, en voornemende kopers sal tussen ‘n  hand- of outomatiese ratkas kan kies. 

Die presiese Suid-Afrikaanse spesifikasies, asook die samestelling van die reeks en pryse sal later bekendgemaak word.

Categories:
%d bloggers like this: