Breaking News

Mitsubishi brei sy plaaslike reeks uit met Xpander

Mitsubishi Motors het pas sy Suid-Afrikaanse reeks uitgebrei met die bekendstelling van die Xpander.

Hierdie nuweling kombineer die stilering van ‘n sportnuts-voertuig en die ruimte van ‘n mensekarweier en kan as ‘n kruising tussen die twee beskou word. Die Xpander is gebaseer op die XM Concept wat in 2016 by die Gaikindo Internasionale Motorskou in Indonesië vertoon is. Die produksie-weergawe is die volgende jaar by dieselfde geleentheid bekendgestel, en die belangstelling was so groot dat meer as 11 000 bestellings vooraf geplaas is voordat fhy te koop aangebied is. Die Indonesiese aanleg moes gevolglik sy maandelikse produksie verdubbel. Daarby word die Xpander in hierdie aanleg vervaardig vir die market in die Filippyne, Nepal, Thailand, Maleisië, Viëtnam, Bangladesj, Egipte, Sri Lanka en nou ook Suid-Afrika. Sedertdien het die Xpander toekennings in Indonesië gewen, onder meer die Motor van die Jaar-toekenning in 2017 en 2018, asook in die Filippyne.

Aan die voorkant is daar ‘n nuwe swart gesig wat die Xpander ‘n sportiewe voorkoms gee, asook ‘n sierrooster wat in die stamper gemonteer is, en halogeen-kop-en misligte en dagryligte. Aan die agterkant is daar ligdiode-agterligte wat om die hoeke krul. Allooiwiele van 15 of 16 duim, afhangende van die model, is standaardtoerusting. Die grondvryhoogte van 205 mm beklemtoon die Xpander se sportiewe en praktiese karakter.

Aangsien die Xpander as ‘n mensekarweier beskou word, is daar sewe sitplekke, met die tweede en derde rye wat in ‘n 60:40-verhouding verdeel word. Die derde ry sitplekke kan in die bakwerk weggevou word wanneer dit nie gebruik word nie. Die binnekant spog ook met geriefseienskappe soos outomatiese lugversorging, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met Bluetooth, stembeheer en ‘n voorste USB-kragpunt, drie 12 volt-kragpunte, ‘n veelfunksie-stuurwiel, ‘n trukamera en elektriese vensters reg rondom.

Die Xpander word aangedryf deur ‘n 1,5 liter dubbelbonokas-viersilinderenjin met sestien kleppe en wisselende kleptydbeheer. Hierdie enjin, wat beskikbaar is met ‘n vyfgang-handratkas of ‘n vyfgang-outomatiese ratkas, lewer 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 141 Nm teen 4 000 opm.  

Albei modelle word toegerus met veiligheidskenmerke soos ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding, ISOFIX-hegpunte vir die montering van kinderstoeltjies, Mitsubishi se RISE-bakwerk-konstruksie met syslagstawe en volg-my-en-lei-my-kopligte. 

Die engiste verskil tussen die handrat- en outomatiese model is dat die outomatiese model met 16-duim- eerder as 15-duim allooiwiele toegerus word.

Die pryse van die twee modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van twee jaar of 30 000 km insluit, is  R 299 995 vir die handrat-model en R 319 995 vir die outomatiese model.

%d bloggers like this: