Mitsubishi by Nampo Kaap 2019

Toetsbestuur die beste van Mitsubishi by Nampo Kaap 2019.

Mitsubishi SA gaan nie net hulle produkreeksby die  Nampo Kaap-skou van Graan SA, wat van 4 tot 6 September op Bredasdorp in die Wes-Kaap aangebied word, ten toonstel nie, maar gaan ook besoekers die geleentheid bied om die voertuie te toetsbestuur.

Dié landbou-byeenkoms, wat op die jare lange Nampo-skou in die Vrystaat gegrond is, word vanjaar die tweede keer met ’n hele aantal verbeterings, waaronder ‘n groter 4×4- en toetsritbaan, aangebied.

Drie van die hoogtepunte vir besoekers by die skou is die splinternuwe Mitsubishi Eclipse Cross, die nuwe 2019 Triton-bakkie en die Pajero Sport.

Mitsubishi se Eclipse Cross is nie net ’n stadsmotor nie – hierdie nutsmotor bring die kompakte sportnuts tot in die moderne tydvak en is ewe tuis in die platteland as in die betonoerwoud.

Die nuwe Mitsubishi Pajero Sport, wat gretig deur die mark aanvaar is, sit die erfenis voort wat sy Dakar-oorheersende stalmaat daargestel het, toe die Pajero die moeilikste motorsportbyeenkoms ter wêreld twaalf jaar lank met nie minder nie as sewe agtereenvolgende oorwinnings (wat vandag nog nie geëwenaar is nie) gewen het.

Die nuwe 2019-Triton, wat ontwikkel is om taai genoeg vir enige uitdaging te wees – op landerye reg oor die land, op die oop pad en in die stad of in die veld in enige van Suid-Afrika se nege provinsies en Afrika-buurlande – sal ook vir toetsritte beskikbaar wees.

Besoekers sal die Triton en Pajero Sport op die nuwe 4×4-baan kan beleef met ’n instrukteur wat die voertuie deur hul passies sal sit om voornemende kopers te laat ervaar hoe dit voel as hierdie fris, hardebaard-viertrekvoertuie tot die uiterste gery word.

Plaaslike Mitsubishi Motors SA-handelaars by die skou sal kopers die 4×4-somerverkooppromosie bied met ’n besparing van R50 000 vir die Pajero Sport 4×4, R80 000-depositohulp vir die Outlander en spesiale maandelikse paaiemente waar klante hul eie voorwaardes kan kies.

“Die splinternuwe Eclipse Cross, die Pajero Sport en die fris Triton met sy sterk, nuwe voorkoms bied unieke geleenthede vir boere en plattelandse en stedelike kopers. Die nuutste weergawe van die Triton is byvoorbeeld aansienlik meer mededingend en voldoen aan die uiteenlopende behoeftes van nie net bakkie-klante reg oor die hele wêreld nie, maar ook die eise van hardwerkende boere reg oor die land,” sê mnr. Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika.

• Besoek www.mitsubishi-motors.co.za om ’n toetsrit by Nampo Kaap 2019 te bespreek.

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: