Mitsubishi dink weer oor kompakte sportnutse

Kort nadat Mitsubishi sy Eclipse Cross in Suid-Afrika bekendgestel het, het dié Japanse vervaardiger aangekondig dat hy sy reeks kompakte sportnuts-voertuie, wat almal minder as R 500 000 kos, gaan herposisioneer.

Hoewel die ASX, die Eclipse Cross en die Outlander almal op die mark bly, gaan die ASX-reeks na twee modelle verminder word. Die rede vir hierdie besluit is dat die maatskappy die beste moontlike waarde vir geld aan sy kopers wil bied. Volgens Nic Campbell, die algemene bestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika, bied die reeks sportnuts-voertuie, wat onder die Pajero Sport en Pajero in Mitsubishi se reeks inpas, iets vir elke moontlike smaak. Die ASX is steeds onder aan die mark, die Eclipse Cross in die middel en die Outlander, wat onveranderd bly, aan die bokant.

Die ASX-reeks sal voortaan bestaan uit twee ES-modelle, wat ‘n keuse tussen ‘n hand- en palwissel (CVT)-ratkas sal bied. Die hele sportnuts-voertuig-reeks vol gook nou dieselfde ontwerp-rigting en is duidelik herkenbaar as stalmaats. Albei ASX-modelle behou die twee-liter enjin met vier silinders waarmee die reeks van die begin af toegerus is. Hierdie enjin lewer 110 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 197 Nm teen 4 200 opm.

Die ASX ES het verskeie veiligheids kenmerke as standaard toerusting, onder meer Mitsubishi se RISE (Reinforced Impact Safety Evolution)-stelsel wat die motor se insittendes teen botsings beskerm, altesaam sewe lugsakke, sitplekke wat ontwerp is om sweepslag-beserings uit te skakel, ISOFIX- hegpunte vir die agtersitplekke, dagryligte en elektroniese vastrapbeheer vir die CVT-model. Daar is ook ‘n trukamera en agterste parkeer-sensors. Sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie is standaard toerusting en die voertuig se deure sluit outomaties wanneer daar weggetrek word.

Albei modelle word toegerus met ‘n panoramiese dak, ‘n leer-oorgetrekte veelfunksie-stuurwiel, ‘n radio met ‘n CD- en MP 3-speler en ‘n raakskerm, Bluetooth-verbinding met stembeheer, outomatiese lugversorging en ‘n veeldoelige uitleespaneel met onder meer ‘n ritrekenaar, ‘n buite- termometer en ‘n aanduiding wanneer die motor weer versien moet word.

Die pryse van die twee ASX-modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000km insluit, is R 359 995 en R 379 995 vir die handrat- en CVT-modelle onderskeidelik.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: