Mitsubishi Pajero Sport-reeks opgeknap en uitgebrei

0 Comments

Mitsubishi Motors het pas ‘n opgeknapte weergawe van sy Pajero Sport-reeks bekendgestel en die reeks uitgebrei met die toevoeging van nog ‘n 4×4-model.

Die reeks bestaan nou uit die 4×2, die 4×4 en ‘n nuwe 4×4 top-model bekend as die Exceed. Die Pajero Sport het ‘n belangrike model in Mitsubishi se Suid-Afrikaanse reeks geword en die nuwe model is ‘n stap vooruit in vegelyking met sy voorganger. Een van die mees uitstaande kenmerke van die nuwe model is sy Dynamic Shield-sierrooster, wat hom ‘n meer moderne en stylvolle voorkoms gee. Die voorkant spog ook met ligdiode-kopligte, dagryligte en misligte, met koplig-wassers vir die 4×4-modelle. Daar is nuwe allooiwiele van 18 duim en die kanttrappe is herontwerp. Die ligdiode-agterligte is korter as voorheen, en die agterste drukvlerk en lugverdeler dra by tot ‘n sportiewe voorkoms.

Die nuwe reeks behou die 2,4 liter turbo-diesel enjin wat vir die vorige modelle gebruik is; hierdie enjin lewer 133 kW teen 3 500 opm en wringkrag van 430 Nm teen 2 500 opm en word gekoppel aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange met ratspane agter die stuurwiel.

Die nuwe model in die reeks is die 4×4 Exceed; soos die gewone model beskik hy oor Mitsubishi se toon-aangewende Super Select-vierwiel-aandrywingstelsel met verskillende modusse vir grondpad, modder of sneeu, sand en klip vir die Exceed. Hierdie modusse verseker die beste moontlike vastrap-vermoë onder selfs die moeilikste omstandighede.  Die 4×4-modelle spog ook met afdraande-hulp, elektroniese veldryhulp en ‘n agterste ewenaarslot. 

Mitsubishi se RISE (Reinforced Impact Safety Evolution) is deel van die veiligheids-kenmerke wat standaard toerusting vir die hele reeks is. Daar is ook altesaam sewe lugsakke en ISOFIX-hegpunte vir die tweede ry sitplekke. Onder die aktiewe veiligheids-kenmerke is daar stabiliteits- en vastrapbeheer, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en noodrem-hulp, wegtrek-hulp, agterste parkeer-sensors tesame met ‘n trukamera en kopligte en ruiveërs wat onderskeidelik skemer en reën bespeur.

Die binnekant spog met luukse kenmerke soos ‘n veelfunksie-stuurwiel met kontroles vir die klankstelsel en spoedbeheer, volle leersitplekke, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, en ‘n agtduim-raakskerm met volle selfoon-integrasie wat Android Auto en Apple Car Play insluit. Een splinternuwe kenmerk is ‘n digitale instrumentepaneel met ‘n volkleur-uitleespaneel, terwyl die middel-konsole nuut ontwerp is. Daar is nou bykomdende USB-kragpunte in die kajuit, onder meer twee vir die agterste insittendes en ‘n 220 AC-150 Watt kragprop. Soos voorheen is daar altesaam sewe sitplekke; die derde ry vou in die bakwerk in wanneer dit nie gebruik word nie. Die Exceed se bykomende kenmerke is ‘n elektries beheerde kantel-en-skuifsondak, volle sleutellose toegang met Mitsubishi se Remote Control Connectrivity en ‘n elektries beheerde agterklap.

Die pryse van die nuwe modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, lyk só:

Pajero Sport 4×2: R 609 995

Pajero Sport 4×4: R 659 995

Pajero Sport 4×4 Exceed: R 679 995

 

Categories:
%d bloggers like this: