Mitsubishi se Triton dubbelkajuit vernuwe

Skaars ses maande na sy internasionale bekendstelling het Mitsubishi sy jongste Triton in Suid-Afrika op die mark gebring.

Die nuwe model wat veertig jaar van produksie van Mitsubishi-bakkies vier, is aansienlik meer mededingend en volgens Nic Campbell, die hoof bestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika, voldoen die nuweling aan die behoeftes van bakkie-klante oor die hele wêreld.

Die vooraansig is ‘n teken van die ontwerprigting wat Mitsubishi tans inslaan. Die nuwe model se gesig sluit die “Dynamic Shield” ontwerp-konsep in. Die nuwe enjinkap en hoë kopligte gee die nuweling ‘n kragtiger en meer indrukwekkende voorkoms. Aan die kant verpersoonlik nuutgevormde romplyne met teenstellende skerp lyne en uitgeboude wielnisse die krag van die nuwe bakkie en gee dit ‘n modern voorkoms. Die ontwerp van die agterligte en die agterstamper gee hom ‘n breër voorkoms.

 

Die nuwe Triton is heelwat veiliger as sy voorganger; hoewel hy die leer-raam onderstel van die vorige model behou, beskik hy, volgens Mitsubishi Motors, oor die beste gevorderde aktiewe veiligheids-en bestuurs-hulp stelsels in sy klas. Die volgende kenmerke is standaard toerusting: RISE (Reinforced Impact Safety Evolution)-romp samestelling, sewe lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, ABS-remme met elektroniese rem-verspreiding en noodremhulp, aktiewe vastrap-en stabiliteits beheer, deure wat sluit wanneer die voertuig wegtrek, sleutellose toegang en ‘n tru- kamera.Die kajuit het ‘n groot opgradering ondergaan en die herstileerde binneruim spreek van ‘n modern en robuuste gevoel. Die volgende kenmerke is standaard toerusting: kantel- en teleskopies verstelbare stuurkolom, leegoorgetrekte veel-funksie stuurwiel met klank- en spoed beheer, Bluetooth-verbinding met handvrye stembeheer, outomatiese dubbelsone-lugversorging, inligting- en-vermaak stelsel met Apple Car Play en Android Auto wat opsioneel beskikbaar is, USB- kragpunte asook kragpunte vir bykomstighede, leerbekleedsel met elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek en ‘n chromatiese trusipeël.

Die nuwe Triton het Mitsubishi se beproefde MIVEC-turbo-diesel enjin van 2,4 liter as standaard toerusting. Hierdie enjin het ‘n kraglewering van 133 kW teen 3 500 opm en ‘n wringkrag van 430 Nm teen 2 500 opm. Dié enjin is beskikbaar met ‘n sesgang-handratkas asook Mitsubishi se splinternuwe outomatiese sesgang-ratkas met intelligente wissel-beheer wat ‘n balans tussen enjinkrag, brandstof verbruik en binneruimstilte met gladde versnelling teen lae snelhede verseker. Die gemiddelde brandstof verbruik vir die handrat- en outomatiese modelle is onderskeidelik 7,5 en 7,6 liter per 100 km.

Die 4WD-model spog met die nuwe weergawe van Mitsubishi se bekende Super Select II-4WD- stelsel met ‘n laestrek-ratkas, wat die beste trekkrag- en hanterings-eienskappe vir enige oppervlak bied en veldry vermoë verbeter. Die outomatiese model beskik oor ‘n veldry modus wat Gravel-, Mud/Snow-, Sand- en Rock-modusse (laas genoemde net in 4 LLC) bevat. Wanneer dit gekoppel word, beheer die veldrymodus die krag, transmissie en remverrigting van die voertuig om die hoeveelheid wiel-glip te beheer en die voertuig se verrigting op enige terrein so goed as moontlik te maak. Die 4H (hoëstrek)-instelling verrdeel die wringkrag in ‘n 40:60-verhouding tussen die voor- en agterwiele via ‘n Torsen-vastrap toestel vir veiliger motorry in gladde toestande soos los gruis of nat-paaie. Die 4HLC (hoëstrek met ewenaarslot)-instelling verdeel die wringkrag eweredig tussen die voor- en agterwiele vir verbeterde trekkrag in sand, grondpaaie en in sneeu, terwyl die 4 LLC (laestrek met ewenaarslot)-instelling groter wringkrag vir uiterste veldry toestande bied. Die veldry- ervaring van die 4WD-stelsel word verder verbeter deur die afrdaande beheer wat veiligheid op moeilike terrein verseker. Dit beheer die voertuig-spoed elektronies en stel die bestuurder in staat om gladde of steil afdraandes met veiligheid en elektroniese hulp aan te durf.

Daarby word klouvermoë verbeter wanneer die veldry-modus gekies word. Dit stel die bestuurder in staat om die gruis-, modder/sneeu- of sandmodus in 4 HLC te kies om by die oppervlak-toestande te pas deur enjinuitset, ratkasinstellings en remverrigting te vervolmaak en vir uitnemende klouvermoë te sorg. Die bykomende Rock-modus in die 4 HLC-instelling kan die Triton onstuitbaar maak.

Die pryse van die nuwe Triton-modelle, wat ‘n fabrieks-waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km, asook padbystand van vyf jaar, ongeag die voertuig se kilometer afstand insluit, lyk as volg:

Triton 2,4 Di-dubbelkajuit 4×2 handrat: R 509 995
Triton 2,4 Di-dubbelkajuit 4,2 outomaties: R 529 995
Triton 2,4 Di-dubbelkajuit 4×4 handrat: R 569 995
Triton 2,4 Di-dubbelkajuit 4×4 outomaties: R 589 995

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: