Mitsubishi se Eclipse Cross kry ‘n turbo

0 Comments

Met die loodsing van die Mitsubishi Eclipse Cross in 2019 het Mitsubishi Suid-Afrika belowe om ‘n turbo-aangejaagde model by die reeks te voeg.Die belofte is gehou en die Eclipse Cross 1,5 Turbo is sopas bekendgestel.

Die oorspronklike Eclipse Cross was, volgens Mitsubishi Motors SA se hoof-bestuurder mnr. Nic Campbell, ‘n treffer van die begin af en hy glo dat dié model daarop sal voortbou. Die nuwe  model is die eerste motor in Mitsubishi Motors se reeks wat toegerus word met ‘n splinternuwe turbo-aangejaagde vier-silinder enjin van 1,5 liter. Hierdie enjin lewer 110 kW teen 5 500 opm en wringkrag van 250 Nm teen tussen 2 000 en 3 500 opm. Die palwissel (CVT)-ratkas  met ratspane agter die stuurwiel, wat standaard toerusting saam met hierdie enjin is, kry ‘n sportmodus om werkverrigting en brandstof-doeltreffendheid te verbeter. Verder spog die enjin met wisselende kleptydreëling, wat spesifiek deur Mitsubishi Motors ontwikkel is. Die MIVEC-stelsel wissel die tydsberekening van die inlaat- en uitlaatnokas, wat die drywing en wringkrag-uitset oor ‘n breë enjin-snelheidsreeks verhoog; daarby help dit om die turbo-aanjaer vinniger en meer doeltreffend te laat draai.  Die CVT-ratkas beskik oor agt stappe wat gladde en kragtige versnelling verseker en brandstof-doeltreffendheid verbeter. Dit maak ‘n gemiddelde brandstof verbruik van 7,7 liter per 100 km in die gekombineerde skilus moontlik terwyl CO2-uitlaatgasse teen 174 g/km uitgeskei word.

Die binnekant is baie dieselfde as dié van die res van die reeks, behalwe dat koolstofinsetsels by die deure ingesluit is. Die hele reeks beskik oor ‘n opwip-vertoon-skerm wat belangrike inligting vir die bestuurder gee sonder dat dit nodig is om ‘n mens se oë van die pad af te haal. Ligdiode-tegnologie word vir die beligtings-pakket gebruik. Sommige van die ander standaard kenmerke is elektriese vensters voor en agter wat met net een druk van die knoppie oop- of toegemaak kan word, ‘n leer-oorgetrekte veelfunksie-stuurwiel, ‘n klankstelsel met Bluetooth wat met stembeheer kan werk, outomatiese lugversorging met luguitlate vir die agterste insittendes asook USB-kragpunte.

Aan die buitekant word die nuweling onderskei deur middel van ‘n TURBO-kenteken, terwyl elektries-verstelbare en invoubare buitespieëls met geïntegreerde rigting-wysers, ligdiode-kopligte met dagryligte en misligte, allooi-wleie van 18 duim, dakspore en ‘n chroom skermplaat onder die voorste stamper standaard toerusting is. Twee nuwe skakerings van blou en wit is ook nou beskikbaar.

Soos die twee-liter model het die Turbo-model ‘n aantal aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke as standaardtoerusting. Daar is altesaam sewe lugsakke, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en nood-remhulp, aktiewe stertswaai-beheer, wegtrek-hulp, sentrale sluiting met sleutellose toegang en deure wat outomaties sluit as die voertuig wegtrek en ‘n trukamera. 

Die Turbo sluit hom by die twee-liter modelle aan, maar is net met voorwiel-aandrywing beskikbaar. Die pryse van die Eclipse Cross-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en padbystand van vyf jaar ongeag die motor se kilometer-lesing insluit, lyk só:

 

Eclipse Cross 2,0 CVT: R 409 995
Eclipse Cross 2,0 CVT AWD: R 449 995
Eclipse Cross 1,5 Turbo: R 459 995

Categories:
%d bloggers like this: