Mitsubishi se Outlander nou goedkoper

0 Comments

Te midde van ‘n moeilike jaar vir verskeie motorvervaardigers het Mitsubishi ‘n toename in verkope getoon en het nou ‘n derde nuwe model vir 2020 bekendgestel: Die nuwe Mitsubishi Outlander.

Die Outlander is nie net opgeknap nie, maar die nuwe model se prys is R 60 000 laer as dié van sy voorganger.  Die heel eerste Outlander is in September 2003 in Suid-Afrika bekendgestel en die jongste model spog met ‘n aantal nuwe eienskappe wat hom nie net van sy voorganger onderskei nie maar ook beter waarde vir geld bied.

Die nuwe Outlander is die derde nuwe Mitsubishi wat vanjaar bekendgestel word nadat die opgeknapte ASX en die Eclipse Cross 1,5 Turbo ook onlangs op die mark gekom het. Die nuwe model spog met Mitsubishi se unieke S-AWC (Super All Wheel Control) wat dinamiese hantering en verhoogde veiligheid vir die bestuurder en die passasiers bied.

Die stilering van die nuwe Outlander weerspieël Mitsubishi se huidige ontwerprigting, met ‘n nuwe sierrooster en voorstamper, herontwerpte allooi-wiele en ‘n nuwe agterstamper. Die kopligte wat outomaties aangeskakel word sodra sigbaarheid daal, beskik oor skermsensors en die agterklap wat met die druk van ‘n knoppie oop- en toegemaak word, is ‘n uiters gerieflike nuwe kenmerk.

Soos voorheen het die nuwe Outlander sewe sitplekke en ‘n belangrike nuwe kenmerk is ‘n bêreplek vir die bagasieruim se seiltjie agter die derde ry sitplekke wanneer dit nie gebruik word nie.  Die verhitbare voorsitplekke het elektriese verstelling vir laerugsteun. Die bestuurder kan die perfekte sitposisie met behulp van elektriese- en handverstelling bewerkstellig. Die grootste verskil aan die binnekant is die nuwe slimfoon-gekoppelde klankstelsel met ‘n volkleur-raakskerm van agt duim wat oor Apple Car Play en Android Auto, asook Bluetooth-verbinding en stembeheer beskik. Die sitplekke se leerbek-leedsel is opgegradeer en daar is nuwe beslag vir die paneelbord en deurpanele. Die agterste insittendes kry USB-kragpunte waarmee hul slimtoestelle gelaai kan word en die elektriese vensters maak heeltemal oop en toe deur die knoppie net een keer te druk.  Die tweede en derde ry sitplekke kan platgeslaan word en word onderskeidelik in ‘n 60/40- en 50/50-verhouding verdeel. Al die sitplekke kan ook tegelyk platgevou word wanneer groot items vervoer moet word. 

Die nuwe Outlander word toegerus met die jongste weergawe van Mitsubishi se MIVEC-enjin  van 2,4 liter met sestien kleppe en ‘n dubbele bonokas. Hierdie enjin, wat aan ‘n palwissel (CVT)-ratkas met ses stappe gekoppel word, lewer 123 kW teen 6 000 opm en wringkrag van wringrag van 222 Nm teen 4 100 opm.  Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstof verbruik in ‘n gekombineerde siklus 8,2 liter per 100 km.

Onder die veiiligheids-kenmerke wat standaard toerusting vir die Outlander is, is ‘n parkeerem met Auto Hold, wat keer dat die voertuig teen ‘n opdraand agteruit loop, ‘n trukamera, outomatiese kopligte en ‘n trukamera. Die vierwiel-aandrywing stelsel versprei wringkrag na die voorwiele of al vier wiele na gelang van omstandighede en behoeftes  en werk saam met die S-AWC-stelsel om veiligheid te verbeter. Die aktiewe swaai-beheer gebruik remwerk om wringkrag na links of regs te verdeel soos wat dit nodig is; die bestuurder bly sonder ekstra stuurinsette in beheer selfs wanneer daar te hard gerem of versnel word. Die bestuurder het ‘n keuse tussen Eco-, Normal-, Snow- of Gravel-modusse wat by verskillende padoppervlaktes of omstandighede  aanpas. Die nuwe sleutelllose toegang-stelsel werk binne ‘n radius van 70 cm en die motor word deur middel van ‘n knoppie aangesit. 

Die nuwe Outlander word gerugsten deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en pad-bystand van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerlesing. Die prys van die nuwe Outlander 2,4 GLS CVT 4WD is R 499 995.

Categories:
%d bloggers like this: