Mitsubishi se Triton Xtreme is hier

0 Comments

Mitsubishi Motors het pas ‘n nuwe toevoeging tot sy Triton-bakkiereeks bekendgestel.

Die Triton Xtreme sal net in een model beskikbaar wees, naamlik ‘n dubbel-kajuit 4×4 met ‘n outomatiese ratkas. Volgens Nic Cambpell, die algemene bestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika is ‘n bakkie vir Suid-Afrikaners nie net ‘n werkesel nie maar ‘n status-simbool wat hulle bo die massa laat uitstyg. Die Triton Xtreme is gemik op diegene met ‘n meer avontuur-lustige leefstyl wat op soek is na iets besonders, en nie skaam is daaroor nie. Die Triton Xtreme bied ‘n aantal bykomende kenmerke wat na aanleiding van terugvoer van klante bygevoeg is, en hoewel die waarde daarvan omtrent R 100 000 is, kos die Xtreme net ongeveer R 40 000 meer as die gewone model.

Mitsubishi het in 2019 ‘’n toename in verkope ondervind te midde van ‘n mark wat besig is om te krimp, en die Triton Xtreme is die vierde nuwe model wat Mitsubishi vanjaar bekendstel.  Die Xtreme word aangedryf deur dieselfde 2,4 liter turbo-diesel enjin as die gewone model; hierdie enjin, wat aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange, ‘n handrat-funksie en ratspane agter die stuurwiel gekoppel word, lewer 133 kW teen 3 500 opm en wringkrag van 430 Nm teen 2 500 opm. Die Xtreme het Mitsubishi se toon-aangewende Super Select 4×4-stelsel met laestrek as standaard toerusting.

Aan die buitekant is daar heelwat kenmerke wat die Xtreme van die gewone Triton onderskei. Daar is ‘n swart sierrooster-en voorstamper-kombinasie asook ‘n beskermer vir die enjinkap en kopligskerms wat die bakwerk teen vlieënde klippe beskerm. Aan die kant is daar beskerming vir die deurhandvatsels, swart wielboë, kanttrappies, Xtreme-kentekens, ‘n rolstaaf agter die kajuit, dakspore en swart allooiwiele met Pirelli Scorpion All Terrain-bande. Agter is daar skerms vir die agterligte, ‘n Bosal-trekstang, ‘n slot vir die agterklap, ‘n bakseil  en rubbervoering vir die laaibak. Android Auto- en Apple Car Play-verbinding en ‘n sportiewe knop vir die ratkieser is die uitstaande kenmerke aan die binnekant.

Die Xtreme beskik oor al die veiligheids-kenmerke wat standaard toerusting vir die res van die reeks is. Afraande- en wegtrekhulp is deel van die Super Select II-stelsel, tesame met elektroniese vastrap- en stabiliteits-beheer. Daar is altesaam sewe lugsakke en Mitsubishi se gevorderde RISE (Reinforced Impact Safety Evolution)-konstruksie maak gebruik van frommelsones wat insittendes tydens ongelukke teen hoë snelhede beskerm. Daar is ook syslagstawe in die deure en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke.

Die Triton Xtreme word gerugsten deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en padbystand van vyf jaar ongeag die motor se kilometer-lesing. Sy prys is R 639 995.

Categories:
%d bloggers like this: