Morris herleef met elektriese paneelwa

0 Comments

In 1948 is die Morris J-Type vir die eerste keer by die Earls Court-motorskou in Londen vertoon; hy het ‘n jaar later in produksie gegaan en was tot 1961 ‘n uiters gewilde handelsvoertuig, nie net in Brittanje nie maar ook in inder meer Australië en Nieu-Seeland.

Die Morris-naam het in 1984 gesneuwel toe die Ital aan die internasionale mark onttrek is.  Hierdie naam gaan egter nou herleef met die bekendstelling van die JE, ‘n elektriese paneelwa met stilering wat deur die J-Type geïnspireer is. 

Die J-Type het ‘n unieke bakvorm gehad en het ‘n jaar voor die Volkswagen Kombi op die mark verskyn. Sy unieke stilering , met ‘n V-vormige neus, ‘n aërodinamiese daklyn en bakwerk, verdeelde voorruit en twee agterste deure wat aan die kant geskarnier en na buite oopgemaak het asook twee skuifdeure het hom baie gewild gemaak. Die oorspronklike model was toegerus met ‘n syklep-enjin van 1,5 liter, wat uit die destydse Morris Oxford MO-reeks gekom het en aan ‘n handratkas met drie gange gekoppel was. In 1957 is hierdie enjin en ratkas vervang deur ‘n meer moderne enjin met ‘n soortgelyke verplasings inhoud,  saam met ‘n viergang-handratkas. Die J-Type was in verskillende modelle beskikbaar, onder meer ‘n bakkie, ‘n minibus met nege sitplekke, ‘n roomyswa en ‘n kampeerder. 

Die Britse posdiens, Royal Mail, was die grootste aankoper van die J-Type terwyl die Royal Automotive Club (RAC) hom as diensvoertuig gebruik het. Die J-Type was ook ‘n pionier in die gebruik van ‘n paneelwa as ‘n mobiele advertensiebord en het ‘n groot bydrae gelewer in die bevordering van entrepreneurskap in Brittanje in die jare na die Tweede Wêreld oorlog. Verskeie bekende handelsname het die J-Type gebruik, onder meer Cadbury, Carlsberg, Oxo, Pickfords  en Dunlop. In 1961 is die J-Type deur die meer moderne J4-reeks vervang.

In 2017 het die eerste sketse van die JE verskyn; die projek was op daardie stadium ‘n goed bewaarde geheim. Die gedagte met die JE is nie om ‘n replika van die J-Type te ontwikkel nie, maar eerder ‘n nuwe vertolking van ‘n klassieke ontwerp. Tesame met die Land Rover Defender en die Mini word die J-Type as ‘n legendariese Britse ontwerp beskou. Die oorspronklike J-Type was onbeskaamd uniek en die JE sal sy uitstaande kenmerke in ‘n moderne ontwerp saamvat. Die laaste paar jaar het praktiese oorwegings die belangrikste kenmerke van die ontwerp van handels-voertuie geword, maar die JE sal ‘n opwindende ontwerp bekendstel sonder om veelsydigheid in te boet.  Die JE behoort byval te vind by klein ondernemings vir wie individualiteit belangrik is, maar ook groot maatskappye in onder meer die gas-vryheids bedryf, sport en ontspanning en geleentheids beplanners. 

Die JE sal in die 2,5 ton-segment meeding en oor ‘n loonvrag van een ton tesame met ‘n drakapasiteit van 5,5 kubieke meter, wat eerder in voertuie van 3,5 ton voorkom , beskik. Twee standaard Euro-palette sal maklik inpas; en daar kan toegang tot die laairuimte verkry word deur middel van twee agterste skuifdeure wat aan die kante geskarnier is en een skuifdeur aan die kant. 

Die groot nuus is dat die JE heeltemal elektries sal wees, en met ‘n gevorderde litium-ioonbattery toegerus sal wees.  Die bakwerk van koolvesel maak hom een van die ligste handelsvoertuie in sy marksegment. Dit verbeter sy krag-tot-massaverhouding en verbeter sy reikafstand tot ‘n verwagte 320 km.  Morris Commercial is verbind tot ‘n volhoubare toekoms sonder uitlaatgasse of besoedeling en daarom sal elke model wat voortaan bekendgestel word, met ‘n elektriese kragbron toegerus word. Die JE, en alle toekomstige Morris Commercial-prodkute, sal met gevorderde tegnologioe spog, asook goeie vakmanskap en sal ‘n unieke alternatief in ‘n mark vol generiese ontwerpe bied.  

Produksie van die JE sal na verwagting teen die einde van 2021 ‘n aanvang neem; dit sal ‘n nuwe toekoms van elektriese voertuie vir ‘n legendariese Britse fabrikaat inlui.

Categories:
%d bloggers like this: