Breaking News

MotoGP het nat einde.

Deur Neels Rabe

Dit is Ducati se Andrea Dovizioso wat die finale MotoGP wedren van die seisoen wen op ‘n baie nat Valencia renbaan. Die aanvanklike wedren word na 15 rondtes gestop weens swaar reën, met Suzuki se Alex Rins aan die voortou. Verskeie jaers val, onder andere wêreldkampioen Marc Maquez (Honda), en die man wat voor weggespring het, Maverick Vinales (Yamaha).

Dis egter “Desmo Dovi” wat kort na die tweede wegtrek vir Rins verbysteek, en behalwe vir ‘n baie vinnige Valentino Rossi op sy Yamaha, nie onder enige druk was nie. Rossi het uitstekend gejaag, maar ongelukkig geval kort nadat hy in die tweede posisie ingeskuif het. Dit het beteken dat Alex Rins tweede eindig agter Dovizioso.

Die ander groot nuus was KTM se eers podium in MotoGP. Dis Pol Espargaro wat die derde plek los jaag nadat hy in die eerste deel van die wedren val, sy motorfiets optel, en weer aanjaag. Na die eerste wedren  gestop word, kry hy die kans om weer saam met sy teëstanders weg te trek. Hierdie keer maak hy geen fout nie, en tot groot vreugde van die KTM-span geniet hulle vir die eerste keer die vreugdes van ‘n MotoGP podium-viering.

Die meeste spanne bly aan in Spanje vir die baie belangrike eerste toetssessie met die oog op die 2019 seisoen. Baie van die jaers wat spanne ruil, kry ook die eerste geleentheid om hulle 2019 renfietse te toets. In die wêreldkampioenskap is dit Marc Marquez wat koning kraai, met Andrea Dovizioso tweede, en die 39-jarige Valentino Rossi derde.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: