Jy weet die vakansie is verby as die “National Association of Automobile Manufacturers of South Africa” (NAAMSA) se verkoopsyfers van die vorige maand se voertuig-verkope eers in die tweede week van Januarie bekend gemaak word.

Soos aanvanklik gevrees is, was Desember 2018 se verkope laer as Desember 2017 se totaal. Nuwe voertuigverkope het op 39 984 eenhede te staan gekom wat 767 eenhede, oftewel 1.9% minder was as die vorige Desember s’n.

Die verkope van passasiersmotors was 26 547, terwyl 11 218 ligte handelsvoertuie verkoop is. Dit is ‘n totale daling van 7%.

Daar is egter goeie nuus wat die uitvoermark betref. Desember 2018 se totaal het dramaties toegeneem tot 31 437 wat 11 330 meer is as 12 maande te vore.

Die gebruiklike Top Tien Motorverkopers-lys het ook verskeie skommelinge ondergaan.

Toyota bly die markleier met 9 038 verkope, maar dis amper twee duisend eenhede minder as die voorafgaande maand. Toyota maak steeds staat op sy topverkoper Hilux (2 907), terwyl 1 027 kopers Fortuners aangeskaf het – waarskynlik met die oog op die Desember-vakansie.

Ook Volkswagen – steeds tweede met 6 594 verkope – sal nie sy verlies van amper twee duisend eenhede aan die groot klok wil hang nie. Volkswagen kan darem steeds spog met die twee topverkoper passasiersmotors, naamlik die Polo (2 051) en die Polo Vivo op 1 711 verkope. Ander presteerders van Volkswagen SA was die Tiguan, wat met 485 verkoopte eenhede Toyota se 410 RAV verkoopte eenhede getroef het.

Die opskudding van die maand was egter ten opsigte van derde algeheel op die Top Tien Motorverkopers-lys deurdat Nissan met 3 906 verkope goed genoeg was om een plek opwaarts te klim en Ford (3 467) tot die vierde plek af te skuif.

Datsun Go Motorplus.co.za

Die Datsun Go toon goeie verkope.

Nissan se staatmakers was Datsun GO (508) en sy sub-eentonner NP200 waarvan 1 572 eenhede verkoop is. Die Nissan Qashqai (263) en staatmaker X-Trail (216) vaar steeds redelik, terwyl Ford se Ranger met 1 931 verkope die spreekwoordelike wa deur die drif moes help sleep.

Die ander verrassing onder die Top Tien was Renault wat met 2 936 verkope vyfde plek behaal het en plekke geruil het met Hyundai (2 839). Renault se sterre was Kwid (1 354), Clio IV (775) en Sandero II op 449 verkope.

Hyundai se presteerders was sy Grand i10 (906) en i20 met 619 verkope. Die oulike nuwe Kona het na 118 nuwe eienaars gegaan, terwyl die basies ewe groot Hyundai Creta 285 eenhede verkoop het. 294 Tucson eenhede is verkoop, wat beteken dat die Tucson nog nie met Volkswagen se Tiguan en Toyota se RAV kompeteer nie.

Sonder om te berig oor individuele modelle, het BMW (1 583) in die sewende plek ingeskuif – ‘n merkwaardige prestasie na November se tiende plek.

Isuzu (1 369) het een plek afgeskuif tot agtste. KIA (1 159) het ook een plek afgestaan om as negende binne die Top Tien-rangorde te bly. Die Picanto met 508 verkoopte eenhede is Kia se topverkoper. Sy Rio het 304-eenhede in Desember verkoop en die Sportage ‘n ewe indrukwekkende 208 eenhede.

Die tiende (en laaste) plek word deur Mazda met 1 131-eenhede gevul. Mazda se topverkopers was sy CX-5 (389) en CX-3 (293).

Van die invoerders/monteerders wat buite die Top Tien val is dit opmerklik dat Mercedes-Benz (996) die eerste keer in jare nie die lys gehaal het nie, terwyl Bentley (13), Porsche (112) en Suzuki Auto (929) groot indruk gemaak het. Veral Suzuki se nuwe Jimny (113) sou sekerlik baie beter vertoon het as daar beskikbare voorraad was.

Ander vervaardigers wat ook aandag getrek het, is Volvo (258) met sy XC60 (109) en XC40 (54) as uitblinkers – wat weer eens bewys dat Suid-Afrikaanse kopers groter sportnutse bo kleineres verkies.

Die bedryf gaan egter steeds onder druk bly en 2018 se groottotaal van 365 246 passasiersmotors en 159 452 ligte handelsvoertuie sal vanjaar waarskynlik effe minder wees.

Top Tien-passasiersmotors

  1. Volkswagen Polo  2 051
  2. Volkswagen Polo Vivo 1 711
  3. Renault Kwid 1 354
  4. Toyota Fortuner 1 027
  5. Hyundai Grand i10  906
  6. Toyota Corolla/Auris/Quest 858
  7. Renault Clio IV 775
  8. Hyundai i20  619
  9. Datsun GO 508
  10. KIA Picanto 508

Top Tien ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux  2 907
  2. Ford Ranger 1 931
  3. Nissan NP200  1 572
  4. Toyota Quantum 1 245
  5. Isuzu D-MAX 593
  6. Nissan NP300 439
  7. Isuzu KB 420
  8. Volkswagen Amarok 323
  9. Hyundai H100  215
  10. Toyota Land Cruiser Pick Up 201
%d bloggers like this: