In September is 957 minder voertuie in Suid-Afrika verkoop as in September 2017. In totaal is 49 670 voertuie in September verkoop met Toyota as die grootste bydraer tot hierdie syfer. Toyota het 12 351 voertuie verkoop wat basies ‘n kwart van al die voertuigverkope in die land teenwoordig. Die Suid-Afrikaanse motorbedryf het ook gesorg dat 36 341 voertuie in September uitgevoer is.

Beide die verkope van passasiersmotors (32 786 eenhede) en ligte handelsvoertuie (14 342 ) het effens oor hierdie jaartydperk gedaal.

As daar van maand tot maand gekyk word, het Toyota as die land se topverkoper van voertuie 1500 meer voertuie in September verkoop as in Augustus.

In September  is 3 943 Hilux-bakkies verkoop, terwyl Toyota middelklas passasiervoertuie bestaande uit die Corolla, Auris en Quest-modelle  ook presteer het met 1 680 verkope, gevolg deur ‘n skitterende telling van 1 345 vir die Toyota Fortuner. Die Toyota Yaris het ook sy kant gebring met 1 111 verkope, terwyl die RAV se 291 maar sleg afsteek teen sy kompeteerder, die Volkswagen Tiguan, se 565 verkope.

Oudergewoonte staan Volkswagen sterk in die tweede plek van algehele voertuig-verkope met 8 553 verkope wat 600 voertuie meer is as sy Augustus-verkope. Ondanks ‘n dramatiese prysverskil tussen Polo en die ou Polo wat as Vivo bemark word, verkies kopers steeds die hoër spesifikasie Polo met ‘n skitterende 3 866 totaal teenoor Vivo se 1 976 verkope. Selfs die Volkswagen Groep se duur Amarok het ietwat gevorder met 291 verkope teenoor Augustus se patetiese 181. Dit is darem dié keer net-net beter as Hyundai se H100 bakkie (290) en Mahindra Scorpio Pik Up (216).

Die derde plek van die top motorverkopers in SA behoort steeds aan Ford wie se 5 509 totaal ook nagenoeg 500 eenhede beter was as in Augustus. Ford se toppresteerder, soos altyd, was die Ranger-bakkie met 3 016 eenhede wat verkoop is. Die Ford Fiesta het 837 eenhede verkoop, die Everest  426 en die Figo 520. Hierdie totaal plaas Ford gemaklik voor Nissan se 5 042 totale verkope wat steeds in die vierde plek is danksy die NP200 se 1 888 verkope. Die NP300 het 622 verkoop en die Datsun GO 485 eenhede. Die immergroen X-Trail kon darem 364 verkope aanteken.

Hyundai, (2 949) het ietwat swakker gevaar as in Augustus, maar is steeds gemaklik in die vyfde plek danksy sy Grand i10 (1 049), i20 se 592 en Creta se 370.

Die sesde plek onder die Top Tien behoort steeds aan Renault wat gemeet aan Augustus met 2 594 verkope ietwat stoom verloor het, maar wat steeds gemaklik voor Mercedes-Benz in die getalle-wedloop is. Renault se sterre is oudergewoonte Kwid op 808 verkope, Clio IV op 677, en Duster met 373 verkope.

Mercedes-Benz bly in die sewende plek met ‘n totaal van 1 910 verkope, maar is steeds te skugter om individuele modelverkope bekend te maak.

Die agste plek op die Top Tien ranglys behoort aan Isuzu (1 493) wat op sy KB-bakkies staatmaak.  Laasgenoemde het 1 193 verkope aangeteken, terwyl die MU-X sportnuts darem met 55 verkope bygedra het.

BMW (1 463) gee ook nie modelverkope deur nie, maar het darem een plek opgeskuif tot negende – ten koste van KIA (1 350) wie se verkope met 400 eenhede teenoor die Augustus-syfers gedaal het. KIA se presteerders was Picanto (750) – redelik tragies as dit vergelyk word met Augustus se 1 071 verkope. Net twee ander KIA-modelle het noemenswaardig presteer – die Rio (271) en Sportage op 208 verkope. Nie een van die maatskappy se ander modelle kon dubbelsyfers behaal nie, en dit maak hierdie Koreaan kwesbaar vir invoerders soos Suzuki (1 140) wat reeds by Mazda (1 111) verby is en wie se nuwe Jimny die mark in November soos ‘n vuishou gaan tref.

Ander vervaardigers buite die Top Tien sluit in Volvo (325) wie se XC60 (115), XC90 (49) en XC40 op 78 verkope die maatskappy se presteerders is.

In die super-luukse segment het Bentley (11) goed gevaar, Porsche het oudergewoonte geskitter op 102 verkope, terwyl Ferrari se 6 en Maserati se 5 verkope darem beter klink as die enkeling wat sy geldjies gewaag het op ‘n Audi R8.

Intussen is dit sokkies optrektyd vir Peugeot (90), en Subaru (86).

Daar word verwag dat voertuigverkope nie noodwendig deur die waansinnige brandstofprysverhogings beïnvloed sal word nie, maar dat kooppatrone na kleiner, meer ekonomiese, modelle sal afwentel

 

TOP TIEN PASSASIERSMOTORS

Volkswagen Polo 3 866

Volkswagen Polo Vivo 1 976

Toyota Corolla/Auris/Quest 1 680

Toyota Fortuner 1 345

Toyota Yaris 1 111

Hyundai Grand i10 1 049

Ford Fiesta 837

Renault Kwid 808

KIA Picanto 750

Renault Clio IV 677

 

TOP TIEN LIGTE HANDELSVOERTUIE

Toyota Hilux 3 943

Ford Ranger 3 016

Nissan NP200 1 888

Toyota Quantum 1 287

Isuzu KB 1 193

Nissan NP300 622

Volkswagen Amarok 291

Hyundai H100 290

Mahindra Scorpio Pik Up 216

Toyota Land Cruiser PU 178

 

%d bloggers like this: