Motorsport 2019: week 15

0 Comments

Deur Neels Rabe

Wêreld-kruisrenne

Kevin Hansen wen die eerste wedren van die Reeks in Abu Dhabi met sy Peugeot.

Die wêreld-kruisrenkampioenskap skop af in Abu Dhabi. Daar is redelik baie vrae rondom hierdie reeks wat die afgelope 2 jaar in November op die Killarney renbaan afgesluit het. Verskeie vervaardigers het die reeks verlaat. Audi, Volkswagen en Peugeot is die jongste groep wat einde 2018 besluit het om nie meer amptelik aan kruisrenne deel te neem nie. Dit beteken dat al drie wêreldkampioene van die afgelope 5 jaar nie in 2019 in aksie gaan wees nie: Petter Solberg (2014, 2015), Mattias Ekström (2016) en Johan Kristoffersson (2017, 2018). Gaan 2019 dus ‘n saai jaar wees vir kruisren-geesdriftiges?

Allermins! Te oordeel aan die aksie op die Yas Marina kruisrenbaan kan hierdie jaar potensieël die beste nog ooit wees! Die oorheersing van die VW Polo met veral Johan Kristoffersson agter die stuur, het die sport die afgelope 2 jaar eerder kwaad as goed gedoen, aangesien almal eintlik maar vir die tweede posisie baklei het. In 2019 gaan daar dus ‘n splinternuwe kampioen gekroon word (moontlik eers op Killarney op 10 November). Die manne wat as gunstelinge beskou word, is Andreas Bakkerud (Monster Energy RX Cartel Audi S1) met 6 vorige oorwinnings, Timmy Hansen (Team Hansen MJP Peugeot 208) met 5 oorwinnings, asook Niclas Grönholm (GRX Taneco Hyundai I20).

Timmy Hansen het dan ook nie op hom laat wag nie, en dag een die vinnigste kwalifiserende tyd opgestel. In die derde kwalifisering ry Andreas Bakkerud egter baie hard in die kant van Hansen se Peugeot vas. Dit beteken effektief die einde van beide se naweek. Dis egter die 20-jarige Kevin Hansen (Peugeot) wat die familienaam hoog, hou deur in die finaal voor weg te spring met Niclas Grönholm langs hom.  Grönholm forseer die Hyundai verby Hansen se Peugeot met genoeg kontak om ‘n hele paar wenkbroue te lig. Sodoende behaal hy sy eerste wêreldkruisren-oorwinning met Kevin Hansen tweede, en die baie aggresiewe Brit Liam Doran (Monster Energy RX Cartel Audi S1) derde. Die beamptes beslis egter dat Grönholm die perke van toelaatbare kontak oorskry het, en straf hom met 3 sekondes. Dit beteken dat die jong Kevin Hansen sy eerste wêreldkruisren-oorwinning behaal, en dus die jaar voor in die kampioenskap begin.

Wêreld-superfietse

Alvaro Bautista op sy Ducati.

Die derde ronde van die 2019 kampioenskap vind plaas op die Aragon renbaan in Spanje. Alvaro Bautista (Ducati), wat in 2018 nog ‘n MotoGP-jaers was, sit sy oorheersing van die kampioenskap voort deur al 3 wedrenne te wen, met Kawasaki se huidige kampioen, Jonathan Rea, elke keer in die tweede posisie. Rea, wat die kampioenskap die afgelope 4 jaar oorheers, en verskeie rekords laat spat het, is deur baie ondersteuners gesien as ‘n man wat eintlik in die MotoGP-reeks hoort. Die sukses van Bautista, wat van 2010 tot 2018 slegs drie podiums kon behaal sonder enige oorwinnings,  laat egter die vlak van wêreld-superfietse nie so goed lyk in vergelyking met MotoGP nie. Dit herinner ook aan Max Biaggi wat nadat hy uitgetree het, ‘n jaar gerus het. Hy wen in 2007 sy debuut wedren, en sou later die wêreld-superfietskampioenskap in 2010 en 2012 wen.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: