Motorsport: Die jongste nuus

Deur Neels Rabe.

Die wêreld van motorsport is tans stil met die Europese vakansie-seisoen wat begin het. F1 het aangekondig dat daar groot veranderinge vir 2021 beplan word. Soos almal weet, is Formule 1-wedrenne tans nie opwindend genoeg nie. Die hoofrede hiervoor is die feit dat die motors sukkel om mekaar verby te steek. Die sondebok? Die ontwikkeling van aërodinamika. Die motors is só gevorderd dat hul ongelooflike snelhede deur die draaie kan handhaaf, maar sodra hulle naby ‘n ander motor kom, veroorsaak die effek van die voorste motor dat die agterste motor nie meer so goed op die pad vasklou nie. ‘n Goeie bestuurder kan dus hoé hard probeer, hy gaan altyd benadeel word as hy te naby die voorste motor jaag. Dis dan ook die rede hoekom daar iets soos die DRS-sones is waar die agterste jaer ‘n knoppie mag druk om gestoorde elektriese energie te benut om vinniger in die pylvak te jaag.

Dus word daar beplan dat die sogenaamde “grond-lugvloei” (“ground effect”) weer toegelaat gaan word. Tans is die motors plat aan die onderkant. Met “grond-lugvloei” word die lug onderdeur die motor so gekanaliseer dat die lug versnel en dit die motor as’t ware vassuig op die pad. Tesame hiermee word beoog om die bokant van die motor streng te beheer sodat die spanne nie meer die gekompliseerde reeks van vinne en vorms mag gebruik nie. Dit sal veroorsaak dat die snelhede deur die draaie steeds baie hoog gaan wees. Die agterste motor sal egter nie naastenby so erg benadeel word nie omdat die grootste persentasie van aërodinamiese krag wat op die motor uitgeoefen gaan word, nie die bokant van die motor gaan wees nie, maar wel die onderkant.

1979 Lotus 80 Cosworth

“Grond-lugvloei” motors het aan die einde van die sewentigs ontstaan met die Lotus 78 en 79. Nadat almal dit begin gebruik het, is dit in 1983 weens veiligheidsredes verban.

Wat die 2019 seisoen betref, is dit steeds Mercedes wat die botoon voer. Valtteri Bottas het die meeste voorste wegspring-posisies tot dusver, naamlik 4. Lewis Hamilton het egter die meeste wedren-oorwinnings, ‘n volle 7 van die 10 wedrenne tot dusver. Valtteri Bottas het twee wedrenne gewen, en Max Verstappen in die Red Bull Racing-Honda het Red Bull se tuis Grand Prix in Oostenryk gewen. Hamilton, Bottas en Verstappen is dan ook eerste, tweede en derde in die kampioenskap.

Duitse toermotor-reeks

Vir Jonathan Aberdein was dit ‘n goeie naweek (20-21 Julie 2019) op die Assen renbaan in Nederland. Aberdein en Sheldon van Der Linde jaag in die Duitse toermotor-reeks. In Saterdag (20 Julie) se wedren het hy van elfde opgeskuif na sesde in die reën. Sondag het hy ‘n uitstekende tweede plek gekwalifiseer, en vierde in die wedren geëindig. Van Der Linde het in beide wedrenne kontak met ander motors gehad, en kon nie beter as tiende Saterdag eindig nie.

W-reeks vir vroue

In die W-reeks vir vroue het Tasmin Pepper ‘n moeilike Saterdag (20 Julie) gehad toe sy uit die wedren getol het. Sy het sesde gekwalifiseer. Sondag het sy twaalfde weggetrek en sesde klaargemaak. Ongelukkig tel die tweede wedren nie vir die kampioenskap nie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: