Deur Neels Rabe.

Sebastian Vettel is die man wat weereens die voorste wegspring posisie inpalm in sy Ferrari. Langs hom op die voorste ry is sy groot teenstander, Lewis Hamilton in die Mercedes. Op ‘n straatbaan is die wegspring posisies natuurlik van kardinale belang. Soos te verwagte is dit dan ook Vettel wat die voortou neem en oënskynlik maklik op pad is na oorwinning nommer vyftig! Dis egter die twee Red Bull manne, Daniel Ricciardo en Max Verstappen wat die pap behoorlik dik aanmaak. Hulle steek mekaar verskeie kere verby. Ongelukkig eindig dit op die verkeerdste moontlike manier toe Max regs en dadelik weer links beweeg om Daniel se verbysteek poging te blokkeer. Ricciardo het homself egter al verbind om aan Verstappen se binnekant deur te glip. Die resultaat is twee erg gebuigde Red Bull motors wat van die baan afgly. Na ‘n hele paar rondtes agter die veiligheidsmotor waartydens verskeie motors die kuipe besoek, word die motors vir die laaste keer losgelaat om te jaag. Dis die Mercedes van Valtteri Bottas in die voorste posisie. Vettel probeer aggressief verbysteek maar slaag net daarin om sy bande erg te verrinneweer. Ongelukkig vir Bottas is ‘n wrakstuk nie van die baan verwyder nie. As voorste motor tref hy dit eerste. Die gevolg is ‘n pap wiel met slegs 4 rondtes van die wedren oor! Sy spanmaat se ongeluk besorg Lewis Hamilton oorwinning nommer 63!

  1. Lewis Hamilton – Mercedes AMG Petronas Motorsport
  2. Kimi Raikkonen – Scuderia Ferrari
  3. Sergio Perez – Sahara Force India F1 Team
  4. Sebastian Vettel – Scuderia Ferrari
  5. Carlos Sainz Jr. – Renault Sport Formula One Team

2018 F1 Kampioenskap na afloop van 29 April

  1. Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas) – 70
  2. Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari) – 66
  3. Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari) – 48
  4. Valtteri Bottas (Mercedes AMG Petronas) – 40
  5. Daniel Ricciardo (Aston Martin Red Bull Racing) – 37
%d bloggers like this: