Deur Neels Rabe.

Die glansryke Monaco Grand Prix is een van die hoogtepunte van die seisoen. Die straatbaan se unieke eienskappe veroorsaak dat brute enjinkrag nie so belangrik is nie. Die Red Bull motors, met die ietwat stadiger Renault enjins, is bewys hiervan. Die laaste keer wat ‘n Red Bull die voorste wegspringposisie behaal het, was Monaco 2016 met die gewilde Daniel Ricciardo agter die stuur.

Deur die jare het hierdie wedren soms unieke wenners gehad. Die laaste Fransman om ‘n Grand Prix te wen, is Olivier Panis in ‘n Ligier-Mugen-Honda. Die 1996 Monaco GP was sy enigste GP oorwinning in 10 seisoene. Nog ‘n Fransman wat ook net een keer op die boonste trappie van ‘n F1 GP podium kon staan, is Jean-Pierre Beltoise toe hy Monaco in 1972 gewen het in ‘n BRM.

Vir Red Bull word Monaco 2018 ‘n byeenkoms van twee uiterstes. Hoewel beide Ricciardo en Max Verstappen vinniger as die Ferrari en Mercedes motors is, maak Verstappen ‘n fout tydens die naweek se derde oefensessie. Die span herstel die erg beskadigde motor, maar ontdek ‘n lekkende ratkas toe die motor gereed gemaak word vir die eerste kwalifiserende sessie. Verstappen kan dus nie kwalifiseer nie, en moet laaste wegspring. Die kommer vanuit Red Bull se oogpunt is egter die feit dat dit die sesde agtereenvolgende byeenkoms is waartydens Verstappen in ‘n ongeluk betrokke is.

Die ervare Daniel Ricciardo, wat Sebastian Vettel die loef afgesteek het tydens hul  gesamentlike Red Bull seisoen in 2014, maak geen foute nie en behaal ‘n oortuigende voorste wegspringposisie met Vettel langs hom in die tweede plek. Lewis Hamilton kwalifiseer derde en Kimi Raikkonen vierde.

Alonso se sewende plek is sy beste kwalifisering tot dusver in 2018.

Monaco se strate is nou, en van ‘n wedren om posisies was daar nie veel sprake nie. Die voorste posisies eindig presies soos hulle weggespring het. Dis Daniel Ricciardo se sewende loopbaanoorwinning. Dit was egter nie sonder drama nie. In 2016 is hy van ‘n seker-oorwinning beroof deur ‘n kuipe-stop fout van sy span. Hierdie keer is dit die Renault enjin wat ‘n tegniese fout ontwikkel tydens die agtiende rondte. In die laaste deel van die baan is Ricciardo bykans 20 km/h stadiger as die Ferrari van Vettel. Tog slaag hy meesterlik daarin om vir 58 rondtes uit die kloue van die Ferrari te bly om sodoende sy tweede oorwinning vir die seisoen te behaal.

  1. Daniel Ricciardo  –  Aston Martin Red Bull Racing
  2. Sebastian Vettel  –  Scuderia Ferrari
  3. Lewis Hamilton  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport
  4. Kimi Raikkonen –  Scuderia Ferrari
  5. Valtteri Bottas  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport

2018 F1 Kampioenskap na afloop van 27 Mei

  1. Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas)  –  110
  2. Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari)  –  96
  3. Daniel Ricciardo (Aston Martin Red Bull Racing)  –  72
  4. Valtteri Bottas (Mercedes AMG Petronas)  –  68
  5. Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari)  –  60

Die volgende Formule 1-wedren is die Kanadese GP op 10 Junie 2018.

%d bloggers like this: