Deur Neels Rabe.

Rondte 2 van die Wêreld Kruisrenkampioenskap het in die bergwêreld naby Montalegre in Portugal plaasgevind. Weersomstandighede het varieer tussen sonskyn, reën en selfs sneeu!

Vir die eerste keer sedert die 2016 seisoen lyk die PSR Volkswagens van huidige kampioen Johann Kristoffersson en voormalige dubbel wêreldkampioen Petter Solberg kwesbaar. Top kwalifiseerders na 4 rondtes is Andreas Bakkurud in sy EKS Audi, gevolg deur die Peugeot van Sébastien Loeb. Die 2 woelige semi-finale rondtes het die toeskouers op die punte van hul (soms) nat stoele. Die hoogtepunt van die naweek is oudergewoonte die groot finaal.

Met sneeu wat val en al ses motors op reënbande, is dit moeilik om ‘n wenner te voorspel. Dis Kristoffersson wat die beste wegtrek en dadelik die voortou neem. Solberg en Loeb skiet beide vir die effens langer “joker” roete, met Loeb wat sagkens kontak maak met die VW van Solberg. In die glibberige toestande gly Solberg effens wyd, net genoeg vir Loeb om met sy Peugeot aan die binnekant van die draai deur te glip. Sy spanmaat Timmy Hansen lê op hierdie stadium gemaklik in die tweede plek, maar ‘n fout op die laaste draai voor die pylvak veroorsaak dat hy tol. Vir Loeb en Solberg beteken dit outomatiese bevordering tot podium posisies. Teen die aanvanklike verwagtinge in wen Johan Kristoffersson die finaal, en in die proses word hy die eerste man wat dit 11 keer vermag. Vir die Prodrive ontwikkelde Renault van vier keer wêreld ski kampioen, Guerlain Chicherit, is dit uitstekende vordering om in slegs sy tweede byeenkoms reeds vir die finale rondte te kwalifiseer.

Johan Kristoffersson – VW
Sébastien Loeb – Peugeot
Petter Solberg – VW
Andreas Bakkerud – Audi
Guerlain Chicherit – Renault
Timmy Hansen – Peugeot

2018 Kampioenskap na afloop van 29 April

Johan Kristoffersson – 53
Andreas Bakkerud – 44
Petter Solberg – 43
Sébastien Loeb – 39
Mattias Ekström – 36
Timmy Hansen – 36

Die volgende rondte is 12 Mei in België.

%d bloggers like this: