Neels Rabe doen verslag oor die belangrikste motorsportgebeure van die 26 ste week van die jaar:

 

Die Franse F1 Grand Prix; Sondag 23 Junie 2019.

 

Die Franse F1 Grand Prix was ongelukkig ‘n redelike vervelige affêre met Mercedes wat weereens domineer. Lewis Hamilton wen sy 79ste GP deur elke enkele ronde voor te loop. Dis ook sy vierde agtereenvolgende oorwinning in 2019, en sy sesde vir die seisoen. Spanmaat Valtteri Bottas eindig tweede met Ferrari se jong Charles Leclerc derde. Vier-maal wêreldkampioen Sebastian Vettel het ‘n moeilike naweek in sy Ferrari nadat hy slegs sewende kwalifiseer, en te lank vat om by die McLarens verby te kom. Hy eindig vyfde, net agter Max Verstappen in die Red Bull. Gepraat van McLaren, wat ‘n naweek vir ‘n span wat gewoond was om die afgelope paar jaar te sukkel. Lando Norris (slegs 19-jaar oud) en Carlos Sainz kwalifiseer vyfde en sesde (dus voor Vettel). In die wedren vaar hulle baie goed met Sainz wat sesde eindig ager die twee Mercedes, Ferrari en een Red Bull motor. As dit nie vir ‘n hidroliese probleem was nie, sou Norris net agter sy spanmaat eindig. Daniel Ricciardo se wedren eindig amptelik in die sewende posisie, maar op die voorlaaste ronde steek hy Lando Norris asook Kimi Räikkönen se Alfa Romeo verby. Ongelukkig doen hy dit nie binne die streng F1 reëls nie, en haal homself twee 5 sekondes straftye op die hals. Dit beteken dat hy afskuif na die elfde posisie. Volpunte egter vir die gewilde Aussie vir probeer. Dis wat F1 nodig het.

Die agterbankers in aksie. Kimi Räikkönen in sy Alfa Romeo Racing C38, wat op ‘n Ferrari-onderstel geskoei is, het 8 ste in Franse F1 Grand Prix gekom en is ook 8 ste op die totale punteleer van die 2019 F1 GP-seisoen.

Finale resultate

Eindig Bestuurder Tyd Punte
1ste

L. Hamilton

Mercedes·#44
1:24:31.198 25
2de

V. Bottas

Mercedes·#77
+18.056s 18
3de

C. Leclerc

Ferrari·#16
+18.985s 15
4de

M. Verstappen

Red Bull·#33
+34.905s 12
5de

S. Vettel

Ferrari·#5
+62.796s 11

 

Wêreld-superfietse, Misano, Italië, 22 en 23 Junie 2019.

Jonathan Rea van Brittanje wen op sy Kawasaki beide hoofwedrenne op die Misano-renbaan in Italië. Die eerste wedren is twee keer gestop as gevolg van donderstorms. In die reën is die Britse jaers gewoonlik baie goed. Eers is dit Yamaha se Alex Lowes wat Rea verbysteek, maar dan val.

Voormalige wêreldkampioen Tom Sykes eindig tweede op sy BMW, met Ducati se kampioenskapvoorloper, Alvaro Bautista, derde. In die tweede wedren val Bautista. Dit beteken dat sy voorspring oor Rea krimp na slegs 16 punte. Dit was die 7de ren in die 2019 Wêreld-superfietskampioenskap. Daar is nog ses renne oor van die 2019 seisoen. ‘n Einstrydgeveg is nou aan die gang tussen Rea en voorloper Bautista.

Punte-telling van 2019 Wêreld-superfietskampioenskap soos na 23 Junie:

1 Bautista Ducati 330
2 Rea Kawasaki 314
3 van der Mark Yamaha 188
4 Lowes Yamaha 164

 

Nasionale tydrenkampioenskap 22 en 23 Junie 2019.

Op nasionale vlak is dit Guy Botterill en Schalk Van Heerden in hul Toyota Etios R2, wat die King Price-tydren in die Delmas omgewing gemaklik wen. Hul eindig eerste in ses van die elf sneldele. AC Potgieter en Nico Swartz eindig tweede in hul VW Polo met die 1000cc 3-silinder turbo enjin. Aanvanklik is dit die plaaslike span van JJ Potgieter en Tommy Du Toit wat derde lê in hul Ford Fiesta R2. Ongelukkig beskadig hulle die Ford sodanig in sneldeel 4 dat hulle 20 minute verloor. Jono Van Wyk en Barry White eindig dus derde in nog ‘n Ford Fiesta R2. Die volgende Nasionale Tydren is die Baywest Tydren in die Port Elizabeth-omgewing, wat oor die naweek van 19 en 20 Julie gaan plaasvind.

%d bloggers like this: