Motorsportnuus: week 18

0 Comments

Deur Neels Rabe.

Die stilte van Paasfees word gevolg deur ‘n baie besige motorsport-week. Op nasionale vlak was dit die Sabie-tydren, beter bekend as die gewese Sasol-tydren. Voormalige dubbel SA kampioen Hergen Fekken en Pierre Arries oorheers in hul Toyota Etios R4. Omdat dit ook ‘n ronde van die Afrika-tydrenkampioenskap was, word hy deur ‘n paar vinniger besoekende R5 motors gejaag, maar Hergen wys duidelik hoekom hy reeds twee titels agter sy naam het, deur die tydren oortuigend te wen.

Die Suid-Afrikaanse kampioenskap word egter in die R2 klas beslis. Hier is dit Guy Botterill en Simon Vacy-Lyle wat hul oorheersing van die plaaslike tydrentoneel voortsit deur 9 van die 15 sneldele te wen. Hul eindig derde algeheel en klop ‘n paar van die vinniger 4-wiel aangedrewe motors.

Op die nasionale podium vir die derde tydren in ‘n ry, is dit Johannes Potgieter en Tommy du Toit wat tweede eindig in hul Ford Fiesta. Die Mazda van Chris Coertse en Greg Godrich is derde. In die wêreld-tydrenkampioenskap is dit Hyundai se Thierry Neuville wat die Argentynse tydren wen, en daarmee sy voorsprong in die kampioenskap na 10 punte laat rek. Spanmaat Andreas Mikkelsen is tweede met huidige kampioen Sebastien Ogier derde in sy Citroen.

In Baku is dit Mercedes wat vir die vierde agtereenvolgende F1 Grand Prix skoonskip maak, deur eerste en tweede te eindig. Vir die tweede keer in 2019 is dit Valtteri Bottas wat nie net voor sy superster-spanmaat Lewis Hamilton kwalifiseer nie, maar ook wen en daarmee weer die voortou neem in die kampioenskap. Sebastian Vettel eindig derde in sy Ferrari

In Barcelona vind die tweede ronde van die wêreld kruisrenkampioenskap plaas. Met die onttrekking van VW, Audi en Peugeot aan die einde van 2018, is daar baie vrae gevra oor die kwaliteit van die 2019 seisoen. Die aksie op die baan bewys egter dat daar niks was om oor te bekommer nie. Omdat daar ‘n splinternuwe kampioen vanjaar gekroon gaan word, is die wedywering meer intens as ooit van te vore. Dis die Hansen-broers, Timmy en Kevin, wat vir die eerste keer daarin slaag om eerste en tweede te eindig in hul Peugeot 208 motors. Dis Timmy se 6de oorwinning. Die man wat in die eerste ronde gediskwalifiseer is, Andreas Bakkerud, eindig derde in sy Audi S1. ‘n Man wat ook die oog vang, is die Fransman Cyril Raymond wat in slegs sy tweede byeenkoms in die top klas, die finaal haal en vyfde eindig in sy Renault Clio RS.

Vir ‘n paar Suid-Afrikaners gaan eerskomende naweek baie spesiaal wees. Kaapstad se Jonathan Aberdeen (Audi) asook die 19-jarige Sheldon van der Linde (BMW) maak hul debuut in die gewilde Duitse toermotor-reeks, beter bekend as DTM. Deel van die DTM program vanjaar, is ook die eerste uitsluitlik vroue enkelsitplek kampioenskap, die W-reeks. Johannesburg se Tasmin Pepper gaan saam met Aberdeen en Van Der Linde op Hockenheim in aksie wees. Die W-reeks gebruik identiese F3 motors. Tasmin is ‘n bekende op Suid-Afrikaanse renbane, en die eerste vrou wat ‘n nasionale kampioenskap-wedren kon wen in Formule VW.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: