Breaking News

Motorsportnuus week 24

F1

Vir Sebastian Vettel begin die Kanadese Grand Prix uitstekend deurdat hy uiteindelik weer die voorste wegspringposisie behaal in ‘n opwindende kwalifiserende ronde. Die Ferraris se topsnelheid in Kanada is 327 km/h teenoor die Mercedes motors se 320 km/h. Op die pylvak wen Vettel vir Lewis Hamilton met ongeveer 0.6 sekondes, terwyl Hamilton dan weer 0.4 sekondes deur die draaie inhaal. Vir die eerste keer in 2019 word die Ferrari se volle potensiaal ontgin. Hamilton trek tweede weg en Charles Leclerc (Ferrari) kwalifiseer derde. Dis egter Renault se Daniel Ricciardo wat koppe laat draai in die vierde posisie, sy beste kwalifisering sedert hy by Renault aangesluit het aan die begin van 2019.

Die wedren begin sonder drama en dis Vettel met ‘n skoon baan voor hom wat gemaklik die Grand Prix beheer, gevolg deur die Mercedes van Lewis Hamilton en Charles Leclerc in die ander Ferrari. Op ronde nommer 49 verloor Vettel ongelukkig ‘n bietjie beheer oor die Ferrari. Hy gly oor die gras aan die binnekant van die draai, en moet veg om beheer soos wat hy terug op die baan gly. Lewis Hamilton mik vir die buitekant, maar moet rem om die effe buite beheer Ferrari te mis. Dis ‘n tipiese wedren insident, maar die F1 beamptes besluit dat Vettel se terugkeer op die baan onveilig was, en gee hom 5 sekondes straftyd. Dis ‘n onsinnige besluit, en Vettel is natuurlik woedend dat die oorwinning van hom op hierdie manier gesteel word. Hy eindig steeds tweede, met spanmaat Charles Leclerc derde. Vir Lewis Hamilton is dit die vyfde oorwinning in 2019. Die Ferrari-base moet mooi praat met Vettel om hom sover te kry om op die podium te verskyn.

Wêreld-superfietse

Ducati se Alvaro Bautista sit sy 2019 segetog voort deur die eerste wedren op Jerez te wen, maar val in wedren twee. Michael van der Mark sê “baie dankie” en wen Yamaha se eerste wedren van die jaar, en sy derde loopbaan-oorwinning. Dit skuif hom op na die derde posisie in die kampioenskap agter Bautista en Kawasaki se huidige kampioen, Jonathan Rea.

Twee Suid-Afrikaners, Dorren Loureiro and Dino Iozzo, is in aksie in die Supersport 300 klas, maar sukkel en kan nie enige punte aanteken nie.

Suid-Afrikaners oorsee

In die Duitse toermotorreeks is dit Kaapstad se Jonathan Aberdein (Audi) wat presteer deur tweede en derde te kwalifiseer vir die twee Misano wedrenne in Italië. Landgenoot Sheldon Van Der Linde is die voorste BMW in die vyfde posisie. In die wedrenne verloor beide plekke. Jonathan behaal ‘n agste en sewende posisie, en Sheldon eindig negende en elfde.

In die vroue-reeks, die “W Series”, wat identiese F3 motors gebruik, eindig Tasmin Pepper sewende. In Oostenryk behaal Sheldon se ouer broer Kelvin ‘n vierde en toe derde plek saam met spanmaat Patric Niederhauser in die twee ADAC Duitse GT Meesters wedrenne. Daardeur verseker hulle dat hul steeds bo-aan die punteleer bly.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: