Motorsportnuus – week 32

Die vonke het die naweek van 3 en 4 Augustus op die internasionale motorsportfront behoorlik gespat. Motorplus se Neels Rabe vertel:

F1

In Hongarye is dit vir die eerste keer in 13 jaar dat ‘n Honda aangedrewe motor op die voorste wegspringposisie is, te danke aan die Red Bull-Honda van Nederland se Max Verstappen. Almal het verwag dat Verstappen Sebastian Vettel se rekord as jongste jaer ooit om voor weg te spring, gaan verbeter, maar dit het toe nie gebeur nie.

Die oomblik toe Hamilton Lewis vir Max Verstappen bygaan.

In die Grand Prix slaag Verstappen daarin om die grootste deel van die wedren voor te loop. Hy stop net een keer vir bande. Mercedes verander hul strategie tydens die wedren, en besluit om Hamilton ‘n tweede keer nuwe bande te laat opsit in die hoop dat hy Verstappen sal kan inhaal. Hierdie plan werk uitstekend, met die Mercedes wat die Red Bull-Honda kort voor die einde verbysteek. Verstappen se tweede plek beteken dat hy nou sedert 2018 reeds 21 agtereenvolgende wedrenne in die top vyf eindig. Hy is ook nou kort op hakke van die man wat tweede lê in die kampioenskap, Valtteri Bottas. Ferrari se Sebastian Vettel eindig derde, dus nog steeds geen oorwinning vir Ferrari in 2019 nie.

 

MotoGP

In Brno, in die Tsjeggiese Republiek, is dit Marc Marquez (Honda) wat een van die beste kwalifiserende rondes ooit ry toe hy met gladde bande op ‘n half droë, half nat baan sy opposisie met meer as 2 sekondes wen. In die laaste gedeelte van die ronde het hy in die reën gejaag om sy voorste wegspringposisie te behaal. Goeie nuus was dat daar vir die eerste keer ‘n KTM op die voorste ry wegspring, te danke aan Johann Zarco. Hoekom goeie nuus? Want volgende jaar gaan ons eie brad Binder die trappie klim na MotoGP, en gaan ons na baie jare weer iemand in die top klas hê om voor te skree.

Marquez oorheers die wedren om sodoende sy vyftigste oorwinning in die top-klas te behaal. Dit maak hom een van die mees suksesvolle jaers van alle tye. Kampioenskap-teenstander Andrea Dovizioso eindig tweede op sy Ducati, met die Australiër Jack Miller derde op ‘n Pramac Ducati.

 

Kruisrenne

Die naweek van 3 en 4 Augustus was dit die Kanadese ronde van die Kruisren-wêreldkampioenskap.

Vir die eerste keer sedert Argentinië 2016 wen Andreas Bakkerud ‘n byeenkoms. In die proses skuif die RX Cartel Audi jaer op na tweede in die kampioenskap. Dit het gelyk of die Hansen-broers, Kevin en Timmy, moeilik geklop gaan word aan die voorpunt van die veld, maar Timmy het ‘n moeilike naweek en kwalifiseer sy Peugeot nie eers vir die semi-finale rondes nie. Kevin kom vyfde in die finaal, maar word gediskwalifiseer omdat hy Anton Marklund se Renault van die baan stamp. Met slegs 3 rondes oor, stuur die kampioenskap-stryd af op ‘n hoogtepunt in die finale ronde in November op die Killarney renbaan.

 

Tydrenne

Vir die tweede agtereenvolgende jaar oorheers Toyota se Ott Tanak die Finse tydren. In die proses behaal hy sy vierde oorwinning van 2019. Hy is nou 22 punte voor ses-keer wêreldkampioen Sebastien Ogier (Citroën). Ogier het intussen aangekondig dat 2020 sy laaste jaar van tydrenne gaan wees voordat hy uittree.

Wat Finland betref, is dit Esapekka Lappi wat tweede eindig is sy Citroën, met die Toyota van Jari-Matti Latvala derde.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: