Motorsportnuus: Week 38

0 Comments

Deur

Neels Rabe

Terugblik op die week van 9 tot 15 September. Marc Marquez wen MotoGP op Misano.Toyota Gazoo Racing se Alonso begin vir Dakar voorberei.

Suid-Afrikaanse renjaers presteer internasionaal.

Motorsportnuus

 

MotoGP

‘n Onderonsie Saterdag tussen Rossi en die Spanjaard Marc Marquez veroorsaak dat Marquez met ekstra motivering in Sondag se MotoGP wedren op die Misano Renbaan in Santa Monica, Italië jaag.

Sy grootste teenstand kom van die Fransman Fabio Quartararo op sy Yamaha, maar dis Marquez wat vir die eerste keer in 3 wedrenne daarin slaag om ‘n laaste-ronde geveg te wen en daarmee Mike Hailwood verby te steek met die vierde meeste MotoGP-oorwinnings van alle tye.

 

 

 

 

Veldrenne

Op plaaslike front was dit die Lichtenburg 400 veldren wat baie aandag getrek het. Niemand anders as 2 x F1 wêreldkampioen, Fernando Alonso neem deel in een van ons plaaslik vervaardigde Toyota veldrenmotors. Dis ter voorbereiding van Januarie se Dakar veldren. Die 2020 Dakar gaan vir die eerste keer sedert 2009 nie in Suid-Amerika plaasvind nie, maar wel in Saudi-Arabië. Alsonso word vergesel deur Marc Coma, 5 x motorfietskampioen. Hulle vaar baie goed tydrens kwalifisering deur die derde vinnigste tyd op te stel, maar rol 27 km na die begin van die wedren. Die veldren word gewen deur die man wat die eerste Dakar in Suid-Amerka gewen het, Giniel de Villiers. Sy huidige navigator is Dennis Murphy. Dis egter spanmaats Henk Lategan en Brett Cummings wat die Suid-Afrikaanse kampioenskap inpalm met een ronde oor.

Fernando Alonso met Toyota Gazoo SA renbaas, Glyn Hall.

 

Kruisrenne (RallyX)

Timmy Hansen.

Die wêreld-kruisrenkampioenskap stuur af op ‘n briljante finaal in Kaapstad nadat Timmy Hansen die voorlaaste byeenkoms die afgelope naweek in Latvia in sy Peugeot gewen het . Hy is nou een punt voor Audi-jaer Andreas Bakkerud. Timmy se broer Kevin lê tans derde, en staan ook nog ‘n kans om die wêreldtitel agter sy naam te skryf.

Soos gewoonlik was die aksie in Latvia onverbeterlik. Ons hier in Suid-Afrika kon nie vir ‘n beter afsluiting van die seisoen gevra het nie. (Lees hier meer oor die finale RallyX-rondte wat in Kaapstad gaan plaasvind…)

 

Tydrenne

Sebastien Ogier en Julien Ingrassia wen die Turkse tydren in hul Citroën, met spanmaats Esapekka Lappi en Janne Ferm tweede, en Hyundai se Andreas Mikkelsen en Anders Jaeger derde. Toyota se Ott Tänak behou sy voorsprong in die kampioenskap, maar Ogier se oorwinning beteken die ses keer tydren wêreldkampioen is nou slegs 17 punte agter Tänak.

 

 

 

 

 

 

 

Suid-Afrikaanse renjaers presteer internasionaal.

Kelvin van der Linde vier saam met sy HCB-Rutronik Racing-spanmaats hul kampioenskap-oorwinning.

Welgedaan Kelvin van der Linde en spanmaat Patric Niederhauser. Hulle is die afgelope naweek as die Duitse GT Meesters kampioene vir 2019 bekroon nadat hulle die tweede wedren op die Hockenheim-renbaan gewen het.

Dis Kelvin se tweede titel nadat hy as 18-jarige in sy debuut jaar die 2014 titel saam met René Rast gewen het.  Hy hou steeds die rekord as die jongste titelwenner. Vanjaar is dit die eerste keer ooit dat die titel voor die finale ronde reeds beklink is, dus nog ‘n rekord vir Kelvin.

 

Calvin Vlaanderen, beleef ‘n uitstekende Sjinese motorcross Grand Prix deur derde algeheel te eindig. Dis die vyfde byeenkoms in ‘n ry waar hy ten minste in een van die 2 wedrenne op die podium is.

Brad Binder eindig sesde in die Moto2 Grand Prix op Misano.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: