Die vierde skof van die 2019 Dakar-wedren wat op 10 Januarie in Peru plaasgevind het, het deelnemers gedwing om besonder versigtig te wees aangesien daar geen dienspunte in Takna vir die motors of in Moquegua vir die motorfietse was nie. Dié skof van 405 km was die eerste van ‘n marathon-skof wat oor twee dae strek. Drie legendes het sake in dié skof uitgespook, naamlik Stephane Peterhansel in sy Mini, Nasser Al-Attiyah in die Toyota Hilux wat in Suid-Afrika vervaardig is en die veelvuldige wêreldtydren-kampioen Sebastian Loeb, wat in ‘n Peugeot deelneem.

Die renvoorlopers Nasser Al Attiyah (Katar) en sy navigator, Mathieu Baumel (Frankryk) van die Suid-Afrikaanse Toyota Gazoo Racing SA Toyota, het hul voorsprong aan die voorpunt tot 08:55 vergroot nadat hulle die 405 km lange sneltrajek gewen het. Die Hollandse lid van die span, Bernhard ten Brinke, en sy Franse navigator, Xavier Panseri, het egter ’n hartseer terugslag gehad en 02:56:02 vir die dag verloor.

Die dag kon egter nie beter vir Al Attiyah / Baumel verloop het nie. Hulle het in die tweede plek op die pad agter Stephane Peterhansel (MINI), die wenner van Sneltrajek 3, weggespring. Die Toyota Gazoo Racing SA-jaers het regdeur die sneltrajek hard gejaag en hul voorsprong stelselmatig te vergroot deur 01:52 voor die MINI-jaers te eindig.

Dit beteken dat Al Attiyah / Baumel nou bykans nege minute voor Peterhansel aan die voorpunt van die algehele renveld is.

Die Toyota Gazoo Racing SA Toyota se ander twee renjaers Giniel de Villiers en Bernhard ten Brinke het ‘n moeilike derde skof beleef het. De Villiers het stilgehou om sy spanmaat  Ten Brinke, by te staan. Dit het beteken dat die vier Mini’s van Nani Roma van Spanje, Jakob Przygonski van Pole, Yaseen Al Rajhi van Saoedi- Arabië en Cyril Despres van Frankryk beter posisies kon behaal het.

Die Suid-Afrikaanse jaers Shameer Variawa en Zaheer Bodhanya het tydens die skof groot opgang in hul SVR Red Lined Nissan Navara gemaak nadat ook hulle Woensdag ‘n dag vol drama beleef het. In die motorfietsafdeling het die Amerikaanse jaer Ricky Brabec sy voorsprong op sy Honda behou deur die skof te wen, gevolg deur die drie KTM’s van die verdedigende kampioen, Matthias Walkner van Oostenryk, Toby Price van Australië en Sam Sunderland van Briitanje. Die oornagvoorloper, Pablo Quintanilla van Chile het gesukkel maar is steeds algeheel tweede agter Brabec.

Kenny Gilbert en Ross Branch.

 

Twee Suid- Afrikaanse nuwelinge vaar steeds goed: Ross Branch het die skof in die 18de plek op sy KTM voltooi en is algeheel 24ste. Kenny Gilbert het die skof in die 28ste plek op sy Husqvarna voltooi en is algeheel 27ste, en vierde onder die nuwelinge. Daarby vaar Stuart Gregory op sy KTM ook baie goed; veral as ‘n mens in aanmerking neem dat geen bystand van diensspanne moontlik was nie.

Die vragmotorafdeling is tot dusver oorheers deur drie Kamaz-jaers, naamlik Andrey Karginov, Dimitry Sotnikov en Eduard Nikolaev, met Nikolaev in die algehele eerste plek, gevolg deur Sotnikov en die Argentynse jaer Federico Villagra. Die Suid-Afrikaanse jaer Sean Berriman wat saam met Mathias Behringer in ‘n MAN deelneem, het die skof in die twintigste plek voltooi en is ook algeheel twintigste. In die afdeling vir vierwielfietse het Jeremaias Gonzalez Ferioli gewen, gevolg deur Nicolas Cavigliasso, maar Ferioli is steeds ‘n halfuur voor.

Skof 5 neem die deelnemers Vrydag 11 Januarie op ’n bykans omgekeerde roete terug na die oornaghalte by Arequipa voordat hulle Saterdag 12 Januarie ’n welverdiende rusdag sal kan geniet.

Ná die rusdag kry die ren weer koers na Lima, die hoofstad van Peru, waar die 41ste Dakar-veldtydren Donderdag 17 Januarie eindig.

 

Skof 4-Uitslae:
  1. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA HILUX)
  2. Peterhansel / Castera (MINI) +01:52
  3. Przygonski / Colsoul (MINI) +08:32
  4. Roma / Haro (MINI)                         +08:49
  5. Loeb / Elena (Peugeot) +12:23
  6. Al Rajhi / Gottschalk (MINI) +18:11
  7. Sainz / Cruz (MINI) +24:44
  8. Despres / Cottret (MINI) +25:51
  9. Garafulic / Palmeiro (MINI) +32:33
  10. Hunt / Rosegaar (Peugeot) +37:58

 

Algehele posisies na afloop van Skof 4:
  1. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA HILUX)
  2. Peterhansel / Cottret +08:55
  3. Roma / Haro (MINI) +20:51
  4. Przygonski / Colsoul (MINI) +22:17
  5. Al Rajhi / Gottschalk (MINI) +24:59
  6. Loeb / Elena (Peugeot) +50:22
  7. Despres / Cottret (MINI) +50:31
  8. Domzala / Marton (TOYOTA) +01:28:37
  9. Garafulic / Palmeiro (MINI) +01:36:52
  10. Hunt / Rosegaar (Peugeot) +01:37:37

 

 

%d bloggers like this: