Breaking News

Motorsportverslag 18 Maart

Deur Neels Rabe.

Die eerste ronde van die 2019 Formule 1 Wêreldkampioenskap het die afgelope naweek in Australië plaasgevind. 

Vyf maal wêreldkampioen Lewis Hamilton het vir die 84 ste keer (‘n Rekord vir Formule 1-jaers) die voorste wegspringplek in sy Mercedes behaal, met spanmaat Valtteri Bottas (Foto bo) in die tweede wegspringplek en Sebastian Vettel in die Ferrari in die derde wegspringplek. Met die wegtrek is dit egter Bottas wat verby Hamilton skuif om die eerste posisie in te neem. Tot baie se verbasing oorheers Bottas die jaar se eerste Grand Prix en wen gemaklik, 20 sekondes voor Lewis Hamilton. Aanvanklike gunstelinge Ferrari slaag slegs daarin om vierde en vyfde te eindig. Vettel se nuwe spanmaat Charles Leclerc het opdrag gekry om nie vir Vettel te probeer verbysteek nie. In die derde posisie is dit Red Bull se Max Verstappen wat Vettel verbysteek om die laaste podium posisie te behaal. Dis Max se sesde podium in ‘n ry, en die eerste keer sedert 2008 dat ‘n motor met ‘n Honda-enjin die podium haal.

Beteken dit dat Valtteri Bottas vanjaar beter as Lewis Hamilton gaan wees? Nee! Dis heeltemal te vroeg om enige voorspelling te waag. Bottas sal wedren na wedren hierdie peil moet handhaaf indien hy vir Hamilton ‘n bedreiging sal wees.

In die Wêreld Uithou-reeks wen die Toyota TS050 Hybrid van voormalige F1 wêreldkampioen Fernando Alonso, saam met spanmaats Sebastien Buemi en Kazuki Nakajima hul derde wedren in die huidige super-reeks wat vanaf Le Mans 2018 tot Le Mans 2019 strek.

In superfiets aksie is dit Ducati se gewese MotoGP jaer Alvaro Bautista wat in Thailand oorheers, soos ook tydens die eerste byeenkoms in Australië. Vier keer kampioen, Kawasaki se Jonathan Rea, kan niks doen om die Ducati te keer nie, en eindig in al drie wedrenne tweede, met Yamaha se Alex Lowes in die derde posisie.

Op plaaslike front is dit die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse uithou reeks op Killarney. Die Campos 600 word gewen deur Nick Adcock en Michael Jensen in hul Ligier JS53 Evo Honda, slegs 4 sekondes voor die GT3 wenners Charl en Harry Arangies in hul Stradale Lamborghini Gallardo LP520 GT3 EVO.

In Mpumalanga wen Giniel de Villiers en Dennis Murphy die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse veldrenreeks in hul Toyota veldrenvoertuig. Spanmaats Henk Lategan en Brett Cummings, in die Toyota waarmee Nasser Al Attiyah die onlangse Dakar gewen het, eindig kort op hul hakke in die tweede posisie.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: