Deur Neels Rabe.

F1: Hamilton is kampioen!

Lewis Hamilton sluit by uitgelese geselskap aan (Juan Manuel Fangio en Michael Schumacher) deur slegs die derde renjaer te word om 5 wêreldkampioenskappe in te palm. Die 33-jarige Mercedes superster behaal hierdie mylpaal deur vierde te eindig in Mexico. Dis die hoogste renbaan op die kalender. Dit beteken die drukvinne op die motors is 22% minder effektief as by seevlak. Die uitstekende Adrian Newey-ontwerpte Red Bull motors is in ‘n klas van hul eie, alhoewel hul Renault enjins minder kragtig as die Ferrari en Mercedes kragbronne is. Max Verstappen wen die wedren, met die Ferraris van Vettel en Räikkönen tweede en derde.

Tydrenne: superster Loeb

Wie kan die grootheid van die 44-jarige Franse meester bevraagteken nadat hy Sondag die Cataloniese tydren wen? Loeb het 5 jaar laas aan die wêreldkampioenskap deelgeneem, maar vanjaar besluit om drie tydrenne te doen, naamlik Mexiko, Frankryk en Catalonië. Hierdie skrywer het sy bedenkinge gehad of dit so ‘n goeie idee was, maar vanuit die staanspoor bewys Loeb hoekom hy allerweë as die grootste tydrenner van alle tye beskou word, deur die “jongmanne” swaar te laat kry. Buitendien word die Citroën nie naastenby as die beste motor in die kampioenskap beskou nie. Die huidige kampioen en voormalige spanmaat van Loeb, Sébastien Ogier, eindig tweede in sy Ford.

MotoGP: Brad Binder, jou doring!

Suid-Afrika se 2016 Moto3 wêreldkampioen, Brad Binder, wen die Australise Moto2 wedren op sy KTM. Hiermee verstewig Binder sy aanspraak op derde plek in die kampioenskap.

Yamaha slaak ‘n sug van verligting

Yamaha slaag uiteindelik daarin om vir die eerste keer sedert Assen 2017 ‘n wedren te wen. Dis Maverick Vinales wat wegry vir die pak. Tweede is Andrea Iannone(Suzuki), met die ander Andrea (Dovizioso), derde op sy Ducati. Die wedren is gekenmerk deur ‘n vreesaanjaende ongeluk toe Johann Zarco teen ongeveer 230 km/h die agterwiel van Marc Marques tref en afval. Sy motorfiets beskadig Marques se Honda sodanig dat hy ook moet onttrek. Gelukkig is nie een van die jaers ernstig beseer nie.

Die Van der Lindes in Kalifornië

Kelvin Van Der Linde en sy Audi Sport Team Land spanmaats wen die Kalifornië 8-uur uithouwedren in hul Audi R8 LMS. Jonger broer Sheldon is deel van die Audi Sport Team WRT span wat 5de eindig.

%d bloggers like this: