Deur Neels Rabe. 

Die 2018 F1 seisoen is besig om in ‘n fassinerende stryd tussen Ferrari en Mercedes te ontwikkel. Alhoewel Mercedes sedert 2014 die F1 toneel oorheers, veral danksy hul kragtige V6 hibriede enjin, het Ferrari vanjaar daarin geslaag om nie net die gaping in terme van kraglewering te vernou nie, maar Mercedes selfs verby te steek. Na onlangse verbeteringe word dit nou algemeen aanvaar dat Ferrari nou die voortou in terme van enjin-krag geneem het.

Dit het dus ‘n briljante poging van Lewis Hamilton geverg om die voorste wegspringposisie te behaal. In ‘n rondte wat hy as een van sy bestes ooit beskou, kwalifiseer hy ‘n skamele 44 duisendstes van ‘n sekonde voor Sebastian Vettel. Dis ‘n duidelik meer gemotiveerde Kimi Raikkonen wat derde kwalifiseer om sodoende langs die Mercedes van Valtteri Bottas weg te trek.

Hamilton maak al sy harde werk tydens kwalifisering ongedaan deur ‘n swak wegtrek. Die Ferrari van Vettel asook spanmaat Bottas glip verby. Raikkonen steek ook die Ferrari se neus langs die Mercedes in, maar rem ongelukkig effens te laat vir die derde draai, en stamp Hamilton van die baan. Vir sy moeite ontvang Raikkonen 10 sekondes straftyd.

Die gevolg is dat Sebastian Vettel die Britse GP gemaklik wen. Mercedes het hul hoop op Valtteri Bottas geplaas deur hom nie te laat stop gedurende ‘n veiligheidsmotor-periode nie. Hy het dus die voortou by Vettel oorgeneem, maar sy ou bande sou veroorsaak dat hy teen die einde van die wedren nie meer sy posisie kon verdedig nie. Vettel, Hamilton en Raikkonen steek hom verby. Ten spyte van sy tol aan die begin van die wedren, eindig Hamilton steeds tweede. Vir Ferrari is dit egter ‘n groot oorwinning aangesien die Silverstone baan algemeen as ‘n Mercedes-vriendelik baan beskou word.

  1. Sebastian Vettel  –  Scuderia Ferrari
  2. Lewis Hamilton  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport
  3. Kimi Raikkonen FIN Scuderia Ferrari +3.652s
  4. Valtteri Bottas FIN Mercedes AMG Petronas Motorsport +8.883s
  5. Daniel Ricciardo AUS Aston Martin Red Bull Racing +9.500s

2018 F1 Kampioenskap na afloop van 8 Julie 2018

  1. Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari)  –  171
  2. Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  163
  3. Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari)  –  116
  4. Daniel Ricciardo (Aston Martin Red Bull Racing)  –  106
  5. Valtteri Bottas (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  104

Die volgende wedren is die Duitse GP op 22 Julie 2018.

%d bloggers like this: