Deur Neels Rabe 

F1-aksie keer na ‘n dekade terug na die land waar alles begin het – Frankryk! Die 2018 wedren vind egter plaas op die Paul Richard baan wat in 1990 laas ‘n Grand Prix aangebied het. By daardie geleentheid was dit die “professor”, Frankryk se eie Alain Prost wat koning gekraai het in sy Ferrari. Alhoewel Prost sy tuiswedren 6 keer gewen het, word die rekord deur Michael Schumacher gehou wat ‘n allemintige 8 Franse F1 wedrenne gewen het.

Paul Richard is uniek deurdat dit as toetsbaan met talle verskillende uitlegte (167 om presies te wees) gebruik word. Die “buitebaan” areas is ook teer, maar geverf met blou strepe wat beter greep bied as die teer. Heel buite is daar rooi strepe wat nog growwer is. Dit help ‘n buite-beheer motor baie effektief stop, ten koste van sy bande natuurlik.

Die entoesiasme onder die Franse toeskouers was so groot dat dit een van Paul Richard se swakhede blootgestel het – stadige toegang tot die baan. Vrydag het van die pers en gewone toeskouers die oefensessie heeltemal gemis a.g.v. die druk verkeer. Die Franse polisie het ook nie dinge makliker gemaak nie. Selfs Romain Grojean, een van Frankryk se eie F1 sterre, het gesukkel om die baan te bereik omdat die polisie hul min streur aan wie of wat jy is. Geen wonder die Franse word baie keer as ‘n suur spul uitgekryt nie.

Wat die wedren betref, was die groot aksie op die eerste rondte agter die man wat die voorste wegspringposisie beklee het, ‘n sekere Lewis Hamilton in ‘n silwer Mercedes. Sy spanmaat, Valtteri Bottas spring tweede weg. In die eerste draai is dit egter Sebastian Vettel wat poog om met sy Ferrari by Bottas verby te kom. Hy probeer betyds stop, sluit een van sy bande, en tref die agterkant van die Mercedes. Dit laat Bottas tol, terwyl die Ferrari se neus ook duidelik in ‘n boksgeveg was. Beide moet eers die kuipe besoek. Sy oorywerigheid kos Vettel ‘n verdere 5 sekondes straftyd.

Dit alles beteken dat Hamilton sy voorste wegspringposisie nommer 75 relatief maklik omskakel in oorwinning nommer 65 aangesien daar geen druk van agter was nie. Die vinnige draaie tesame met ‘n opgegradeerde enjin pas die aerodinamies beter Mercedes soos die spreekwoordelike renhandskoen. Daarmee neem hy weer die voortou in die kampioenskap. Vettel veg uitstekend terug om steeds vyfde te eindig, maar dis ‘n groot knou vir sy kampioenskap-droom. Hierdie twee manne veg om ‘n merkwaardige vyfde wêreldtitel agter hulle name te kan skryf. Sover lyk dit of Hamilton dit eerste gaan regkry.

  1. Lewis Hamilton  –  Mercedes AMG Petronas Motorsport
  2. Max Verstappen  –  Aston Martin Red Bull Racing
  3. Kimi Raikkonen  –  Scuderia Ferrari
  4. Daniel Ricciardo  –  Aston Martin Red Bull Racing
  5. Sebastian Vettel  –  Scuderia Ferrari
  6. Kevin Magnussen  –  Haas/Ferrari

2018 F1 Kampioenskap na afloop van 24 Junie 2018

  1. Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  145
  2. Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari)  –  131
  3. Daniel Ricciardo (Aston Martin Red Bull Racing)  –  96
  4. Valtteri Bottas (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  92
  5. Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari)  –  83
  6. Max Verstappen (Aston Martin Red Bull Racing)  –  68

Die volgende wedren is die Oostenrykse GP op 1 Julie 2018.

%d bloggers like this: