Valtteri Bottas troef spanmaat Lewis Hamilton tydens kwalifisering om sy eerste voorste wegspringposisie van 2018 te behaal. Die Mercedes-span is duidelik die motors wat in Oostenryk geklop sal moet word as enige iemand anders met die loure wil wegstap.

Ongelukkig vir arme Valtteri veroorsaak ‘n hidroliese probleem dat sy ratkas tydens die dertiende rondte die gees gee. Die gepaardgaande virtuele veiligheidsmotor gee die spanne kans om die kuipe te besoek vir nuwe bande. Mercedes begaan egter ‘n taktiese flater deur nie vir Hamilton dadelik in te bring nie. Teen die tyd dat hy klaar is met sy kuipe-stop, is hy in die vierdie posisie. ‘n Brandstofdruk probleem beteken egter ook die einde van sy wedren. Dis die eerste keer sedert die 2016 Maleisiese Grand Prix dat hy nie ‘n wedren voltooi nie.

Die man wat egter die beste na sy bande kyk sonder om tyd te verloor, is die twintigjarige Max Verstappen. Hy slaag daarin om Red Bull hul eerste tuis Grand Prix oorwinning te besorg. Dis Verstappen se vierdie oorwinning in ‘n loopbaan wat baie belofte toon. Vettel se derde plek besorg hom weer die voortou in die kampioenskap nadat Hamilton dit ‘n week vantevore van hom weggeneem het. Vir die Amerikaanse Haas span is dit hul beste Grand Prix naweek ooit met beide motors in die top vyf.

  1. Max Verstappen  –  Aston Martin Red Bull Racing
  2. Kimi Raikkonen  –  Scuderia Ferrari
  3. Sebastian Vettel  –  Scuderia Ferrari
  4. Romain Grosjean  –  Haas/Ferrari
  5. Kevin Magnussen  –  Haas/Ferrari

2018 F1 Kampioenskap na afloop van 1 Julie 2018

  1. Sebastian Vettel (Scuderia Ferrari)  –  146
  2. Lewis Hamilton (Mercedes AMG Petronas Motorsport)  –  145
  3. Kimi Raikkonen (Scuderia Ferrari)  –  101
  4. Daniel Ricciardo (Aston Martin Red Bull Racing)  –  96
  5. Max Verstappen (Aston Martin Red Bull Racing)  –  93

Die volgende wedren is die Britse GP op 8 Julie 2018.

MotoGP: Nederlandse Grand Prix – rondte 8 (1 Julie 2018)

Fenominaal, asemrowend, onbeskryflik! Byvoeglike naamwoorde ontbreek om die 2018 Assen MotoGP Grand Prix behoorlik te beskryf. Tydens verskeie rondtes is daar meer verbysteekpogings as in ‘n hele F1 Grand Prix. Dit begin met Jorge Lorenzo wat ‘n ongelooflike wegtrek vanaf die tiende posisie het om tydens die eerste rondte reeds die voortou te neem op sy Ducati. Hy word gejaag deur die Hondas van Marc Marques en Cal Crutchlow, die Yamahas van Rossi, Maverick Viñales en Johann Zarco, Lorenzo se spanmaat Andrea Dovizioso, asook die indrukwekkende Suzuki van Alex Rins.

Die pas is van so ‘n aard dat almal êrens ‘n fout begaan. Lorenzo verloor amper beheer oor sy voorwiel tydens die vyfde rondte en verminder spoed vir ‘n oomblik. Valentino Rossi jaag teen ongeveer 240 km/h in sy agterkant vas. Beide is gelukkig dat hulle nie val nie. Rins en Marques bots in die vyfde draai en Marques val amper. Teen die einde van die wedren is die voorste 15 motorfietse slegs 16 sekondes uitmekaar – die naaste ooit in 70 jaar van Grand Prix motorfiets wedrenne!

Dis egter Marc Marques wat teen die einde van die wedren daarin slaag om die honger pak honde agter hom effens af te skud sodat hy sy laaste rondte met ‘n 1.4 sekonde voortou kan begin. Hy vergroot sy kampioenskapvoorsprong tot 41 punte en ewenaar Casey Stoner se 69 podium posisies in die MotoGP era. Op die laaste rondte gryp Alex Rins die geleentheid aan om aan Maverick Viñales se binnekant verby te skuur vir ‘n welverdiende tweede plek.

Assen uitslag 2018

  1. Marc Marquez  –  Repsol Honda (RC213V)
  2. Alex Rins  –  Suzuki Ecstar (GSX-RR)
  3. Maverick Viñales  –  Movistar Yamaha (YZR-M1
  4. Andrea Dovizioso  –  Ducati Team (GP18)
  5. Valentino Rossi  –  Movistar Yamaha (YZR-M1)

Kampioenskappunte na 1 Julie 2018

  1. Marc Marquez (Repsol Honda RC213V) – 140
  2. Valentino Rossi (Movistar Yamaha YZR-M1) – 99
  3. Maverick Viñales (Movistar Yamaha YZR-M1) – 93
  4. Johann Zarco (Monster Yamaha Tech3 YZR-M1) – 81
  5. Andrea Dovizioso (Ducati Team (GP18) – 79

Die volgende wedren is die Duitse GP op 15 Julie 2018.

 

Wêreld Kruisrenkampioenskap rondte 6 – Swede (30 Junie 9-1 Junie 2018)

Gaan enige iemand Johan Kristoffersson (Volkswagen Polo R) kan stop? Hy behaal sy vyfde oorwinning van die 2018 seisoen in sy tuisbyeenkoms. Die enigste ander wenner sover, Sébastien Loeb (Peugeot 208), het vir die tweede agtereenvolgende rondte ‘n misrabele byeenkoms. Sy motor word beskadig in die derde kwalifiserende rondte en hy stel ‘n swak tyd op. Alhoewel hy steeds vir die semi-finaal kwalifiseer, moet hy in die agterste ry wegspring. Hy kwalifiseer dus nie vir die finaal nie.

Die man wat deesdae die mantel van “Kruisrenne se stout seun” dra, is Mattias Ekström (Audi S1). Vroeër vanjaar is hy al gestraf toe hy Petter Solberg van die baan gestamp het. In die finaal in Swede is dit Timmy Hansen (Peugeot 208) wat briljant jaag om die laaste rondte in die tweede plek te begin. Andreas Bakkerud (Audi S1) tik hom egter liggies sodat hy effe wyd gaan, en glip verby. Op die laaste draai is dit egter Ekström wat Hansen hardhandig uit die pad stamp. Timmy se wedren eindig in die dik sand aan die kant van die baan, terwyl Ekström derde eindig. Dit was egter van korte duur. Die beamptes straf Ekström en hy word as sesde geklassifiseer. Dit help arme Timmy nie veel nie omdat hy na regte op die podium behoort te gewees het. Die Fransman Jérôme Grosset-Janin in sy Prodrive geboude Renault Mégane RS kla egter geensins nie. Hy “erf” derde plek in sy debuut seisoen in die wêreldkampioenskap.

  1. Johan Kristoffersson (Volkswagen Polo R)
  2. Andreas Bakkerud (Audi S1)
  3. Jérôme Grosset-Janin (Renault Mégane RS)
  4. Timmy Hansen (Peugeot 208)
  5. Kevin Hansen (Peugeot 208)
  6. Mattias Ekström (Audi S1)

2018 Kampioenskap na afloop van 10 Junie 2018

  1. Johan Kristoffersson (Volkswagen Polo R)  –  165
  2. Andreas Bakkerud (Audi S1)  –  125
  3. Petter Solberg (Volkswagen Polo R)-  119
  4. Sébastien Loeb (Peugeot 208)  –  117
  5. Timmy Hansen (Peugeot 208)  –  116

Die volgende rondte is 4 – 5 Augustus in Kanada.

%d bloggers like this: