Deur Neels Rabe.

Jorge Lorenzo het sy debuut Ducati oorwinning op Mugello in Italië behaal. Die vraag op almal se lippe met die aanbreek van die Spaanse Motorfiets Grand Prix op die Catalunya renbaan was of hy weer sal kan wen?

Hy bewys op Catalunya dat dit inderdaad die geval is, deur op tipiese Lorenzo-wyse die Grand Prix te oorheers. Sy resep? Neem die voortou tydens die eerste rondte en behou dan ‘n geweldige hoë wedrenpas, sodat die ander deelnemers geleidelik uitsak. Noudat hy en die Ducati mekaar begin verstaan, is daar selfs ‘n buitekans dat Lorenzo homself in ‘n posisie kan inry om vir die kampioenskap in aanmerking te kom.

Jorge Lorenzo op sy 2018 Ducatti.

Marc Marquez het hard probeer om sy Repsol Honda binne trefafstand te hou, met Lorenzo se spanmaat Andrea Divizioso in die derde plek. Dovi verloor beheer oor die voorwiel op die negende rondte en val. Dis ‘n baie groot slag vir sy posisie in die kampioenskap. Marquez het nie veel van ‘n keuse nie en moet tevrede wees met tweede plek. Die ou Yamaha stryder Valentino Rossi skuif op in die derde posisie na Dovizioso se val, en behou sodoende sy uitstekende tweede plek in die kampioenskap.

Marc Marquez maak weer opskudding tydens die oefenrondtes toe die Honda onder hom uitgly, maar hy die motorfiets op sy knie en elmboog in die lug hou. Vir ‘n oomblik kry die bande weer greep, maar amper gly die motorfiets weer onder hom uit. Vir ‘n tweede keer “dra” hy die Honda op sy regterknie, en wonder bo wonder slag hy daarin om nie te val nie. Dit laat Cal Crutchlow die aanmerking maak dat Marc hulle gewone jaers soos “idiote” laat lyk.

Catalunya uitslag 2018

1  Jorge Lorenzo  –  Ducati Team (GP18)

2  Marc Marquez  –  Repsol Honda (RC213V)

3  Valentino Rossi  –  Movistar Yamaha (YZR-M1)

4  Cal Crutchlow  –  LCR Honda (RC213V)

5  Dani Pedrosa  –  Repsol Honda (RC213V)

Kampioenskappunte na 17 Junie 2018

1  Marc Marquez (Repsol Honda RC213V) – 115
2  Valentino Rossi (Movistar Yamaha YZR-M1) – 88
3  Maverick Viñales (Movistar Yamaha YZR-M1) – 77
4  Johann Zarco (Monster Yamaha Tech3 YZR-M1) – 73

5  Danilo Petrucci (Pramac Ducati GP18) – 66

Die volgende wedren is die Nederlandse GP op 1 Julie 2018.

%d bloggers like this: