Deur Neels Rabe.

Jorge Lorenzo van die ESP Ducati-span het die Italiaanse Motorfiets Grand Prix gewen.

MotoGP: Italiaanse Grand Prix – rondte 6 (3 Junie 2018)

Die Italiaanse entoesiaste se onwaarskynlike droom word bewaarheid toe die 39-jarige Valentino Rossi sy vyf-en-sestigste voorste wegspringposisie behaal, sy eerste sedert Motegi in 2016. Hy ewenaar die man in die tweede posisie se rekord, Jorge Lorenzo. Lorenzo wat sedert 2017 vir Ducati jaag, kon tot dusver nog nie daarin slaag om een oorwinning te behaal nie, maar veranderinge aan die Ducati se petroltenk beteken dat hy meer ondersteuning geniet wanneer hy baie hard moet rem. Jorge was lanklaas so optimisties, alhoewel alles daarop dui dat hierdie sy laaste seisoen op die Ducati gaan wees.

Wêreldkampioen Marc Marques val amper twee keer in die finale kwalifiserende sessie en trek in die tweede ry weg.

Met die wegtrek is dit 5 x wêreldkampioen Lorenzo wat blits-vinnig die voortou neem. In sy Yamaha dae was hy daarvoor bekend dat as hy eers voor is, hy ‘n ongelooflike wedrenpas kon volhou. Vir die eerste keer in sy Ducati loopbaan is die ou Lorenzo terug en behaal hy oorwinning nommer 45, sy debuut-wen op die Ducati. Dis die eerste keer sedert Valencia 2016 dat Lorenzo weer breed kan glimlag. Hy word slegs die sesde jaer sedert Ducati se toetrede in 2003 om ‘n wedren te kan wen. Die ander is Casy Stoner (23), Andrea Dovizioso (9), Loris Capirossi (7), Troy Bayliss (1) en Andrea Ianonne (1).

Michele Pirro se val in die eerste rondte.

Rossi het nie ‘n antwoord gehad vir die Ducatis nie, maar eindig steeds op die podium in derde plek. Marc Marques het ongelukkig vroeg reeds geval.

MotoGP Mugello 2018 uitslag

1  Jorge Lorenzo ESP Ducati Team (GP18)

2  Andrea Dovizioso ITA Ducati Team (GP18)

3  Valentino Rossi ITA Movistar Yamaha (YZR-M1)

4  Andrea Iannone ITA Suzuki Ecstar (GSX-RR)

5  Alex Rins ESP Suzuki Ecstar (GSX-RR)

 

Kampioenskap punte na 3 Junie 2018

1  Marc Marquez (Repsol Honda RC213V) 95
2  Valentino Rossi (Movistar Yamaha YZR-M1) 72
3  Maverick Viñales (Movistar Yamaha YZR-M1) 67
4  Andrea Dovizioso (Ducati Team GP18) 66
5  Johann Zarco (Monster Yamaha Tech3 YZR-M1) 64

Volgende MotoGP-wedren is Catalunya 17 Junie

 

Vanuit ‘n Suid-Afrikaanse oogpunt was dit ‘n redelike naweek. In Moto2 eindig Brad Binder sesde op sy Red Bull KTM, terwyl Steven Odendaal (NTS RW Racing) vyftiende eindig. In Moto3 eindig Darryn Binder (Red Bull KTM) dertiende.

%d bloggers like this: