Honda se Groot Dag.

Deur Neels Rabe

Op Sondag, 30 Junie, het Honda gewys waartoe hulle ingenieursvernuf op internasionale motorsport in staat is. Neels Rabe vertel.

MotoGP

Maverick Viñales op sy Yamaha is die wenner van die 2019 Nederlandse MotoGP, wat op die Assen-renbaan gehou is. Dit is Maverick Viñales en Yamaha se eerste oorwinning sedert Australië 2018. Die groot verloorder is Suzuki se Alex Rins wat aanvanklik voorgeloop het, maar toe ‘n fout begaan en val. Daarna het die 20-jarige Fabio Quartararo op die Petronas Yamaha ook vir ‘n rukkie die voorste posisie beklee, maar kon nie die pas volhou nie. Viñales het ‘n paar keer foute gemaak wat Honda nommer 93 se Marc Marquez laat verby gekom het. Viñale veg elke keer terug om uiteindelik gemaklik te wen. Vir Marquez is dit sy dertiende agtereenvolgende top 2 resultaat en hy en Honda bly steeds die voorlopers op die algehele puntelys. Fabio Quartararo eindig derde. Marquez verstewig sy posisie bo-aan die punteleer deurdat naaste teenstander, Ducati se Andrea Dovizioso slegs vierde kan eindig. Vir die vyfde keer hierdie seisoen is dit Maverick Viñales se beroemde spanmaat Valentino Rossi wat nie die wedren voltooi nie nadat hy met Takaaki Nakagami bots.

Moto2

In Moto2 is dit Suid-Afrikaner Brad Binder wat ‘n uitstekende tweede posisie behaal op sy KTM. Sedert die begin van die seisoen, met oorskakeling na die drie-silinder Triumph enjins, sukkel KTM om hul motorfiets kompeterend te maak. Hierdie podium posisie is dus ‘n aanduiding dat die ontwikkelingswerk besig is om vrugte af te werp.

F1

Max Verstappen, wat vir die Aston Martin Red Bull Racing-span in ‘n motor wat die Honda RA619H kragbron gebruik, jaag, het die Oostenrykse Grand Prix gewen.

Vir die eerste keer in 2019 is dit nie ‘n Mercedes wat ‘n Grand Prix wen nie! In Oostenryk, op die Red Bull ring, is dit Max Verstappen in ‘n Aston Martin Red Bull wat met die Honda RA619H Formule 1-enjin toegerus, is, wat ‘n welverdiende oorwinning behaal op die span se tuisbaan. Te oordeel aan die see van oranje langs die baan, was die helfte van Nederland ook in Oostenryk om die jong Verstappen te ondersteun. Vir die grootste deel van die wedren het dit gelyk of Ferrari se Charles Leclerc, wat voor weggetrek het, die GP sou wen. Verstappen het weens ‘n swak wegtrek afgeskuif vyfde plek toe. Teen die einde van die wedren is sy bande in ‘n beter toestand as sy teenstanders s’n. Met drie rondes oor slaag hy daarin om Leclerc se Ferrari verby te steek vir die eerste posisie, net om dit bykans onmiddelik weer te moet afstaan. Op die voorlaaste ronde steek hy weer die Red Bull se neus aan die binnekant van die Ferrari in, en druk Leclerc wyd. Daar is die onvermydelike kontak tussen die motors, met beide manne wat per radio laat weet dat dit die ander een se skuld is. Die beamptes kyk weer na die insident, maar besluit genadiglik om geen stappe teen Verstappen te neem nie. Ferrari is met reg natuurlik nie tevrede met hulle beslissing nie, omdat Vettel reeds ‘n oorwinning moes inboet in Kanada toe hy Hamilton per ongeluk wyd gedruk het. Te veel inmenging van die beamptes is verseker nie ‘n goeie ding nie.

Valtteri Bottas het ‘n stil wedren in die derde posisie. Die ander Ferrari van Sebastian Vettel steek Lewis Hamilton se Mercedes verby om vierde klaar te maak.

Die volgende wedren is die Britse Grand Prix op Silverstone. Gaan enige iemand Lewis Hamilton in sy tuiswedren kan klop? Dis te betwyfel…

ReplyForward
%d bloggers like this: