Motorsportverslag oor week 34

0 Comments

Deur

Neels Rabe

Terugblik op die naweek van 17 en 18 Augustus
Motorsportnuus week 34

 

Op internasionale motorsport-vlak was dit ‘n stil naweek. In Amerika was dit egter die legendariese adrenalien-vraat Travis Pastrana wat sy jaarlikse Nitro World Games aangebied het. Alles wat in Amerika aangebied word, is mos wêreldkampioenskappe, alhoewel dit net daar plaasvind. Die hoogtepunt van hierdie byeenkoms, is die rallycross. Laasjaar was dit Timmy Hansen wat die finaal gewen het.

Die Hansen broers was terug om te kyk of een van hulle weer die titel kon opraap voor die Amerikaners. Die baan wat Pastrana ontwerp het, sal waarskynlik nooit deur die FIA goedgekeur word nie. Daar is ‘n tipiese sprong soos wat ook op Killarney se rallycross baan is. Onderdeur hierdie sprong is ‘n tonnel vir die “joker”-ronde. Die opwindende gedeelte is egter die feit dat bo-oor hierdie sprong en tonnel nóg ‘n 30m sprong is met niks in die middel nie! As jy te stadig sou wees, spring jy teen die landingstrook vas. Geen FIA-beampte sal hierdie as veilig genoeg beskou nie! Tydens kwalifisering spring voormalige F1 jaer Scott Speed te ver oor een van die ander spronge, land baie hard in sy Subaru, en kraak drie rugwerwels.

Die finaal is tussen drie baie bekende Amerikaners: Ken Block (Ford Fiesta), Travis Pastrana (Subaru) en Tanner Foust (VW Beetle), versus Swede se Hansen broers (Peugeot) en Patrick Sandell (Subaru). Kevin Hansen wen, met Sandell tweede en Timmy Hansen derde. Die voorste 3 posisies behoort dus aan Swede met die Amerikaners druipstert in die agterste posisies. Kyk bietjie na hierdie video oor die Nitro Games RallyCross.

In die werklike FIA RallyCross-wêreldkampioenskap, is Kevin Hansen (Peugeot) die voorloper na 7 byeenkomste  met een oorwinning. Tweede lê Andreas Bakkerud (Audi) wat die laaste byeenkoms in Kanada gewen het. Die enigste man wat tot dusver twee byeenkomste kon wen, Timmy Hansen (Peugeot), is tans derde. Vanjaar se kampioenskap stuur af op ‘n hoogtepunt met die laaste byeenkoms op ons eie Killarney-renbaan in November.

Op die Nürburgring is dit Suid-Afrika se Kelvin Van Der Linde, tesame met spanmaat Patric Niederhauser, wat derde eindig in beide wedrenne van die ADAC GT Masters reeks in hul Audi R8. Dit beteken hul behou hul voorsprong in die kampioenskap. Daar is nog net twee byeenkomste en vier wedrenne oor voor die einde van die seisoen.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: