Breaking News

Motorsportverslag: Skof 9 van Dakar 2019 behoort aan Toyota Hilux.

Deur Gerrie Smit.

Skof 9 (Woensdag 16 Januarie), die tweede laaste skof in die Dakar 2019, was baie goedhartig vir die Suid-Afrikaanse Toyota Gazoo Racing SA renspan, maar baie onsimpatiek met hulle hoof kompeteerders. Toyota Gazoo Racing SA se Nasser Al Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel, het die skof in hulle Suid-Afrikaanse geboude Toyota Hilux-renvoertuig gewen. Giniel De Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, wat vir dieselfde span deelneem, was derde by die eindpunt – 02:17 agter MINI-jaer Nani Roma wat tweede gekom het.

Stéphane Peterhansel, moes  noodgedwonge aan die ren onttrek nadat sy navigator, David Castera, sy rug beseer het toe hul MINI ná ’n groot sprong hard te lande gekom het.

Sebastien Loeb (Peugeot), wat die laaste drie skofte op die aanval was, het hope tyd verloor nadat hy vroeg in die skof vasgeval het. Hy het later nog tyd verloor toe hy aan sy motor moes werk, maar het uiteindelik daarin geslaag om die skof te voltooi – net langer as ’n uur agter Al Attiyah. Dit het hom tot derde algeheel laat terugsak, wat die MINI-jaer Nani Roma tot tweede verhef het.

Terselfdertyd het die MINI-jaer Cyril Despres en sy navigator, Jean-Paul Cottret, hul motor in die duine gerol, wat die renvolgorde in die middel van die pak verder geskommel het.

En om sake nog interessanter te maak, het die 2018-kampioen, Carlos Sainz (MINI), nié weggespring nie nadat sy motor se ratkas die gees gegee het.

Die voorlaaste skof het uiteindelik perfek vir ons uitgewerk,” het Glyn Hall, hoof van die Toyota Gazoo Racing SA renspan, gesê nadat al twee sy Hilux-jaers veilig by die oornaghalte in Pisco aangekom het. “Nasser en Giniel het by ons wedren-plan gebly en presies gedoen wat ons nodig gehad het – al twee motors by die eindpunt sonder enige probleme, ’n gesonde voorsprong en nog net een skof oor.”

“Ons het vandag ’n baie skoon skof beleef,” het Al Attiyah gesê nadat hy die tentkamp by Pisco gehaal het. “Dit was vir my ‘n groot troos om te weet dat Giniel en Dirk ons nou volg. Soos ons vandag gesien het, kan enigiets op die Dakar gebeur.”

Dit het Al Attiyah/Baumel se aantal wenskofte vir die 2019-Dakar op drie te staan gebring, en plaas die Toyota Gazoo Racing SA-span vir die heel laaste skof los voor met ’n voorsprong van 51:27 teenoor die MINI-jaers Nani Roma en Alex Haro. Loeb / Elena is nou in die derde plek – meer as twee uur agter Al Attiyah.

“Dit is moeilik om nou op enigiets anders as Nasser en Mathieu aan die voorpunt van die ren met nog een skof oor te fokus,” het Hall gesê.

“Die werklikheid is egter dat ons nou vier Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux-renmotors onder die top-10 het, onder wie Giniel wat nou tot agtste opgeskuif het.”

Die ander twee Toyota Hilux-jaers is Ronan Chabot en Gilles Pillot (#319) in die negende plek terwyl Benediktas Vanagas en Sebastian Rozwadowski (#330) die tiende plek beklee.

Noudat Skof 9 agter die rug is, bly nog net die relatiewe kort Skof 9 van 112 km in die 2019-Dakar-ren oor. Die laaste skof begin en eindig by die tentkamp by Pisco. Die deelnemers sal in die omgekeerde volgorde jaag, met die agterjaers wat eerste wegspring voordat die voorjaers die woestynsand die laaste keer aandurf. Sodra die skof afgehandel is, ry die oorblywende deelnemers op die ooppadgedeelte terug na Lima, die hoofstad van Peru, waar die motors in die hougebied sal parkeer totdat die wenverhoogseremonie later die dag gehou word.

“Maar moenie dat dié kort skof jou mislei nie,” het Hall gewaarsku. “Ons het vandag gesien hoe wisselvallig die Dakar kan wees, dus hou ons die asem op totdat die Hilux veilig by die eindpunt van die skof is. Op daardie noot – ons doen alles wat ons kan om seker te maak dat Nasser en Giniel se motors so goed as moontlik vir die laaste skof voorberei is. Buiten dit is al waarvoor ons kan hoop dat hulle sonder enige groot probleme anderkant uitkom.”

SKOF 9-UITSLAG:

  1. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA)               
  2. Roma / Haro (MINI)                                       +04:58
  3. De Villiers / Von Zitzewitz (TOYOTA)         +07:15
  4. Przygonski / Colsoul (MINI)                          +14:01
  5. Vanagas / Rozwadowski (TOYOTA)             +15:45
  6. Prokop / Tomanek (Ford)                              +32:59
  7. Al Rajhi / Gottschalk (MINI)                          +33:25
  8. Despres / Cottret (MINI)                               +39:46
  9. Van Loon / Scholtalbers (TOYOTA)              +45:56
  10. Krotov / Tsyro (MINI)                                     +46:42

 

ALGEHELE POSISIES NÁ SKOF 9:

  1. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA)
  2. Roma / Haro (MINI)                                      +51:27
  3. Loeb / Elena (Peugeot)                                +02:02:37
  4. Przygonski / Colsoul (MINI)                         +02:33:51
  5. Despres / Cottret (MINI)                               +02:55:13
  6. Prokop / Tomanek (Ford)                             +03:29:06
  7. Al Rajhi / Gottschalk (MINI)                         +04:28:22
  8. De Villiers / Von Zitzewitz (TOYOTA)       +07:08:16
  9. Chabot / Pillot (TOYOTA)                           +08:11:46
  10. Vanagaz / Rozwadowski (TOYOTA)           +08:15:26

 

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Toyota geniet ’n gesamentlike voordelige vennootskap met Eurol, Toyota Finansiële Dienste en die Innovation-grep sowel as Hallspeed, Imperial Toyota, SKF, Spanjaard, OMP, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, 3M, Bandit Signs, Shatterprufe, Supreme Springs, Smith’s Manufacturing, TRD, Peritus Forex, First National Battery, SAA Cargo, STR8-LIGN, Duxbury Netgear, Lumotech en
Plan-C Productions.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: