Motorsportverslag: Terugvoering van Skof 7, Dakar 2019.

0 Comments

Toyota Hilux gebou in Suid-Afrika loop voor.

• Toyota Gazoo Racing SA-Hilux 4de in Skof 7 vir Al Attiyah/Baumel
• Toyota Gazoo Racing SA-Hilux in Skof 7 vir De Villiers/Von Zitzewitz
• Toyota Gazoo Racing SA-Hilux in Skof 7 vir Ten Brinke/Panseri
Die 323 km lange sewende skof van die wêreld se strafste motorren, die Dakar-veldtydren, het die belofte ingehou dat dit die moeilikste van die 2019-weergawe sou wees – en Skof 7 het nie teleurgestel nie.
Die MINI-jaer Stéphane Peterhansel (Frankryk) het Skof 7 gewen en sodoende die gaping tussen die MINI en die algehele huidige voorloper van Dakar 2019 die Toyota Hilix van die  Toyota Gazoo Racing SA-span bestuur deur Nasser Al Attiyah met 11 min 58 sekondes verklein.

Nasser Al Attiyah

Nasser Al Attiyah is ten spyte van die Franse jaer se oorwinning in Skof 7 nog steeds algeheel los voor en het ’n voorsprong van 29:16 teenoor Peterhansel.
Nani Roma van Spanje, wat ook in ’n MINI jaag, is derde en 37:59 agter Nasser Al Attiyah.
Sebastien Loeb, wat die afgelope drie skofte vorentoe gebeur het, het egter heelwat tyd weens elektriese probleme met sy Peugeot verloor en het as gevolg daarvan tot vierde teruggesak.
“Dit was ’n baie moeilike een vandag,” het Nasser Al Attiyah gesê nadat hy Skof 7 voltooi het. “Ons het die dag as die tweede motor op die pad begin, maar toe het Sebastien Loeb vroeg tyd verloor en ons moes vir die grootste deel van die skof heel voor jaag.”
Dit het die MINI-brigade in staat gestel om die Toyota Hilux halfpad deur die skof in te haal, en Nasser Al Attiyah was van plan om hulle deur die duingedeelte te volg om hom met sy navigasiewerk te help.
“Maar toe steek die wind op, wat dit bykans onmoontlik gemaak het om in die fesh-fesh (poeierstof) te sien wat aangaan, en ons het as gevolg daarvan ’n tyd naby die einde van die skof verloor,” het dié Katarese jaer gesê. “Ons is nogtans algeheel los voor en ek durf die laaste drie skofte eerder aan met ’n voorsprong van dertig minute as met ’n agterstand van 30 minute.”
Skof 7 was ook ’n goeie skof vir Giniel de Villiers en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz. Die 2009-wenners het die sesde vinnigste tyd vir die dag opgestel ten spyte van die feit dat hulle ook tyd in die duine weens die swak sig verloor het. Hulle is nou in ’n perfekte posisie om Nasser Al Attiyah, wat die vierde vinnigste in Skof 7 was, te ondersteun.
“Ons wegspring-posisie vir Skof 8 plaas ons twee motors agter Nasser – net ses minute op die stophorlosie. As Nasser dus enige probleme opdoen, wat ons werklik hoop nié gebeur nie, sal ons gou daar wees om ons spanmaat te ondersteun,” het De Villiers by die tentkamp by San Juan de Marcona gesê. “Op daardie noot is more (Dinsdag 15 Januarie) se wegspring-volgorde effens verwarrend, maar ons sal nogtans nie so ver agter Nasser en Mathieu op die pad wees nie.”
Skof 8 gebruik ’n gemengde wegspring met die top-10 motors, die top-10 motorfietse en die top-5 vragmotors wat ingevolge hul uitslagposisies wat hulle in Skof 7 opgestel het, wegtrek. Dit beteken dat die skofwenner, Stéphane Peterhansel, ’n aantal motorfietse voor en agter hom sal hê.
“Aan die een kant kan dit Stéphane help aangesien die motorfietse gewis vinniger in die duine sal wees, en hulle sal spore agterlaat wat die MINI kan help,” het Glyn Hall, die Toyota Gazoo Racing SA-spanhoof, verduideik. “Stéphane sal egter terselfdertyd besef dat hy so hard as moontlik sal moet jaag as hy nog enigsins ’n kans wil hê om Nasser in te haal, en met die stof van die motorfietse wat sy sig kan belemmer, kan dit sy kanse bederf.”
Die span se Nederlandse jaer, Bernhard ten Brinke, en sy Franse navigator, Xavier Panseri, het ook met ’n sterk vertoning in Skof 7 van die 2019-Dakar vorendag gekom. Hulle het aanvanklik sterk begin, maar tyd verloor toe hulle in ’n sloot beland het wat nie duidelik in die roetegids gemerk was nie. Hulle moes die hidroliese domkragte in hul Toyota Hilux gebruik om die motor op te lig, maar weens die vorm van die sloot moes hulle van die spaarwiele onder die domkrag gebruik om dit hoog genoeg te kry.  “Dit was nogal ’n avontuur in die kleine,” het Ten Brinke gesê nadat hy by die eindpunt van die skof aangekom het. “Dit het ons ongelukkig sowat vyf of ses minute gekos, en dit op ’n dag dat ons van die vyf vinnigste tye in die skof opgestel het.”  Hulle het uiteindelik die negende vinnigste tyd vir die dag opgestel – 25:45 agter die skofwenner (Peterhansel).
“Hul algehele tyd is nie eintlik deur hul vertoning van vandag verander nie – hulle is steeds in die negende plek algeheel,” het Hall gesê. “Die belangrike ding is dat hulle binne trefafstand is om Nasser en Mathieu te help as dit nodig sou wees, en die feit dat hulle more in die negende posisie wegspring, kan net voordelig vir die span wees.”
Skof 8 neem die deelnemers terug na die gebied om Pisco, aan die kus aan die Stille Oseaan, met ’n skof van 360 km en ’n ooppad gedeelte van 215 km.
Soos met elke skof tot dusver sluit die roete duine en sand in met ’n paar  droë rivierbeddings tussenin.
“Nasser het vandag 1 590 keer ratte gewissel in die vier uur 11 minute en 58 sekondes wat hulle gejaag het. Dit help om dinge in perspektief te plaas. Ons algehele jaagtyd tot dusver is 25:13:30 – nie ver agter die algehele tyd van die 2017-Dakar nie,” het Hall gesê. “Die 2019-Dakar is dus duidelik nie kinderspeletjies nie. Hierdie is ’n moordende ren in elke sin van die woord. En op die oomblik is ons voor…”
Die 2019-Dakar het nog drie skofte oor, en besoek die dorpie Pisco vir twee dae voordat die roete noordwaarts na Lima strek waar die ren Donderdag 17 Januarie eindig.”
Skof 7-uitslag:
1.Peterhansel / Castera (MINI)
2. Roma / Haro (MINI)                                +04:33
3. Sainz / Cruz (MINI)                                 +09:28
4. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA)               +11:58
5. Despres / Cottret (MINI)                         +12:50
6. De Villiers / Von Zitzewitz (TOYOTA)     +16:31
7. Przygonski / Colsoul (MINI)                   +20:50
8. Han / Liao (duinebesie)                          +25:16
9. Ten Brinke / Panseri (TOYOTA)             +25:45
10. Prokop / Tomanek (Ford)                     +26:29
Algehele posisies na afloop van Skof 7:
1. Al Attiyah / Baumel (TOYOTA)
2. Peterhansel / Castera (MINI)                 +29:16
3. Roma / Haro (MINI)                               +37:59
4. Loeb / Elena (Peugeot)                         +54:12
5. Despres / Cottret (MINI)                        +01:20:01
6. Przygonski / Colsoul (MINI)                   +02:12:02
7. Prokop / Tomanek (Ford)                       +02:34:58
8. Al Rajhi / Gottschalk (MINI)                   +03:39:33
9. Ten Brinke / Panseri (TOYOTA)            +04:32:31
10. Sainz / Cruz (MINI)                              +05:15:31
13. De Villiers / Von Zitzewitz (TOYOTA)  +06:52:33
Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:
Toyota geniet ’n gesamentlike voordelige vennootskap met Eurol, Toyota Finansiële Dienste en die Innovation-grep sowel as Hallspeed, Imperial Toyota, SKF, Spanjaard, OMP, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, 3M, Bandit Signs, Shatterprufe, Supreme Springs, Smith’s Manufacturing, TRD, Peritus Forex, First National Battery, SAA Cargo, STR8-LIGN, Duxbury Netgear, Lumotech en Plan-C Productions.
Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: