Deur Neels Rabe.

DTM, Hochenheim, Duitsland

Suid-Afrikaners Sheldon van Der Linde (BMW) en Jonathan Aberdeen (Audi) het Saterdag 4 Mei hul debuut in die Duitse Toermotor (DTM) -reeks op die Hochenheim-renbaan in Duitsland gemaak.

Sheldon Van Der Linde ( RSA, BMW Span RMG ) en Jonathan Aberdein (RSA, Audi, W Renspan).

Van Der Linde word die eerste Suid-Afrikaner om punte in DTM aan te teken  deur in nat omstandighede ‘n uitstekende sesde posisie te behaal. Dinge het egter nie so goed vir Jonathan Aberdeen verloop nie. Hy was die enigste jaer wat tydens die kuipe-stop gladde bande opgesit het. Ongelukkig het die weersomstandighede nie genoegsaam verbeter dat sy droë-weer bande hom kon help nie.

In Sondag se tweede DTM-wedren eindig Aberdeen egter twaalfde en Van Der Linde slegs veertiende.

 

MotoGP, Jerez, Spanje

Fabio Quartararo

Die MotoGP-wedren op Sondag, 5 Mei, op die Jerez -renbaan in Spanje, skop af met Fabio Quartararo wat kampioen Marc Marquez se rekord breek as die jongste jaer om ‘n voorste wegspringposisie te behaal. Slegs twee weke nadat  Fabio Quartararo 21 op 20 April geword het, bring hy groot vreugde vir die splinternuwe Petronas Yamaha-span deur eerste te kwalifiseer. Spanmaat Franco Morbidelli spring langs hom weg, met Marc Marquez op sy Honda ook op die voorste ry. Dis egter Marquez wat dadelik die voortou neem, en eenvoudig wegry vir die ander manne. Arme Quartararo was gemaklik in tweede posisie, op pad om sy eerste MotoGP podium te behaal toe hy meganiese probleme optel en onttrek. Dit beteken dat die wenner in Amerika, Suzuki se Alex Rins¸ tweede kom nadat hy slegs negende kwalifiseer. Maverick Vinales is uiteindelik terug op die podium, derde op sy Yamaha.

Valentino Rossi kwalifiseer in slegs die dertiende posisie, maar jaag uitstekend om uiteindelik sesde klaar te maak.

In Moto2 eindig Suid-Afrika se Brad Binder vyfde op sy KTM. In Moto2 gebruik almal dieselfde enjin. Vanjaar is oorgeskakel na die nuwe Triumph drie-silinder 765 cc. Dit vervang die Honda 600 cc, maar dit beteken die motorfietse moes herontwerp word vir die nuwe enjin. Dis dan ook die rede hoekom Brad sukkel, omdat die KTM nog nie so mededingend soos laasjaar se motorfiets is nie.

Simola Heuwelren – Knysna – 3 tot 5 Mei – Knysna, Suid-Afrika

Franco Scribante by sy Chevron.

Franco Scribante, wat gewoonlik die Vrydagwedren vir klassieke motors oorheers in sy Chevron, wen ook die gesogte Koning van die Heuwel titel in sy 2016 Nissan GT-R.

Franco Scribante se Nissan GTR. (Foto: Waldo van der Waal)

Na berig word het Franco 1200 kW tot sy beskikking in hierdie monster wat spesiaal vir Simola gebou is! Wilhelm Baard eindig tweede in nog ‘n Nissan GTR, met Franco di Matteo derde in ‘n Jaguar V8.

%d bloggers like this: